Welkom by SA Vryskutskrywer - Skryfmekka
Hierdie gedeelte is spesiaal vir Afrikaanse boekwurms met vars nuus oor skrywers, digters, boeke en die uitgewersbedryf.
Kontak ons met enige boekenuus.
Onregmatige handel in e-boeke is ’n misdaad
Maandag 24 Junie 2013
Mense wat skuldig bevind word aan die onregmatige handel in e-boeke, kan ’n boete van R5 000 of drie jaar tronkstraf vir dié misdaad opgelê word, sê André Myburgh, ’n regsgeleerde wat in kopiereg in die uitgewersbedryf spesialiseer.
Skending van kopiereg op letterkundige werke word deur die Wet op Outeursreg van 1978 gereguleer. “’n ‘Letterkundige werk’, soos in dié wet gedefinieer, kan op skrif gestel word of ook in digitale data vasgelê word om vir kopieregbeskerming te kwalifiseer,” sê Myburgh. Waar roofboeke op die internet te koop of selfs gratis aangebied word, gaan dit gewoonlik om reproduksies van ’n boek of ’n e-boek wat sonder die toestemming van die reghebbende (soos die skrywer en die uitgewery) gemaak is, sê hy.
“Die maak van daardie reproduksie in sulke omstandighede kom gewoonlik neer op ’n skending van die kopiereg op sowel die skrywer se letterkundige werk as die gepubliseerde uitgawe van die uitgewery.”
Volgens Myburgh kan ’n reghebbende siviele aksie om skadevergoeding instel en ’n interdik teen die skending van sy kopiereg kry. “Waar ’n roofboek op die internet aangebied word, kan die reghebbende in sekere omstandighede ’n afhaalkennisgewing aan die webwerf se internet-diensverskaffer stuur. Dit kan dan beteken dat die skakel na die roofboek, of selfs die hele webwerf, verwyder word.
“Dit gebeur eenvoudig te veel dat werke wat onderworpe is aan kopiereg deur mense anders as die reghebbendes te koop of oënskynlik gratis op die internet aangebied word. “Ek sê oënskynlik gratis omdat die aanbieder van gratis roofkopieë dikwels geld maak deur reklame op sy webwerf, waar die werk van ander mense – waarvoor hy nie betaal het nie – gebruik word om klante na die webwerf te lok.” – Rudolf Stehle
- Bron: Beeld
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.