Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskuthulpbronne
Vra 'n kenner
As vryskut is jy verantwoordelik vir ALLE aspekte van jou besigheid en soms is daar vrae waarop jy net nie 'n antwoord kan kry nie.
Dis met dié tipe vryskuttameletjies in gedagte dat ons verskeie kenners op hul gebiede genader het om indringende vrae te beantwoord en kwessies op te los.
As jy enige vrae of kwessies wat met die bedryf van jou vryskutbesigheid te make het, stuur gerus 'n boodskap om antwoorde te kry. Maak asseblief net seker dat jy jou vraag baie duidelik omskryf.
Kan Kunsmatige Intelligensie (KI) my as skrywer vervang?
Die nuutste gonswoord is deesdae kunsmatige intelligensie (KI) en tereg ook. Oral waar jy op die internet kyk word jy hiermee gekonfronteer. Een helfte van die wêreld omhels dit as ‘n fantastiese idee, terwyl die ander helfte mor dat dit gewone mense se lewens gaan omkeer en hul werk steel. Aan wie se kant moet ons as skrywers dan wees?
Tussen die boom en die bas, lyk dit my.
‘n Nuwe nuuskanaal, News GPT, het op 1 Maart vanjaar begin om nuus te verskaf – sonder ‘n enkele verslaggewer in sig. NewsGPT se oogmerk is om onbevooroordeelde en feite-gebaseerde nuus aan lesers dwarsoor die wêreld te verskaf. Masjienleeralgoritmes en natuurlike taalverwerkingstegnologie stel NewsGPT in staat om relevante nuusbronne van regoor die wêreld intyds te skandeer. Dit gebruik dan hierdie data om nuusberigte en verslae te skep wat akkuraat, bygewerk en onbevooroordeeld is.
Dit maak vir my sin. ‘n Kunsmatige nuusbron, aangedryf deur algoritmes en sonder inmenging van mense, kan beslis nie in staat wees om bevooroordeeld te wees nie. Dit beteken die nuus móét wees soos dit bedoel is – suiwer en eerlik.
Maar wag, ons span nou die kar voor die perd. Kom ons begin eerder by die beign: Wat presies ís kunsmatige intelligensie? Wikipedia definieer dit as die intelligensie wat 'n masjien of sagteware tentoonstel. Dit is 'n akademiese studieveld wat poog om menslike intelligensie kunsmatig te skep.
KI is egter nie nuut nie. Onthou jy Deep Blue? Die skaakrekenaar wat deur kunsmatige intelligensie aangedryf is en in 1997 ‘n skaakmeester geklop het?
die volledige artikel hier.
Hoe doen mens navorsing vir jou nie-fiksieboek?
Navorsing is die belangrikste aspek van ‘n boek en kan die eindproduk maak of breek. As jy nie genoeg navorsing gedoen het nie, gaan jy nie genoeg feite hê om dit interessant te maak nie.
Hoe jy dus te werk gaan om jou navorsing bymekaar te kry, is uiters belangrik. Dit is makliker om jou bronnelys by te werk terwyl jy skryf as om die manuskrip, nadat dit voltooi is, te vat en elke bron te probeer naspeur. ‘n Mens sukkel om te onthou waar jy die inligting vandaan gekry het – veral maande nadat jy dit geskryf het!
Volg ons wenke om jou navorsing te organiseer:
1. Gebruik jou notas: Notas sluit alles in wat verband hou met jou boek – nie net dit wat jy in ‘n biblioteek of argief gaan neerskryf het nie, maar ook die idees wat jou binneskiet in die middel van die nag, en terwyl jy dalk met iemand oor die foon gesels. Die skryf van ‘n boek is soos om ‘n legkaart te bou – elke stukkie inligting moet naderhand perfek inmekaarpas om die prentjie te voltooi. Dis waarom jou notas so belangrik is. En dis een van die dinge wat dit so lekker maak – en al het jy nie die eindprentjie voor jy begin nie – die prentjie neem vorm aan na aanleiding van jou eie insette.
2. Soek vars feite: Feite is die boustene van nie-fiksieboeke. En nuwe feite is die beweegrede vir die skryf van ‘n boek: ons het reeds gesê jy moenie net ‘n bestaande boek probeer oorskryf nie. Kom ons kyk nou na verskillende maniere waarop jy feite kan bekom:
Ek skryf gereeld kortverhale vir vrouetydskrifte. Ek het een verhaal wat in 'n spesifieke tydskrif verskyn het, later verander en ontwikkel na 'n vervolgverhaal vir 'n ander tydskrif. 'n Redakteur het my van selfplagiaat beskuldig en weier nou om ooit weer van my verhale te publiseer! Ek het glad nie geweet daar bestaan so iets soos selfplagiaat nie?
Die idee van selfplagiaat klink amper belaglik, maar blykbaar is dit 'n werklike probleem wat gevolge het. Maar ‘n mens kan nie verhelp om te vra nie: is dit regtig moontlik of eties om van jouself te steel?
Baie mense kan nie glo dat daar ‘n debat kan wees van of jy by jouself kan steel of nie. Ander, weer, sien dit as ‘n teenstrydigheid met kreatiwiteit.
Die probleem is dat, wanneer 'n skrywer 'n nuwe werk voorlê, dit algemeen aanvaar word dat dit algeheel nuut en oorspronklik sal wees. Dit skep dus ‘n situasie waar die leser tot ‘n mate mislei word oor dít wat hy lees. Die vraag is nou of dit werklik tot nadeel van die leserspubliek is aangesien dit duidelik en sterk van situasie tot situasie verskil.
Wanneer sou dit dus aanvaarbaar wees om “jou eie woorde te steel” en wanneer nie? Kenners is dit eens dat daar géén verskoning by akademiese geskrifte is nie. Die algemene verwagting is om met ‘n verhandeling of akademiese geskrif te toon hoeveel jy geleer het. Om selfplagiaat te pleeg en vorige werk vir ‘n nuwe opdrag weer te gebruik, beteken bloot dat die doel van die opdrag ‘n niksbeduidend geraak het.
Aan die ander kant kan ou woorde weer nuut gemaak word in ‘n kreatiewe omgewing, veral op ‘n beperkte wyse aangesien dit dalk meer weens eerbetoon konsekwentheid kan wees as plagiaat.
Uiteindelik sal die debat oor die implikasies van selfplagiaat dalk vir ewig aanhou. Daar sal altyd voorstanders en teenstanders daarvan wees en skrywers wat ‘n kortpad wil neem. Dit sal dalk beter wees as jy probeer om selfplagiaat sover moontlik te vermy want niemand kan ooit heeltemal seker wees wat ‘n leserspubliek aan die een kant en skrywers aan die ander kant, se verwagtinge is nie.
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.