Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG
Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
kristel loots
Mens het net een lewe – en eintlik is dit nie genoeg nie. Daarom is dit so wonderlik om vir jou ’n fantasie van ’n ander lewe te skep en dit saam met jou leser te geniet. Jy ervaar dus dieselfde ontvlugting – en meer omdat jý die toutjies trek en min of meer kan besluit wat met jou karakter gebeur. Lees hier hoe Kristel Loots, skryfster van bykans 50 publikasies, skryfwerk en die lewe sien.
Om te skryf is ’n verslawing soos enige ander – ’n héérlike verslawing. En dit stel my in staat om te skryf oor en vir gewone vroue, doodgewone vroue wat jy in die voorstede, agter die boereworsgordyn sal kry. Of op die platteland sal kry. Vroue wie se name nie sommer in die koerant sal kom nie, behalwe as een of ander skandaal hulle tref. Vroue soos jou ma, jou kind, jou suster, jou buurvrou of jou kollega.
Ons het mos almal stories om te vertel en daardie stories stem dikwels ooreen. Ongelukkig is dit ook so dat die lewe en die liefde ’n vrou so maklik ’n dwarsklap kan gee en dat sy dan maar net weer moet opstaan en aangaan. En ’n tikkie humor soos ’n lepeltjie suiker kan help om die bitter te sluk ás dit dan nou die dag nodig raak.
Inspirasie kry jy dikwels uit iets wat jy sommer so in die verbygaan raaksien. ’n Toneeltjie op ’n lughawe waar twee geliefdes net eenvoudig aan mekaar vasklou omdat die oomblik te groot is vir woorde. Of ’n paar oë wat in joune kyk en skielik, onverklaarbaar sag word. Of as jy lepellê teen ’n warm lyf in ’n bibberkoue wintersnag en skielik die gier kry om stories te vertel wat so gaan eindig.
Om te skryf is nie vir sissies nie, maar glo my gerus, dit bly ’n bargain. Ek skryf nie hogere letterkunde nie, ek skryf ontspanningsromans en die afgelope paar jaar ook Afrikaanse chicklit. Maar ek wil waag om te sê dat min of meer dieselfde reëls geld vir skrywers oor die algemeen en in alle tale en lande.
Die Amerikaanse skrywer, Flannery O’Connor, het beweer dat die eerste twintig jaar van ’n skrywer se lewe al is wat hy of sy nodig het om vir die res van sy lewe aan die skryf te bly. Sy sélf het helaas nie lank genoeg geleef nie en is dood voor haar veertigste verjaarsdag...
Ek weet nie of ek met Flannery saamstem dat daardie eerste 20 jaar van haar lewe heeltemal voldoende was om oor interessante onderwerpe aan die skryf te bly nie. Maar oor die belangrikheid van die eerste 20 jaar van ’n mens - en in besonder ’n skrywer se lewe - kan daar nie getwyfel word nie. Dit is wanneer jy aan jou eie mitologie bou, wat later dalk opgediep kan word.
Waarna Flannery moontlik verwys het, is die intensiteit waarmee daar in hierdie eerste twintig jaar geleef word. ’n Mens is soos ’n slak sonder ’n dop en daarom is jy so kwesbaar. Alles is so erg, jy voel en ervaar die lewe op ’n ander vlak as later. Jy lag harder en jy huil lekkerder. Jy kry só séér en jy maak jou naam krater en ander tye vlieg jy weer daar doer bo in die sewende hemel. Jy is besig met die ‘journey’ van die lewe. My raad is: VAT hom, Vat hom soos hy kom. Leef hom, byt hom, bêre hom, ervaar, leef, voel. Die soet en die suur en die bitter van die lewe. Proe dit, smaak dit, sluk dit. En dink by jouself: Wag maar! Anderdag gaan ek nog hieroor skryf.
En as jy dalk dink: ag, my lewe is so saai, daar ís niks om oor te skryf nie. Dan wil ek vir jou sê skryf júís daaroor.
Skryf kan ’n wonderlike manier van ontlading wees, ’n bevryding van jou woede of jou teleurstelling of jou pyn. As jou kêrel jou met jou beste frieken vriendin verneuk en dit voel vir jou of jy sommer wil doodgaan, moenie ; skryf daaroor. Sielkundiges beveel skryf dikwels aan as terapie om trauma te verwerk. Hulle sê: As iemand jou kwaad of seer gemaak het, moet jy gaan sit en vir hom of haar ’n brief skryf. En dan moet jy die brief fyn en flenters skeur of verbrand.
Skryf kan natuurlik ook as wraak ingespan word. Daar is ’n spreekwoord wat waarsku dat jy versigtig moet wees om nie ’n skrywer kwaad te maak nie, hy kan jou dalk as ’n karakter in een van sy boeke gebruik en jou die vreeslikste, pynlikste dood laat sterf!
Ja, daar skuil ’n heerlike bevryding in om jou gedagtes, jou emosies, jou gevoelens van haat of liefde, smart of vreugde uit jou gestel te skryf. Of met geweld op die sleutelbord uit te hamer. En byvoorbeeld op Facebook of op ’n blog met ander te deel.
Tog word daar aanbeveel dat enigiets wat jy skryf, en veral ’n manuskrip waarmee jy wil smous, eers ’n rukkie moet lê voordat jy jou woorde die wye wêreld in wil stuur. ’n Storie moet eintlik eers behoorlik ryp word en heel moontlik heelwat gesnoei word voordat dit werklik vrugte kan dra. Daar moet ’n sekere afstand wees tussen jou en jou ervarings sodat jy ’n beter perspektief daarop kan kry. En daardie afstand word deur tyd en groei bewerkstellig.
Dis ook altyd makliker om te skryf oor iets wat jy ken, waarvan jy weet, wat jy aan eie bas gevoel het. En hoe later, hoe kwater.
My eie skryflus kom van ver af, van my kindertyd toe ek as ’n kleindorpse kaalvoetkind in die kleurryke Oos-Kaapse dorpie Despatch grootgeword het. Daardie tyd is ons die klipgooiers van Despatch genoem. Klippe was daar genoeg, want daar was net één straat wat geteer was, die hoofstraat.
Nou kan julle self dink hoe min opwinding wás daar in hierdie klipperige dorpie tussen die stroopsoet turksvye en die galbitter aalwyne. Maar ’n mens sal dit nooit sê as jy my dagboeke van daardie tyd lees nie!
Praat van ’n drama queen! Par excellence! My klein wêreldjie was vir my opwindend genoeg om saans lang paragrawe met baie hoofletters en uitroeptekens neer te pen. Dit was heerlik.
Tot vandag toe is daar vir my iets besonders aan om dele van my boeke met die hand te skryf. Die blote fisieke aksie van skryf, die maak van die letters, sulke lekker vet letters, vryhand, het ’n bekoring van sy eie.
Die neerskryf van die ervarings van my jong lewe in hierdie windverwaaide dorpie naby Port Elizabeth was eintlik heelwat meer opwindend as die ervarings self. Ek was verskriklik gesteld op die privaatheid van hierdie dagboeke – asof dit werklik sulke skokkende geheime bevat het wat ek ten alle koste van my arme ou moeder moes weghou! Sy moes seker alle moontlike wegsteekplekke deursoek het, baie bekommerd oor wat ek ure lank agter die toe kamerdeur neergeskryf het om vir die nageslag te bewaar.
Ek was nie jou tipiese partytjiedier of plesiertier nie, maar ek het ’n bietjie van alles beproef en gereeld daaroor verslag gedoen. Dis grootskaalse pret om nou deur daardie dagboeke te blaai en te lees wat my wêreld toe vir my aan die tol gehou het! En dis ook wat my later jare aan die skryf sou kry. Dit was niks anders as Die Liefde nie. Die Liefde wat oornag kon verander. Ek was al om die anderdag verlief op iemand anders, of die arme ou nou daarvan geweet het en dit wou hê of nie.
Ek het nie veel gevra nie. Eintlik het ek net een vereiste gehad vir die objek van my begeerte. Hy moes manlik wees, ten minste ’n pols hê en darem my naam ken – en so elke af en toe gebruik, al was dit net om my boek te leen om my huiswerk af te skryf. Ek was so half en half slimmerig en toe al jou tipiese nerd wat gereeld haar huiswerk gedoen het. Maar ek wou so graag glo dit gaan oor my en nie oor my boek nie. Daar moes ’n diepere betekenis aan gekleef het dat dit juis mý boek was wat wie ook al wou leen, as bloot net die begeerte om nie kantoor toe te gaan vir ses van die bestes nie. Of altans dis wat ek myself probeer wysmaak het.
My boeke van vandag vertel die stories van gewone mense, van vroue, oud en jonk, soos my bekkige buurvrou, my ewe vet vriendin en my niggie met die lelike familieneus. Julle weet mos, vroue wat nou nie juis beauty queens is nie, word dikwels getroos met: ag toemaar wat, solank jy maar mooi van binne is. Asof ’n man gaan sukkel om sy hande van jou af te hou as jy ’n pragtige pankreas het. Of vir jou gaan sê: Ag skatlam, jou lieflike lewer maak my lam! Dis vir hierdie vroue en meisies wat ek skryf. Vroue jonk en oud wat seerkry, vroue wat deur ’n liefdesteleurstelling moet gaan sonder om onder die bed in te kruip en daar te bly lê. Vroue wat nie volmaak is nie, vroue en meisies met gewigsprobleme wat ’n ewige stryd daarmee het. Vroue wat al moes hoor. Wie wil met ’n stasiewa of ’n een-ton-bakkie ry as jy ’n vinnige vuurwarm Ferrari kan kry? Ek skryf vir vroue, oud en jonk, wat kan huil, maar gelukkig ook vroue wat kan lag oor die absurditeite van die lewe en die liefde.
My chicklit-boeke soos Die engel rook skelm en ’n Ander vrou se rok is meer gemik op die jonger leser en die hoofkarakter in hierdie boeke is gewoonlik in hul twintiger- of dertigerjare. Maar hulle is ook nie heeltemal ongeskonde nie, hulle mag jonk wees, maar hulle is al ’n slag of wat geklap deur die lewe en sy dinge.
Wat ons met die Afrikaanse chicklit-boeke soos Die engel rook skelm en ’n Ander vrou se rok probeer regkry is om ’n moderne en realistiese verhaal vir ons lesers te skryf.
Vroue van vandag is eintlik nie meer feministe nie. In die sestigerjare het feministiese vroue om ’n vuur vergader, hul bras afgepluk en in die vuur gegooi om te verbrand.
Wat ’n vrou tog maar nodig het om te funksioneer ís om waarlik vrou te wees en die warmte van liefde te ervaar. Iemand om lief te hê en iemand wat jou liefhet.
Die soeke na die liefde, verander nooit. Daardie verlange ontstaan in jou bakvissiedae wanneer jy die eerste keer so verlief raak dat jy nie kan eet nie en nie kan slaap nie en jou skoon simpel gedra. En daardie verlange bly by jou totdat jy jou tjalie van jou skouers afgooi en vir die omies in die ouetehuis begin ogies maak.
Daarom is liefdesverhale sulke goeie verkopers, nie net in ons land nie, maar wêreldwyd. Dis ’n fantasie, ’n feëverhaal vir volwassenes wat jou wegvoer van die gewone ondermaanse gesloer en gesukkel met stukkende wasmasjiene en stout kinders en mans wat hul nat handdoeke op die badkamervloer neergooi.
’n Skrywer is veronderstel om te skryf oor wat aan haar bekend is en dis ook wat ek doen. Die plek waar ’n mens grootgeword het, het lewenslank ’n invloed op jou as mens en as skrywer.
Middeljarige voel maklik of hulle later heeltemal onsigbaar raak en in my boeke herinner ek vroue daaraan dat hulle nog lank nie klaar geleef het as hulle dalk die eerste rondte verloor het nie. Want die liefde is nie net vir jongmense nie. ’n Mens, en veral ’n vrou se innerlike jongvrou, wag net vir die regte dag om kop uit te steek, skoene uit te skop en aan die dans te gaan.
Seker die grootste bevrediging is om van ’n leser te hoor wat jou boek geniet het, veral wanneer hulle daarmee kon identifiseer. Die grootste kompliment wat ek seker nog gekry het, was toe ’n jong blonde meisietjie met ’n so dromerige stem vir my kom vertel hoe graag sy wil hê wat sy oor die held en heldin in ’n verhaaltjie van my gelees het, met háár moet gebeur.
© 2016. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.