Welkom by SA Vryskutskrywer - Skryfmekka
Redakteurs en tydskrifte kom en gaan gereeld. 'n Afdeling waar veral vryskutjoernaliste hulle van die stand van die media kan vergewis is noodsaaklik. Ons probeer dus om die bedryfsnuus-inligting so dikwels moontlik by te werk om jou deurentyd ingelig te hou.
Klik net op die skakel om na die volledige berig of persverklaring herlei te word, indien van toepassing.
Kontak ons met enige bedryfsnuus.
Taco Kuiper-wenners: Pieter-Louis Myburgh en Pauli van Wyk
Die Taco Kuiper-toekenning vir ondersoekende verslaggewing, nou in sy 14de jaar, is die grootste en mees gesogte joernalistieke toekenning in Suid-Afrika. Vanjaar se wenner, Pieter-Louis Myburgh het die topprys gewen vir sy topverkoperboek, Gangster State, wat die twyfelagtige nalatenskap van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, ontbloot het. Pauli van Wyk van Daily Maverick / Scorpio was die naaswenner vir haar kragtige uiteensetting van hoe die Economic Freedom Forum (EFF) baat gevind het by die VBS-bankskandaal.
Lees meer...Associated Media Publishing sluit sy deure
Associated Media Publishing, die uitgewer van Cosmopolitan, House & Leisure, Good Housekeeping and Women on Wheels, sluit op Vrydag 1 Mei sy deure permanent vanweë die "verwoestende" impak van Covid-19, wat daartoe gelei het dat drukwerk en verspreidingskanale gesluit is. Lees meer...
Nuusflits oor die toekoms van nuus
Verandering en aanpassing gaan die nuwe konstante wees vir die medialandskap van die toekoms. Inligting gaan al hoe minder gedruk word, en meer op aanlyn platforms en sosiale media gedeel word, waar dit met propaganda en fopnuus sal moet meeding. Dit sal ál meer die leser se verantwoordelikheid wees om te bepaal watter nuusbronne betroubaar is en watter nie. Só voorspel Glenda Daniels, medeprofessor in die departement mediastudies aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Lees meer...Caxton staak tydskrifpublikasie
Die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie het nóg slagoffers geëis. Die Caxton-groep het vandeesweek aangekondig hy onttrek hom aan tydskrifpublikasie en alle verwante bedrywighede. Dit beteken tydskrifte soos Rooi Rose, Vrouekeur, Woman & Home, Your Family, Bona, Country Life, Essentials en Food & Home sal voortaan nie meer verskyn nie.
Lees meer...Wêreldboeke-en-kopieregdag: Uitgewersbedryf, regskenners laat hul stemme hoor
Wêreldboeke-en-kopieregdag word in April gevier. Skrywers, uitgewers en ander betrokke partye in die bedryf het vanjaar dié geleentheid gebruik om nie net lees te bevorder nie, maar ook hul stemme dik te maak oor die onregmatige verspreiding van hul werk. Sedert die begin van die afsonderingstydperk is daar ʼn toename aangemeld in die verspreiding van materiaal, meer spesifiek digitale kopieë van tydskrifte, e-boeke, boeke wat gekopieer en in PDF-formaat aangestuur word, asook die opname en voorlees van stories. Maroela Media het by regskenners en uitgewers gaan aanklop om meer uit te vind oor intellektuele eiendomsreg, skending van outeursreg en die verantwoordelikheid van uitgewers en lesers in die verspreiding van materiaal.
Lees meer...Uitgewers benoud, maar moedig
Met die staat van inperking wat as gevolg van die COVID-19-pandemie tot 16 April 2020 in Suid-Afrika geld, moes plaaslike uitgewers drastiese stappe doen om die veiligheid van hul werknemers te verseker. Omdat boekwinkels en drukkerye se deure vir die afsienbare toekoms toe is, het die produksie en verspreiding van papierboeke vir alle praktiese doeleindes tot stilstand geknars. Hierdie verwikkelinge hou uiteraard ook ontwrigtende implikasies vir sommige uitgewers se publikasieprogram vir die jaar in. Lees verder...
Kan die gedrukte media oorleef?
Die dae van die gedrukte media – die tradisionele koerante en tydskrifte soos ons dit ken – se dood kom al hoe nader en skyn onafwendbaar te wees indien ons nie ander planne beraam om nuwe sakemodelle te skep wat die lewe van dié media verleng nie.
Die fenomenale opkoms van nuwe tegnologie, veral die internet, het ʼn skadu gegooi oor die toekoms van die gedrukte media. Die leesgewoontes van mense – veral die jonger geslag – het ʼn dramatiese negatiewe uitwerking op die voortbestaan van koerante en tydskrifte. Lees verder...
Die Chris Barnard-prys
Die Croyez Literêre Toekenning sal voortaan as Die Chris Barnard-prys bekendstaan.
Christian Johan Barnard (bekend as Chris Barnard; 1939–2015) was 'n Suid-Afrikaanse outeur wat groot beroemdheid verwerf het met sy talle Afrikaanse romans, novelles, kortverhale, toneelspele, hoorspele, draaiboeke en televisiedramas. Barnard was deel van die sogenaamde Sestigers-beweging en in 1975 ’n medestigter van die Afrikaanse Skrywersgilde. Hy was met die aktrise en rolprentregisseur Katinka Heyns getroud. Heyns sal by dié projek betrokke wees en jaarliks die pryse by die gala-aand oorhandig.
Persverklaring: Penguin Random House verkry LAPA Uitgewers
(19 Februarie 2020, Kaapstad) - Penguin Random House Suid-Afrika, ’n afdeling van Penguin Random House en die grootste Engelstalige uitgewer in Suid-Afrika, het vandag aangekondig hy het LAPA Uitgewers, die land se grootste Afrikaanstalige uitgewer, by die ATKV gekoop. Lees volledige persverklaring...
Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad
Die digitale omwenteling het gelei tot die ontstaan van ’n kuberwêreld waarbinne veral mense in ryker lande toegang tot nuus op elke vasteland in die wêreld het. Sosiale-media-platforms soos Facebook en Twitter, asook interaktiewe nuuswebwerwe, maak dit nou vir Jan Publiek moontlik om ’n mening te lug én self nuus te genereer. Dalende sirkulasiesyfers by koerante lei tot kleiner nuuskantore waar ’n handjievol joernaliste dikwels nuus ál vinniger vir aanlyn nuuswebwerwe moet produseer, terwyl hulle terselfdertyd aan die verwagtinge van ’n toenemend meer betrokke lesers moet voldoen. In hierdie verkennende studie is gefokus op die uitdagings wat joernaliste in buitekantore in die gesig staar terwyl hulle ’n tegnologies veeleisende omgewing moet bestuur. Buitekantoorjoernaliste is ’n uitstekende onderwerp van navorsing hieroor, omdat hulle grootliks onafhanklik van die hoofkantoor werk en as’t ware hul eie nuusredakteurs is. Hul take is gevolglik uiters omvattend, omdat dit bykans elke aspek van nuusbestuur insluit – anders as in die geval van joernaliste in die hoofkantoor, waar die nuusredakteur hoofsaaklik verantwoordelik is vir die daaglikse nuusbestuur. Lees verder...
Onregmatige handel in e-boeke is 'n misdaad
Mense wat skuldig bevind word aan die onregmatige handel in e-boeke, kan ’n boete van R5 000 of drie jaar tronkstraf vir dié misdaad opgelê word, sê André Myburgh, ’n regsgeleerde wat in kopiereg in die uitgewersbedryf spesialiseer. Lees verder...
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.