


Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunstelingskrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
Jaco jacobs
Daar is min Afrikaanse skrywers wie se boeke só diep in kinderdae ingeweef geraak het soos dié van Jaco Jacobs. Vir ‘n kwarteeu al laat hy jong lesers lag, droom, wonder en soms selfs stil raak oor dinge waarvoor grootmense nie altyd woorde het nie. En hierdie maand het hy nóg ’n merkwaardige mylpaal bereik met die publikasie van sy 300ste boek, Vreemde dinge kan op ‘n Dinsdag gebeur − ’n prestasie wat min skrywers in enige genre kan ewenaar - veral in Suid-Afrika.
Maar agter al die geliefde stories, humor en onvergeetlike karakters is daar ’n skrywer wat diep nadink oor kinderwees, verbeelding, kreatiwiteit en die vreemde manier waarop stories saam met ’n mens groei. In hierdie onderhoud gesels Jaco openhartig oor die kind wat hy steeds in hom ronddra, die boeke wat hy vandag anders sou skryf, waarom hy nooit op jong lesers “afskryf” nie, en hoe dit voel om ná 25 jaar steeds nuwe maniere te soek om homself uit te daag.
Hierdie is ’n gesprek vol humor, eerlikheid, nostalgie en klein verrassings − presies soos ’n Jaco Jacobs-storie.
-
As jou boeke ’n geheime boodskap bevat wat niemand nog raakgesien het nie − wat sou dit wees?
Sjoe, jy skop
sommer af met ’n vraag wat my lekker laat kopkrap. ’n Geheime
boodskap? Ek weet nie regtig nie. Al die jare nog probeer ek
doelbewus wegbly van “boodskappe” of “lesse” in my boeke − ’n storie
wat eerlik vertel word, met oortuigende karakters, dra sy eie
boodskappe oor sonder dat jy as skrywer daarmee hoef in te meng.
Maar om jou vraag te beantwoord: Kinders is slimmer en sien meer
raak as wat die meeste volwassenes dink. Dit is iets wat ek hoop in
al my boeke deurskemer. En ek respekteer my jong lesers en probeer
om nooit, ooit “af te skryf” na hulle nie.
(Op ’n prettiger noot: Ek steek soms “paaseiers” in my boeke weg – daar’s byvoorbeeld ’n baie irriterende sangeres met die naam Dezi Bell wat in hope van my stories opduik.)
-
Watter vraag wens jy iemand een keer vir jou sou vra in ’n onderhoud?
“So, Jaco, hoe voel jy oor die nuus dat ’n Amerikaanse dollar-miljardêr besluit het om jou met ’n sewesyfer-meevallertjie te verras?”
-
As jy vir een dag ’n karakter uit jou eie boeke moes wees − wie kies jy, en hoekom?
Ek sou Timo in Die weerligvoël wou wees. Nes hy is ek baie lief vir diere, en dit moet ongelooflik opwindend wees om met diere te kan kommunikeer. Boonop beland hy pens en pootjies in ’n avontuur wat so ’n bietjie aan iets uit Jurassic Park herinner − dis my eie grootste kinderdroom wat waar word.
-
Ná meer as 300 boeke: wat het jy eers laat in jou loopbaan begin verstaan van stories wat jy dalk aan die begin nie geweet het nie?

Verlede jaar het die uitgewery Jonathan Ball my die geleentheid gegee om die heel eerste boek wat ek geskryf het, Pretpark, te hersien vir ’n heruitgawe. Dit was nogal ’n skrikwekkende idee − om weer te werk aan iets wat jy meer as 25 jaar gelede geskryf het toe jy 18 jaar oud was. En weet jy, ja, daar was dinge wat my ’n bietjie laat cringe het − die taalgebruik en ietwat stereotipiese verwysings na meisiekarakters, byvoorbeeld. (Maar hei, ek was ’n 18-jarige laaitie!) Ek is bly ek kon daaraan skaaf. Maar op die ou end, toe ek daarmee klaar was, het ek gedink: Sjoe, dankie tog − dis regtig ’n lekker storie en ek is bly ek kon dit vir ’n nuwe geslag lesers afstof.
Die afgelope 25 jaar het ek hopelik ’n paar dinge oor dialoog en karakterisering en beskrywing geleer wat ek dalk nie as ambisieuse, voortvarende jongeling so goed onder die knie gehad het nie, maar my liefde vir stories het oor die jare dieselfde gebly.
-
Het jou idee van wat ’n “goeie storie” is verander tussen jou eerste en jou driehonderdste boek?
Nee, glad nie. ’n Goeie storie is een wat jou vasgenael hou; waarin jy iets van jouself in die karakters herken, ongeag hoe ver hulle van jou eie leefwêreld verwyderd is; wat jou vir ’n wyle uit jou eie skoene en jou eie vel en jou eie leefwêreld wegneem. Dis hoe ek as beginnerskrywer oor stories gevoel het, en dit is hoe ek vandag steeds daaroor voel.
-
Is daar ’n boek wat jy vandag nie meer sou kon skryf nie − nie omdat jy nie kan nie, maar omdat jy nie meer dieselfde mens is nie?
Dit is een van die
slimste vrae wat ek seker ooit gekry het. Ek het, om die waarheid te
sê, nou voor my boekrak gaan staan en al my publikasies met ’n
glimlag deurgekyk. Ek dink nie ek sal ooit weer Tania Brink wees wat
liefdesverhale vir tieners geskryf het nie. Ek was in my twintigs
toe ek meeste van daardie skuilnaamboeke geskryf het. My oudste
dogter, Mia (14), het die boeke onlangs verslind, maar sy skud haar
kop in ongeloof elke keer as sy daaraan dink dat haar pa die boeke
geskryf het. Sy sê ek skuld haar ’n vervolg op Ouens is nie
pizzas nie. Dit is dalk ’n lekker uitdaging om weer ’n slag ’n
romantiese tienerstorie te skryf. Ek hou daarvan om myself uit te
daag.
-
Wanneer jy vir kinders skryf − wie lei jou meer: die kind wat jy was, of die volwassene wat jy is?
Die kind wat ek was, sonder twyfel. Ek kan my kinderjare intens en helder onthou. Wanneer ek droom, is ek dikwels terug op my grootwordplaas of op die skoolbanke. Ek kan onthou watter boeke my betower het, hoe dit gevoel het om geboelie te word of wanneer jou beste maat wegtrek. Ek kan grappies en rympies en stories uit my kinderdae onthou. Al my skryfwerk het iets van daardie kinderwêreld van my in.
-
Watter skryf-“reël” verbreek jy doelbewus?
Aan die beginjare van my publikasieloopbaan het ’n uitgewer vir my gesê sy is bereid om my werk uit te gee, maar ’n skrywer moet nie meer as een boek per jaar publiseer nie. Nou, 25 jaar en 300 boeke later, het ek op die ou end gemiddeld een boek per maand gepubliseer, en nie een van daardie boeke was, na die beste van my wete, ’n ramp wat verkope betref nie.
-
Het jy al ooit ’n karakter geskep wat jou later ontstel het?
Ek weet nie soseer van ’n karakter nie, maar toe ek die fliek Nul is nie niks nie (gegrond op my jeugroman Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word) die eerste keer gekyk het, het dit my hart gebreek om die naam van een van my karakters op ’n grafsteen te sien. Ek onthou hoe ek gehuil het toe ek daardie toneel geskryf het, maar om dit só te sien, op ’n groot skerm, het vir my so half ... ernstig laat voel. So finaal. Dit het my weer eens laat besef dat storiekarakters op ’n manier as regte mense in jou brein leef.
-
As jou karakters oor jou moes skryf − hoe sou hulle jou beskryf?
Die meeste van my jong karakters se lewe is so vol pret en opwinding, ek dink hulle het veel beter dinge om te doen as om te gaan sit en oor die lewe van ’n 46-jarige skrywer te skryf. Ek dink die meeste van hulle sal saamstem oor ’n beskrywing soos: “Hy draf, versamel PEZ, hou van tamatiesap en cool sokkies, en het ’n oulike gesin en te veel troeteldiere. Maar eintlik is hy eintlik maar effe vervelig − tot hy tyd saam met ons deurbring.”
-
Wat is die eerlikste ding wat jy nog nooit in ’n boek durf inskryf het nie en hoekom?
Sommige skrywers hou daarvan om die heeltyd op netelige kwessies in kinder- en tienerboeke te fokus. Dié myns insiens soms effe oordrewe beheptheid met “taboe”- of “uitdagende” temas het my nog altyd ’n bietjie geïrriteer. In Afrikaans, spesifiek, was daar ’n ruk lank so half die idee dat ’n tienerstorie slegs “goed” is indien dit kwessies takel wat volwassenes se oë laat rek – of so het dit vir my gevoel.
Daarmee sê ek nie dat ernstige en omstrede kwessies nié in jongmensliteratuur hoort nie.
Dis net nie regtig mý ding nie.
Dis nie eens dat ek myself sensor of so iets nie. My storiebrein werk net anders. Ek het nog nooit gevoel ek “durf” nie oor ’n sekere onderwerp skryf nie – my gevoel is net dat seks en dwelms en vooroordeel en geestesversteurings nie die enigste kwessies is waarmee kinders en jong mense worstel nie. Daar is ander dinge wat my storiebrein prikkel – kwessies soos hoe dit voel om ’n middelkind te wees (’n Goeie dag vir boomklim), hoe dit voel as jou ouers skei (ook ’n Goeie dag vir boomklim), hoe jy dit hanteer as jou beste maat wegtrek (As ’n olifant op jou val), hoe jy groepsdruk hanteer (Dinge wat ek nie van skape geweet het nie), en die effek van afwesige ouers (Oupa Zombie). In al hierdie voorbeelde wat ek noem, het die “kwessies” egter nooit vir my sentraal gestaan nie – dit gaan allereers oor die storie.

-
Wat verstaan Suid-Afrikaanse kinders van die wêreld wat volwassenes soms miskyk?
Kinders verstaan in die algemeen veel, veel meer as wat sommige grootmense dink. Die gedagte dat kinders bykans ’n aparte spesie is, het my nog altyd geïrriteer.
Maar kom ek gee ’n “mooi” antwoord op jou vraag: Kinders verstaan dat die wêreld ’n wonderlike, regverdige plek vol betowering en verwondering kan wees.
Ons as volwassenes laat hulle dikwels net nie toe om baie lank aan te hou om dit te glo nie.
-
Is daar stories wat jy voel nog nie vertel word in Afrikaanse kinderboeke nie?
Daar is myns insiens steeds veels te min kinderboeke deur bruin skrywers. Ek dink daar is ’n skatkis van stories wat nog vertel moet word.
-
Wat het skryf jou oor jouself geleer wat niks anders kon nie?
Skryf het my geleer hoe ontsaglik belangrik dit is om jou “ding” te vind − daardie iets wat jou opgewonde maak, wat jou tuis laat voel in jou eie vel, wat jou laat voel asof jy doen wat jy veronderstel is om in die wêreld te doen. Ek kry mense jammer wat dit nooit vind nie, en ek is bitter dankbaar dat ek van jongs af geweet het dít is wat ek veronderstel is om te doen.
-
As iemand oor 100 jaar jou boeke lees − wat hoop jy bly oor?
Die stories, en die pret. Maak nie saak hoeveel die wêreld oor 100 jaar verander nie − ek hoop as iemand iewers in ’n museum of in Oumagrootjie se boekrak een van my stowwerige boeke ontdek en daardeur blaai, iets daarin hulle steeds sal laat glimlag. Al is dit ook net die wonderlike reuk van ’n ou boek.
EN TEN SLOTTE ...
-
Wat is die gevaarlikste ding van om so lank suksesvol te wees as skrywer?
Waarskynlik maar dat ’n mens sal begin om jouself te herhaal. Dis iets waarteen ek doelbewus probeer waak. Een voordeel van die genre waarin ek skryf, is dat dit so uiteenlopend is − daar is ’n wêreld se verskil tussen die skryf van ’n tienerboek en ’n prenteboek, ’n leesreeks en ’n rympieboek. Dis vir my een van die lekkertes van skryf, om tussen die verskillende subgenres te wissel en myself voortdurend uit te daag en te probeer vernuwe.
Daar is seker ook die gevaar dat ’n mens sukses as vanselfsprekend begin aanvaar, en dat die gehalte van jou werk daaronder ly. Dit is waarom ek dankbaar is dat my uitgewer van die afgelope 25 jaar, Miemie du Plessis, steeds die een is wat my boeke uitgee en ’n wakende oog oor my loopbaan en my werk hou. Miemie glo, nes ek, dat jy jou jong leser moet respekteer – en ek vertrou haar om nooit iets te publiseer wat sy voel swakker as my ander werk is nie.
Ø Klik hier om Jaco se webblad te besoek, volg hom hier op Facebook, hier op Amazon, en koop van sy boeke hier, besoek sy LAPA Uitgewers-blad hier en klik hier om deel te neem aan die Jaco Jacobs-leesuitdaging by PanMacmillan.
Profielfoto: Pan Macmillan
© 2026. SA Vryskutskrywer
|
| ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 









