SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskuthulpbronne

 

Finansies & besigheid


 

Skuif as bank se koste te hoog is

 

Bankkoste in Suid-Afrika is te hoog en gebruikers van bankdienste behoort beter ingelig en bereid te wees om hul persoonlike rekeninge te skuif om beter waarde vir geld te kry, meen Solidariteit.

Dié vakbond se navorsings­instituut (SNI) het gister ’n bankkosteverslag bekendgestel waarin bevind is Absa het sy status as een van die twee duurste banke in die land behou.

Mnr. Paul Joubert, senior navorser by die SNI, het gesê die bankkoste van Absa se goedkoopste rekening het boonop vanjaar met 8% gestyg en Capitec se koste glad nie.

Die gemiddelde maandelikse bankkoste vir die goedkoopste basiese rekening by Capitec is R67,35, by ENB R73,10, by Nedbank R105,04, by Standard Bank R133,43 en by Absa R152,15.

Dit is bereken as ’n gemiddeld van agt transaksieprofiele, met rente of verbeurde rente buite rekening gelaat.

Die bankkoste van verskeie kombinasies van maandelikse transaksies is op verskillende bestedingsvlakke bereken.

Die ondersoek het net op die kern­aspekte van transaksionele rekeninge gefokus om vergelykings so billik moontlik te maak.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het gesê die eerste verslag wat in 2010 uitgereik is, het tot ’n baie groter bewustheid onder verbruikers oor bankkoste gelei.

“Daar is egter nog te min beweging in die sektor en banke is soos monopolieë.”

Volgens Hermann is daar geen rede meer hoekom mense historiese bande met banke hoef te hê nie.

“Mense behoort keuses te maak wat tot hul voordeel sal wees. En hulle moet ook nie onder die illusie verkeer dat dit moeilik is om van bank te verander nie.”

Afrikaanssprekendes verteenwoordig 31% van die koopkrag in die land en daar is goeie geleenthede vir enige bank wat Afrikaans as ’n nisproduk wil bevorder, het hy gesê.

Joubert het gesê verbruikers moenie aanvaar die rekening wat ’n bank vir hulle aanbeveel is die goedkoopste opsie nie.

Solidariteit het in 2010 ’n aparte ondersoek oor die bankkoste van die groot handelsbanke se sakerekeninge gedoen en op grond daarvan 35 van sy rekeninge van Absa na ENB geskuif. 

- Bron: Sake24

 

Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse