Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskutgereedskapkis
Taalghoeroe
Taalwenke
Het jy enige taalvrae of
-tameletjies wat jy wil opper? Klik
hier
om 'n e-pos te stuur aan ons eie taalghoeroe,
Louis van Rooyen.
Klik
hier vir die Vraag & Antwoord-blad.
Klik
hier vir nog taalwenke.
Wat is die verskil tussen loop en stap? Of is loop en stap volkome
sinonieme? Vir fisieke menslike
beweging te voet teen die gewone pas, is loop en stap gelyk, wat betekenis
betref. Mens kan net so wel sê: Ek loop net gou winkel toe, as: Ek stap net gou
winkel toe. In dié opsig is hulle dan volkome sinonieme. Maar dit is nie hoe
taal werk nie, nie eens met sinonieme nie. Wie sê oorwegend watter woord waar in
die land? Geen idee nie. Maar dié gegewe ooreenkoms
in betekenis tussen loop en stap word skoon oorweldig deur die verskille tussen
die twee woorde. Ek konsentreer net op die hoofwerkwoord. Hoe sê mens oor diere? Dit
lyk my diere van vandag loop net, hulle stap nie. Dit is nou behalwe perde.
Perde kan loop én stap. Die stap van ’n perd is dan ’n spesiale manier van loop:
so op ’n stappie. Let wel: nie lopie nie. Maar oor die algemeen loop diere. Ons
praat byvoorbeeld van beeste wat losloop, van rondloperhonde, en van
wegloperkatte. Vroeër jare moes die reëls
van Afrikaans anders gewees het. Jan Celliers skryf byvoorbeeld: Die osse stap
aan deur die stowwe. En daar is die volksliedjie oor osse, wat so begin: Aanstap
rooies, die pad is lank en swaar. Daar is stappies en daar is
lopies, maar hulle is nie dieselfde nie. Nooit nie. As jy uitloop of uitstap uit
’n vergadering is jy byvoorbeeld nog glad nie op ’n uitlopie óf op ’n uitstappie
nie. En as mense ’n misstap begaan, kan dinge misloop, maar jy kan nie self
misloop nie en dinge begin ook nie ’n misstap nie. Mens kan met iemand
saamstap of saamloop, maar omstandighede kan net saamloop, nie saamstap nie.
Jy kan ’n onaangename
persoon systap en sodoende moeilikheid misloop, maar vroeër of later gaan jy tóg
dié onaangename persoon onverwags raakloop, en dan kan dié mens jou deurloop of
stormloop of inloop of selfs uit trap. Maar jy kan hóm nie syloop nie, en jy kan
móéilikheid nie misstap nie. Jy kan iemand nie raakstap nie, en niemand kan jou
deurstap of stormstap of instap of jou selfs uitstap nie. Die enjin of motor van ’n
masjien of ’n voertuig loop, hy stap nie. Ook die vloeistof in ’n ding met
vloeistof loop, dit stap nie. Dink maar wat doen ’n rivier, ’n spruit, ’n wasbak
wat te vol is, en ’n melkbeker wat te vol is. En sake wat hiermee verband hou,
word ook met loop raakgenoem, nie met stap nie. Dink aan die boloop en
benedeloop van die rivier, en aan die inloop van ’n sytak van ’n rivier. Dink
aan die oorloop van die damwal. Dink daaraan dat ’n dam kan droogloop of
leegloop of volloop. Nie in een van dié gevalle kan mens stap in plaas van loop
gebruik nie. Dink maar aan die naloop,
die laaste lekker bietjie nastap sal dit nooit word nie. Dit is mos ’n loopdop,
nie ’n stapdop nie. In idiome is dit niks snaaks dat ’n bepaalde woord
onvervangbaar is nie. Daarom dink ek nie dit is byvoorbeeld snaaks dat mens jou
rieme kan styfloop maar nie kan styfstap nie. Maar dit interesseer my dat plante
en bolle en knolle (wat nie te voet kan beweeg nie) wat weer begin groei,
uitloop, hulle stap nie uit nie. Aan ’n aartappelmoer is daar byvoorbeeld
uitloopsels, nie uitstapsels nie. Tyd kan stap én loop: die
tyd stap aan (as jy kyk op ’n horlosie wat goed loop), of dit loop uit, soos
sand uit ’n uurglas. Nou moet ek einde se kant
toe staan, want die ruimte loop lê staan en min raak. BRON: Johan Combrink, Taalskatkis, 20 Februarie 1995
© Die Burger, Media24 Taalwenk 7
Dis eenmaal so dat mens Engels allerweë teëkom. Koppel dit nou aan dié taal se benydenswaardige slag om raak te sê (kom ons erken dit maar: Engels word deur soveel tonge geslyp dat die taal besonder ‘lekker praat’) en mens kan jou maklik deur die Engelse idioom laat verlei. Veral natuurlik wannneer mens vertaal, maar ook wanneer jy oorspronklike Afrikaans skryf, sluip Engelse frases soms in.
Hier is ’n paar sulke linguïstiese Loreleis wat ek die afgelope tyd teëgekom het:
Mens antwoord ’n deur of ’n telefoon, maar beantwoord ’n brief of ’n vraag. (Op Engels kan answer in beide gevalle dien, naas reply vir ’n brief.)
Mens sien ’n glimp(ie) van iets (teenoor glimps(ie); Engels: glimpse).
Iets beweeg met ’n slakkegang (teenoor teen ’n slakkepas; Engels: at a snail’s pace).
In Boheem skryf Chanette Paul van ‘beïndrukbare jong meisies’ (vir impressionable), pleks van ontvanklike.
Maar nou moet ek darem bysê vir my taalgevoel is die verskil tussen ’n frase en ’n metafoor soms ietwat hipoteties. Om iemand ‘uit die hoek van jou oog’ dop te hou (naas tersluiks, onderlangs, skrams(weg), skuins, heimlik, skelm... aankyk/dophou) klink vir my heel doenlik. Afrikaanse oë het immers net sulke hoeke soos Engelses!
Die mees berugte van hierdie verleidelike frases is sekerlik ‘om sin te maak (van iets)’ en ‘dit maak nie sin nie’. Taalbulle wil hê ons moet eerder praat van dis sinvol of dit het sin en dis sinloos, onsinnig, het geen sin nie. Maar waarom sien mens week na week in Beeld se naweekblad By hoe ingeligte, intelligente Afrikaners skryf ‘dit maak sin’ of ‘dit maak nie sin nie’? Bewys dit nie ons het ’n behoefte aan dié (Anglistiese) frase nie?
Nou hoor ek hoe dink julle: ‘Maar waar trek mens die streep?’ Reg genoeg, tog wonder ek dikwels of dit nie juis danksy Engels se instinktiewe traagheid om ’n streep te trek dat die taal geword het wat hy is nie.
Hoe voel julle Vryskutskrywers hieroor? Stuur gerus vir my e-pos met kommentaar.
Taalwenk 6
Hier is 'n paar woorde oor was gewees:
Ek lees onlangs in ’n brief in ons plaaslike koerant: “Ek was ongelukkig dié dag uitstedig gewees.”
Daar is ’n toenemende neiging onder Afrikaanses om dié onnodige fout te maak. Waar kom dit vandaan?
Afrikaans het die vorming van die verlede tyd drasties vereenvoudig, ’n proses wat (ietwat onheilspellend!) die ‘nivellering van die werkwoord’ genoem word.
Eenvoudig gestel, het die verlede tyd twee basiese verskyningsvorme: die onvoltooide verlede tyd (imperfektum) en die voltooide verlede tyd (perfektum). Prakties gesproke is die imperfektum in Afrikaans tot niet. Met die uitsondering van die modale werkwoorde en fossiele soos wis (Ek wis dit nie) vorm ons die verlede tyd feitlik deurgaans met die het (ge-)-konstruksie, eerder as met verbuiging (agtervoegsels) of vervoeging (klankverandering of ablaut). Dink bietjie hoeveel memoriseerwerk dit ons jong Afrikanertjies spaar!
Interessant genoeg – en danksy die towerwoordjie ‘toe’ – gebruik ons by vertelling die teenwoordige tyd om die verlede tyd uit te druk. Neem nou in ag dat die teenwoordige tyd sommer ook die toekomende tyd (Sien jou môre) kan uitdruk, dan is dit duidelik dat Afrikaans nogal sy streke het...
Maar ’n nadeel van dié loslitbenadering is dat ons Afrikaners min erg aan die formele tye het. ’n Term soos plusquamperfektum laat ons koud. Dis waarskynlik waarom ons so maklik praat van was gewees wanneer ons bloot was bedoel.
Was gewees is die voltooide verledetydsvorm van is. Is se verledetydsvorm is was. Die briefskrywer het eintlik bedoel: “Ek was ongelukkig dié dag uitstedig.”
Dit wil sê, op ’n bepaalde dag iewers in die verlede het hy hom nie in die stad bevind nie.
Sistematies gestel:
Is as hoof- of koppelwerkwoord dui altyd op die teenwoordige tyd:
Ek is in die stad. Die kleintjie is honger.
Die verledetydsvorm hiervan is was:
Ek was in die stad. Die kleintjie was honger.
Word is saam met ’n voltooide deelwoord gebruik, ontstaan die voltooide teenwoordige tyd, wat dui op ’n aksie wat afgehandel is (moeilik te onderskei van ’n toestand):
My arm is gebreek.
Word was saam met ’n voltooide deelwoord gebruik, dui dit op ’n aksie wat in die verlede plaasgevind het, maar nou nie meer voortgaan nie:
My arm was gebreek (maar het sedertdien geheg).
Dink nou aan was gewees, die voltooide verlede tyd van is.
Eerstens, wat betekenis betref: In die lig van die bostaande verduideliking beteken was gewees dat daar bestaan is tot op ’n punt, waarna daar opgehou is om te bestaan en iets anders in die plek daarvan gekom het. Ontologies onmoontlik – in die gewone werklikheid kan daar immers nie ’n alternatief vir bestaan wees nie!
Tweedens, in die taalwetenskaplike sin: was gewees kan niks meer of anders sê as is gewees nie, dus is dit bloot toutologie of dalk hiperkorreksie.
Ek glo was gewees kan in feitlik geen alledaagse taalgebruik voorkom nie. Mens kan was gewees met vrug uit jou taalregister sny!
![]() | ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.