


Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunstelingskrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
Nico Schamrel
Met sy liefde vir ou biblioteke, dagboeke vol herinneringe en stories mett onverwagse eindes, het Nico Schamrel hom gevestig as ’n unieke stem in die Afrikaanse boekewêreld. As skrywer, mentor en stigter van NS. Skrywershuis werk hy daagliks met nuwe talent, maar sy passie vir stories begin lank voor publikasies en manuskripte — dit begin by ’n kind wat boeke volgens hul omslae gekies het en geglo het elke mooi prentjie hou ’n goeie verhaal in.
In hierdie onderhoud gesels Nico openhartig oor sy liefde vir Afrikaans, die uitdagings van publikasie, die belangrikheid van goeie stories en waarom hy glo dat nuwe skrywers steeds ’n plek in die literêre wêreld verdien. Hy deel ook sy gedagtes oor inspirasie, kreatiwiteit, nostalgie, en die droom om eendag ’n unieke boekhuis en biblioteek vir lesers en skrywers te skep.
•
Wanneer het jy die eerste keer besef skryf gaan ’n belangrike deel
van jou lewe
word?
Die
dag toe ek ’n potlood moes leer vashou, die letter A’ moes skryf
sonder om oor die lyntjie te gaan. En toe ek my eerste
kortverhaalbundel, Engela, in my hand vashou. Dit was ʼn
asemsnak oomblik. Ek het die heel eerste kopie geteken en aan my ma
gegee. Die bundel was opgedra aan haar.
• Was daar iemand of iets wat jou vroeg beïnvloed het om te begin skryf? Ek was altyd lief vir skryf, maar my ma het my beslis beïnvloed. Sy was baie lief vir lees en wou graag ’n boek skryf, maar toe skryf sy eerder dagboeke! Ek het bokse vol van haar dagboeke en lees dit nog gereeld.
’n Kortverhaalbundel, Vrou op die skuit, van Elise Muller, was ook ‘n bydraende faktor. Na ek dít gelees het, het ek besluit ek wil ook stories skryf.
Verder het ’n dierbare dame op Graaff-Reinet, Christa Hahn, my ook aangemoedig, en op skool was daar my onderwysers wat my opstelle geprys het. My proefleser, Ronel Dunn van PENdit.za, het my behoorlik onder die bas geskop en gesê ek móét ’n boek publiseer (dit was die ontstaan van Engela).
• Wat het jou oorspronklik na die wêreld van boeke en stories aangetrek? Van kleintyd het my ma my saam biblioteek toe geneem. Vanaf agtjarige ouderdom het ek alleen saans biblioteek toe gestap om boeke vir my pa uit te neem. Ek kon skaars lees, maar ek het die boeke gekies volgens die omslag. As die prentjie vir my mooi was, was dit ’n goeie boek – of so het ek geglo.
Ons het ook by die kinderbiblioteek aangesluit en as ’n tiener het ek Saterdae omtrent in ’n boekwinkel of die imposante ou biblioteek in Port Elizabeth geboer. Ek het veral ou boeke nageslaan en destyds kon jy selfs plate uitneem.
Ek is steeds lief vir biblioteke en ou boeke, maar ongelukkig het die oorspronklike dorpsbiblioteek afgebrand en die huidige een laat veel te wense oor.
• Hoe lyk jou gewone skryfproses — is jy iemand wat deeglik beplan of eerder spontaan skryf? Ek skryf spontaan en weet nooit hoe die boek of kortverhaal gaan eindig nie. Die slot van ’n verhaal is vir my belangrik en as die slot mý verras is dit vanselfsprekend dat dit ook die leser sal verras.
• Wat is vir jou die moeilikste deel van die skryfproses? Die moeilikste deel vir my is om ‘n storie te verkort – om sekere gedeeltes uit te haal of dialoog te sny. Ek hou ook nie daarvan om ’n karakter in ’n storie die ewigheid in te stuur nie, maar soms is dit noodsaaklik.
•
Is
daar sekere temas of tipe karakters waarna jy telkens terugkeer?
Daar
kom gereeld nostalgie as tema voor. Die karakters in my
komedieboeke, Die Griesels van Poespasvlei (Deel 1 & 2), is
my gunsteling. Ek verlang so erg na hulle dat ek glad ’n derde boek
oorweeg. Ek ken elke karakter se doen en late, hul verlede en sonde,
goed en kwaad en waarvan hulle hou en nie hou nie – selfs hul
intieme geheime!
• Hoe hanteer jy tye wanneer inspirasie nie maklik kom nie? Ek gaan soek inspirasie − ’n foto, prentjie, of iets uit die verlede, skop my verbeelding weer aan die brand. Ek lees selfs die HAT en glo my, ek word daardeur geïnspireer!
• Jy werk deur NS. Skrywershuis met baie nuwe skrywers. Wat is die grootste uitdaging waarmee beginners gewoonlik worstel? Beginners wil alles in een paragraaf en een sin in detail vertel! Dialoog ontbreek en karakters klink almal dieselfde. Daar is ’n fyn lyn tussen die storie vertel en die storie inkleur. Die goue reël bly maar ‘minder is meer’. So die grootste uitdaging is om daardie beginpunt reg te bewoord.
• Wat laat ’n manuskrip vir jou uitstaan? ’n Begin wat my aanhou laat lees en daardie onverwagse en onvoorspelbare einde. Ek is glad nie lief vir liefdesverhale nie, want mens weet tog wat op die einde gaan gebeur, maar ek bewonder die skrywers wat dit regkry om die leser se aandag te behou. Nuwe temas − buite die boks − is ook altyd vir my ’n groot plus.
• Is daar algemene foute wat jy gereeld in manuskripte raaklees? Meeste skrywers is nie taalkundiges nie. Los- en vasskryf van woorde, leestekens en paragrawe kan ’n nagmerrie wees.
• Hoe ervaar jy die huidige stand van Afrikaanse skryfwerk en publikasies? Daar is ’n paar kleiner uitgewers wat werklik goeie boeke publiseer en dan is daar ’n paar wat regtig die kleiner uitgewery se naam beledig met die swak kwaliteit van hul boeke.
Daar is wonderlike talent wat nog ontgin moet word en net nie genoeg blootstelling nie. Kom ons wees eerlik – by groot uitgewers gaan dit oor watter naam bring die meeste geld in.
Dit is vir my belangrik om te bly soek na daardie talent en blootstelling te gee waar ek kan. Almal wil by die groot deure gaan aanklop, maar die groot deure maak nie almal oop vir die klein mannetjies nie.
Wat wel ’n bydrae kan maak is die verskeie leesfeeste. Hier kan nuwe talent voorgestel en goeie boeke blootgestel word.
• Dink jy daar is genoeg geleenthede vir nuwe Afrikaanse skrywers? Ja en nee. Dit hang alles af watter uitgewer jy gebruik.
Kompetisies is ’n aansporing en hoef nie noodwendig te gaan oor die prysgeld en die titel nie. Om te publiseer kan ’n duur proses wees en nuwe Afrikaanse skrywers het nie altyd daardie befondsing nie.
• Wat maak Afrikaans vir jou ’n besondere taal om in te skryf? Afrikaans is net só ’n pragtige taal met soveel invloede. Dit is ’n taal waarin jy jou regtig goed kan uitdruk. Kyk net na ons mooi beeldspraak, vergelykings en idiome. Jy kan woorde skep en buig – jy kan skeppend wees en dit is vir my tog te heerlik. Afrikaans is soos klei; jy kan daarmee speel.
• Is daar iets wat jy graag meer in Afrikaanse literatuur sou wou sien? Dalk kyk ek dit mis, maar ek sal graag meer teaterstukke in publikasie wil sien – veral vir skole se gebruik.
Die liriekekuns word ook afgeskeep. Ons hoor ’n sanger sing, maar wie het die lirieke geskryf? Word daar die nodige aandag aan hierdie kuns gegee en diegene wat dit beoefen, of word hulle net beskou as ‘rympiemakers’?
•
Wat
het jou geïnspireer om NS. Skrywershuis te begin?
Covid.
Ek was vreeslik
verveeld, maar ek het ook gesien dat daar ’n
tekortkoming in die mark is vir goeie gehalte boeke wat vir lesers
bekostigbaar is en wat die skrywer ook nie ’n fortuin sal kos nie.
Ek het ook gesien dat beginnerskrywers uitgebuit word net omdat
hulle nie met die publikasieproses vertroud is nie.
’n Goeie boek is ‘n goed versorgde manuskrip met ’n goeie storielyn en ’n aantreklike omslag, en wat ook goed gebind is. Ek het agtergekom baie van hierdie elemente het ontbreek.
NS. Skrywershuis se hoofdoelwit is dus om talentvolle skrywers die geleentheid te gee om ’n goed geredigeerde manuskrip te publiseer en blootstelling te kry deur effektiewe en doelgerigte bemarking. En natuurlik om dit bekostigbaar te maak om die droom van ’n skrywer te bewaarheid deur lae kostes, maar hoogstaande kwaliteit.
• Hoe verskil NS. Skrywershuis van tradisionele publikasiekanale? Ek doen deeglike bemarking en maak gebruik van instrumente wat ek self geskep het, soos bv. Naskrif – ’n gratis digitale glanstydskrif en ’n eerste deur ’n uitgewer. Ek werk graag saam met ander uitgewers wat hul sout werd is.
NS. Skrywershuis het selfs ’n virtuele ‘koffiekroeg’ waar lesers ’n gedeelte uit ’n boek kan lees. Ek vervaardig soms ook ’n promosievideo’s om boeke te bemark. Dit maak van Ns. Skrywershuis ’n eerste op baie gebiede.
Ek neem geen presentasie van die tantième op verkope nie en betaal die skrywer sy volle wins op elke verkope. My uitgangspunt is dat ek skrywers wil help en dit is immers hulle skryfwerk – hoe kan ek ’n gedeelte van die wins op hulle werk eis?
Dit is vir my belangrik om so gou as moontlik net die beste diens te lewer – selfs aan die moeilike, haastige (en soms lastige!) kliënt. Dit verg baie lang ure, geduld en deursettingsvermoë.
• Wat beteken dit vir jou om ander skrywers te help ontwikkel? Dit is geweldig bevredigend en die dankbaarheid vanaf die skrywer is motiverende oomblikke. Ek geniet dit ten volle, alhoewel ek baie van my tyd moet afstaan en dit beteken ook om myself soms af te skeep.
Omdat dit my passie is word werk ’n plesier en put ek soveel daaruit. En só leer ek ook. Met ’n goeie ondersteuningsnetwerk help ek nie net die skrywer nie, maar ek help ook myself.
• Watter boek het jou persoonlik die meeste beïnvloed? Daar is so baie boeke en skrywers – Stories van Rivierplaas, Dalene Matthee se boeke, Elise Muller, Elsa Joubert, Andre P. Brink – die lys is oneindig!
• As jy nie geskryf het nie, wat dink jy sou jy vandag gedoen het? Liewe aarde, seker in ’n malhuis gesit en my duime gerol het. Ek werk al jare steeds in die gasvryheidsbedryf. Ek wou graag ’n akteur, pianis, orrelis, onderwyser, omroeper, skilder, sanger en predikant geword het. Moontlik een van daardie beroepe, sou ek dink.
• Hoe balanseer jy die kreatiewe en sakekant van die boekwêreld? Ek doen wat ek moet doen en maak tyd vir elke ding. Dit is nie maklik nie, maar op een of ander manier kry ek dit reg – van vroeg tot moeg.
•
Wat
doen jy graag buite skryf en publikasiewerk?
Naskrif
neem
baie van my tyd in beslag en ek werk ook voltyds. Vanaf so
negeuur in die aand maak ek tyd vir iets anders. Tans skryf ek
lirieke en gebruik KI vir sang en musiek. Ek geniet dit terdeë en
vind dit werklik skeppend. Ongelukkig is dit weereens ‘n geval van
fondse – om ’n lied op te neem kos duisende rande en professionele
sangers kry oorgenoeg lirieke om op te neem. Ek en KI is nou gróót
vriende!
Ek dien ook op ’n komitee van ons museums op my dorp. Ons doen fondsinsameling om ons museums op te knap weens gruwelike nalatigheid, min fondse vanaf die regering en vandalisme. Ons wil alles herstel en dit bewaar soos dit bewaar móét word. Hier kan ek ook my kreatiewe sy goed inspan.
Ek word ook besig gehou met allerlei ander take waar ek ander instansies help.
• Wat hoop jy lesers neem saam nadat hulle een van jou boeke gelees het? Indien dit komedie was, dat hulle lekker gelag en ontspan het, maar ook die ernstigheid daarin kon raaklees. Ek sal ook graag wou sien dat elke leser iets saamneem wat vir húlle kosbaar en betekenisvol is.
• Watter raad sou jy gee aan jong mense wat vandag droom om skrywers te word? Lees, skryf, lees meer en skryf neer. Elke mens het ’n storie om te vertel. Moenie skaam wees om daardie storie te deel nie, al is jy jonk. Sluit aan by ’n skryfskool, doen skryfkursusse en slaan ag op wat jy leer. Wanneer jy jonk begin het jy hopelik ’n lang lewe om as skrywer ’n sukses te maak. Alles neem tyd en wanneer jou lewe voor jou lê het jy baie tyd – maar tyd gaan gouer verby as wat jy dink. Neem hierdie leuse aan: Doen dit nou!
Wanneer jou werk nie aanvaar word nie, sien dit as ’n kompliment en nie ’n dwarsklap nie. Hou aan probeer. Waar daar ’n wil is, is ’n weg.
• Waaroor droom jy nog vir die toekoms — vir jouself én vir Afrikaans? Ek sou wat wou gee om ’n boekhuis te besit. ’n Ou huis met kamers wat ek omskep in ... (nee, dit is ’n geheim), ’n boekmuseum en biblioteek vir dié wat regtig nie boeke kan bekostig nie, maar gretig is om te lees. Ek het klaar drie ou tikmasjiene en ’n paar ou boeke – dit is ’n klein begin, maar ek wil gróót gaan. Ek raak heeltemal liries as ek daaraan dink, maar ek hou my idees geheim vir daardie dag.
Vir Afrikaans droom ek oor ’n kleurvolle toekoms, so kleurvol as wat die taal is. Daarom is ek ook dankbaar vir die FAK, dr. Fanie Marais van Cordis Trust, Maroela Media, SA Vryskutskrywer, LitNET, Johan Allers van Allesfrikaans en vele ander wat ons taal bevorder.
• Voltooi die sin: “’n Goeie storie is een wat … my bybly tot in lengte van dae.”

Ø Klik hier om NS. Skrywershuis se webblad te besoek, volg Nico hier op Facebook, hier op Amazon, kry van sy boeke hier en lees die jongste uitgawe van Naskrif hier.
© 2026. SA Vryskutskrywer
|
| ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 








