Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskuthulpbronne
Finansies & besigheid
Brand Pretorius se 9 sukseslesse
Leer uit sukses én mislukking.
Dit is die raad van mnr. Brand Pretorius, voormalige uitvoerende hoof van McCarthy. Hy het pas gepraat by ’n sakeontbytgeleentheid wat deur Finweek en Front Foot aangebied is.
1. Die
sakewêreld is taai.
Pretorius sê in dié omgewing moet sakelui nie gunsies of simpatie verwag of
aanneem dat alles regverdig sal verloop nie.
Hy sê in 1999 toe McCarthy ná ’n byna noodlottige diversifikasie-strategie tegnies insolvent was, het hy gedink mense sal tegemoetkomend wees en die maatskappy te hulp snel, maar dit het nie gebeur nie.
Pretorius se raad is om in moeilike tye verantwoordelikheid te aanvaar, spesiale planne te maak en hard te werk – daar is geen kortpaaie nie.
Die doeltreffendste manier om teëspoed te hanteer, is om resultate te lewer en nie vir empatie te wag nie, sê hy.
2. Die gehalte van strategiese denke, die relevansie van ’n strategiese plan
en die vermoë om dit in werking te stel, sal bepaal of jou onderneming môre
beter is as vandag.
Pretorius sê McCarthy was in 1995 byna volledig afhanklik van nuwevoertuighandel
vir wins.
Hy sê teen die agtergrond van die bekendstelling van die motorbedryfontwikkelingsplan (MIDP) en verminderde invoerheffings is daar besluit om die afhanklikheid van voertuigverkope te verminder.
’n Finansiëledienste-onderneming is op die been gebring en dié afdeling was verlede jaar vir altesame 44% van die groep se wins verantwoordelik.
Pretorius sê dit is belangrik vir ondernemings om op hul hoede te wees en te onthou dat sakemodelle nie onsterflik is nie.
Hy sê dit is nodig om vinnig op te tree wanneer fundamentele neigings opgemerk word.
3. Talentvolle, bekwame, kundige werkers wat verbind is tot die maatskappy
maak ’n reuse-verskil.
Pretorius sê hy het in sy loopbaan gesien hoe sake-eenhede heeltemal omgedraai
word deur die regte mense aan te stel.
Hy meen maatskappye moet obsessief wees oor die gehalte van hul mensekapitaal en meer in hul ontwikkeling belê as wat ’n mens op die oog af sou dink genoeg is.
4. Verhoudinge maak saak – moenie die klein dingetjies vergeet nie.
Pretorius sê verhoudinge verteenwoordig die gom wat ondernemings bymekaarhou.
Hy sê was dit nie vir verhoudinge wat op vertroue en wedersydse respek gebou is nie, sou McCarthy nie van ’n gewisse dood gered kon word nie.
Dié verhoudinge het die groep uiteindelik in staat gestel om hulp van agt banke te kry, wat McCarthy van ondergang gered het.
“Mense sal vergeet wat ons gesê het (en) wat ons gedoen het, maar hulle sal nooit vergeet hoe ons hulle laat voel het nie.”
5. Die
optimering van kontantvloei behoort ’n daaglikse prioriteit te wees, want dit is
die lewensbloed van die onderneming.
Pretorius meen dit is selfs vir die uitvoerende hoof belangrik om persoonlik
daaraan aandag te skenk. “Dit is die barometer van finansiële gesondheid.”
6. Klante is slim, stem met hul voete en was nog nooit beter ingelig as nou nie. Pretorius sê dit is kritiek om aandag te gee aan klante se behoeftes.
Hy sê dit is nie genoeg om bloot klante se behoeftes te bevredig nie. “Sonder klante het ons nie ’n onderneming nie – ons behoort vir hulle te bestaan.”
In ’n onlangse artikel in Harvard Business Review word aangevoer die verskil tussen ’n tevrede klant en ’n volledig tevrede klant kan ’n onderneming insluk, sê hy.
7. Alles hang af van leierskap.
Pretorius sê leierskap is ’n onderneming se belangrikste mededingingsvoordeel.
“Dit is die bron van elke groot prestasie.”
In wat op die oog af identiese ondernemings is, maak leierskap die praktiese verskil, sê hy.
Hy voeg egter by dat om ’n leier te wees ’n voorreg is wat verdien word en dat leiers hul taak met integriteit en nederigheid moet uitvoer.
8. Sake doen gaan oor veel meer as om die syfer-teikens te haal.
Hy sê hoewel goeie syfers belangrik is vir volhoubaarheid, moet ondernemings ook
’n verskil maak in hul gemeenskappe.
Suid-Afrika is ’n wonderlike land, maar die behoeftes is byna oorweldigend. Die laaste ding wat ons kan bekostig, is om selfsugtig te wees en agter ons mure te sit, sê Pretorius.
9. Die sakewêreld is nie die begin en die einde van alles nie.
Dit is ook belangrik om die moed te hê om ’n streep te trek en seker te maak jou
verhoudinge met jou gesin, familie en vriende bly gesond ondanks ’n groot
werklading, sê hy.
- Bron: Sake24
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.