


Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunstelingskrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
erika barnes
As digter en skrywer wat haar Afrikaanse stem vanuit die Verenigde Arabiese Emirate laat weerklink, beliggaam Erika Barnes die krag van taal oor grense heen. Haar digbundel, KLEURVOL, is diep gewortel in temas van diaspora, verlange, verbode liefde, hoop en aanvaarding — ’n poëtiese ruimte waar emosie, kleur en eerlikheid mekaar ontmoet. In hierdie skrywersonderhoud gesels ons met haar oor hoe afstand haar taal verryk eerder as verswak, hoe nuwe landskappe en kulture haar beeldspraak verdiep, en hoe sy deur rou, storiegedrewe poësie ’n viering van liefde en hoop skep wat ver buite Suid-Afrika resoneer.
-
Jy woon tans in die VAE en skryf in Afrikaans. Hoe beïnvloed jou omgewing jou taalgebruik en die temas in jou gedigte?

Dis eintlik baie interessant, mens sou dink om in die buiteland te bly − veral ‘n plek soos die VAE − dat jy eerstens minder Afrikaans praat en derhalwe minder skryf. Vir my is dit eintlik heeltemal anders. Om eerlik te wees, ek praat en skryf meer Afrikaans hier as toe ek in Durban gewoon het! Maar om jou vraag te beantwoord: die omgewing bring baie inspirasie, miskien grootliks omdat jy uit jou “comfort zone” is, tussen nuwe kulture woon en daardeur nuwe idees en waarnemings tot jou gebruik het. Die leefstyl en natuur bring ook baie nuwe temas in. Ek skryf baie oor die gevoel wat ‘n plek bring – asof jy die plek leer ken en ontmoet vir wat dit regtig is − sy emosies, gedrag en dinamika. Dit leer jou om nuwe plekke én jou eie land te waardeer vir wat dit is. So hier is ek bederf met inspirasie. Die woestyn is ook een van my gunstelingplekke om te skryf – dit bring ‘n kalmte en stilte in my denke en herinner my hoe diep woorde kan raak.
-
Voel jy dat die afstand van Suid-Afrika jou Afrikaanse stem sterker, vryer of selfs anders maak?
Ek sou sê vir seker vryer, sterker en anders in die sin dat jy anders begin dink en jouself uitdaag om nie net vanuit die lens van Afrikaans of Suid-Afrika te skryf nie. Ek dink ook tot ‘n sekere mate liberaal, as ek nou braaf kan wees. Jy het ‘n verwysingspunt van die huis en jou taal en wat in jou hart aangaan, en jy bring dit na ‘n nuwe plek waar jy voel jou stem sterkter en harder word, en dan skryf jy dit op papier neer.
-
Hoe beïnvloed hierdie afstand jou manier van dink en voel oor die taal? Verander dit die manier waarop jy metafore en beelde kies?
Ek mis my taal vreeslik, al praat ons baie Afrikaans hier en, al is daar ‘n geweldige groot Suid-Afrikaanse gemeenskap, mis ek die samesyn en taal al meer. Jy is in ‘n pot van tale van oral om die wêreld − so dat jy naderhand geëerd voel om jouself te kan wees in jou eie taal en so jouself te kan uitdruk. Daar is iets rondom Afrikaans wat dit so spesiaal maak dat wanneer jy dit hoor (hier of tuis), word jou hart sommer warm. Ek is baie trots op ons taal.
Ek kan dus beslis sê die afstand beïnvloed my metafore en beeldspraak grootliks op so manier dat nostalgie, verlange, aanvaarding, nuwe avonture en aanpassing ‘n groot rol speel in my keuse van woorde, metafore en beelde.
-
Verbode liefde is sentraal in jou bundel. Wat het jou geïnspireer om hierdie tema te ondersoek, en hoe het jy dit poëties benader sonder dat dit voorspelbaar voel?
Die tema is persoonlik (“story based on true events”), nie net in my eie lewe nie, maar ook in mense na aan my. Dis ‘n tema wat my ook al lank na aan hart lê – selfs nog voordat ek persoonlik daardeur was. Ek is nog altyd verstom dat liefde “verbode” kan wees in sommige harte en wou die tema dieper ondersoek, nie net om dit self te verstaan nie, maar ook om ‘n plek van hoop en uitkoms te vind.
Die idee was altyd om ‘n storie in digvorm te vertel − soos wat mens ‘n storieboek sal lees en opgewonde is om te sien hoe die karakters saamkom en uiteindelik ook hoe die storie gaan eindig. Dit was die sentrale tema − om die voorspelbaarheid te verminder.

-
Die titel suggereer ‘n viering van hoop en liefde. Watter proses het jy gebruik om hierdie “kleure” in jou gedigte vas te vang — letterlik en figuurlik?
Sjoe, dié was seker die moeilikste en interessantste deel van die boek. Dit het my lank geneem om die regte woorde te kies om juis die gesamentlike tema van kleur en hoop vas te vang. Ek het aanvanklik begin met net twee kleure wat gebaseer is op een van die stukke in die boek. Soos die boek ontwikkel het, het dit naderhand nie mooi gepas nie aangesien dit meer gefokus het op een hoofstuk eerder as die boek se tema in geheel. Daarna het ek gekyk na woorde en beelde wat rondom ‘n reënboog vorm om die sentrale tema van hoop deur te bring. Die boek is so geskryf om op verskillende temas van kleur te fokus (fisiese kleur, velkleur, taal, emosie, direkte en indirekte betekenisse, ens.) So baie van die gedigte is geskryf met die reënboog as inspirasie, asook velkleur, diversiteit en taal. Liefde en hoop is tog na alles kleurvol. Maar ek wil nie die boek bederf deur die belangrikste inspirasie van hoop en kleur te deel nie − dit is vir die leser om te ontdek.
-
Daar is ‘n botsing van wêrelde in jou bundel. Hoe het jy daardie konflik dramaties, maar poëties, oorgedra?
Ek het gebruik gemaak van kort dramatiese frases in my hoofstukke wat elk ‘n storie op sy eie vertel en misterie in die leser uitlok. Ek het ook die gebruik van kleure en kontras ingebring, asook die rou eerlikheid wat soms moeilik of ongemaklik is om te lees. Ek wou hê die boek moet meer as net een emosie, kleur en taal verteenwoordig, en die leser uitdaag om dieper te dink oor die wêrelde aan beide kante om uiteindelik die uitkoms van hoop en kleur te verstaan.
-
Is daar ‘n gedig of beeld in KLEURVOL wat vir jou die moeilikste was om te skryf, en indien wel: hoekom?
Ja, die beeld van hoop en kleur as ‘n kombinasie was nogal ‘n uitdaging. Die idee was om seker te maak dat die hoop sterker uitkom in die boek as die ‘moeilike’ oomblikke en dat die leser die beeld van kleur in al sy vorme kan raaksien en waardeer. Asook hoe beide temas saamsmelt in ‘n enkele boodskap.
-
Hoe begin jy tipies ‘n gedig — met beeld, emosie, woorde, of ‘n storie?
Ek sou sê ‘meeste van die tyd neig dit meer na ‘n emosie of gebeurtenis wat my inspireer of pla.
-
Jy publiseer self. Watter uitdagings en verrassings het jy op daardie pad teëgekom?
Een van die groot uitdagings was tyd − hoe om jouself by jou eie tydlyn te hou en te motiveer. Omdat ek dit nog nie voorheen gedoen het nie, was ek onseker hoe lank sekere dinge sou neem en soms was ek ‘n bietjie ongeduldig. Dit het my geduld geleer en vir seker ook hoe om beter te beplan.
Die ander uitdaging waarmee ek gestoei het, was dat daar meer “nee’s” as “ja’s” is op die avontuur van selfpublikasie. Dis moeilik om jou werk op plekke te kry waar tradisionele publikasies dit baie maklik maak. En dis deel van die proses, maar weereens leer dit jou dat uithouer wen. Verrassings in dié geval is eintlik hoe maklik dit is om jou eie boek te publiseer, te bemark en uit te stuur as jy wel ‘n goeie plan van aksie het. Moet my nie verkeerd verstaan nie, dis harde werk as jy dit ‘n sukses wil maak, maar dis absoluut doenbaar. Dit was lekker om nuwe dinge te leer.
-
Watter tipe oefening of ritueel help jou om jou kreatiewe “kleure” oop te vlek wanneer jy vasval?
Eenvoudig: ‘n bietjie wyn, “Indie”-musiek en die see!
-
Is daar ‘n gedig in KLEURVOL wat jou lewe of emosies die beste weerspieël?
Dis ‘n moeilike een om te kies, maar ek dink dié een pas die beste – die gedig se titel is ‘chaos’:
vat my hand
kom ons dans in die chaos
asof die wêreld mal word
en ons koppe nie meer raas nie
-
Hoe hanteer jy die tema van “verbode liefde” op ‘n manier wat hoop en nie net pyn uitbeeld nie?
Vir my is die tema van verbode liefde pragtig. Dit bring uithouvermoë, deernis, vergifnis, dieper konneksie en rekonsiliasie. Ek wou só skryf dat hoop juis sterker deurkom aangesien die leser die donker tye verstaan, deel word van die verhaal en al die aspekte wat die storie en liefde maak wat dit is, en uiteindelik dan daardeur die hoop kan herken.
-
Is daar ‘n gedig wat jy nog nooit geskryf het nie omdat jy bang was dat dit te persoonlik of te intens sou wees? Wat hou jou terug, en wat sou dit vereis om dit tog te skryf?
Ja, daar is eintlik ‘n paar. Die eerlikheid daarin hou my terug; ek voel soms dat dié tipe gedigte brutaal is en soms, as ‘n digter, kom daar oordeel wanneer jy jou hart al die pad oopmaak waar dit in werklikheid die hart ligter maak. Ek dink ek moet net sit en dit skryf − of dit nou gelees word of nie− en indien dit eendag op ander oë val, maak dit dalk ander harte ook ligter.
-
As jy ‘n leser net een gedig uit KLEURVOL sou laat onthou, watter een sou dit wees en hoekom?
Ek kies ‘skatte in jou oë’. Die gedig bring soveel van die boek ineen, asook die gevoel van aanvaarding en verstaan − ongeag die verandering van seisoen, kleur en emosie. Jy sien die skatte raak in oë vol hoop, en verstaan hul diepte.
-
KLEURVOL handel oor hoop en liefde. As jy jou eie lewe as ‘n palet moes beskryf, watter kleure sou jy kies en watter emosies verteenwoordig hulle?
• Hierdie is ‘n interessante vraag. Ek kies geel, pers, blou en groen.
• Geel verteenwoordig geluk en nuwe geleenthede.
• Pers verteenwoordig hoop en motivering.
• Groen vir liefde en groei in die middel van onsekerheid en verandering.
• Blou verteenwoordig kalmte en rustigheid ten spyte van die lewe wat konstant van rigting verander.
-
Jou werk kombineer moderne temas met diep emosionele ondertone. Watter nuwe of eksperimentele vorms wil jy in die toekoms probeer?
Ek skryf meestal in vryevers en die inspirasie vang my enige oomblik; ek is nie gewoond om formeel in verskillende digvorme te skryf nie, so ek dink dit kan interessant wees om myself uit te daag en my kreatiwiteit te toets met ander digvorme, en dalk ook kortverhale. Ek sal graag wil sien hoe ek my manier van skryf kan kombineer met kreatiewe skryfwerk waarin stories en karakters voorkom.
-
Watter boodskap hoop jy dat Afrikaanse poësie aan die wêreld kan bring, veral vanuit jou unieke perspektief as iemand buite Suid-Afrika?
Afrikaans as ‘n geheel en spesifiek Afrikaanse digkuns is soveel sterker as wat ons dink. Die boodskap wat ek wil oordra is dat daar soveel diepte, lekkerte, genesing en samekoms in ons gedigte lê. Wanneer jy ‘n Arabier in Old Town Dubai hoor wat sê: “Dis pragtig!”, dan wéét jy jou taal is spesiaal. Dit reis ver en wyd en verras gereeld. Ek wil ook digters en skrywers uitdaag om buite die boks te dink met hul kuns, en om absoluut verlore te raak in die taal; om die wêreld in hulle en om hulle saam te bring. Om dit uit te lê in ons taal nes óns kan, want Afrikaans is iets anders. “Hulle weet nie wat ons weet nie!”
Ja, ek is reeds besig met die beplanning vir die volgende bundel. Ek sien uit daarna om te sien hoe dit gaan uitwerk en is opgewonde om meer te skryf.
Ø Klik HIER om Erika se webblad te besoek, en hier om Kleurvol te bestel. Volg haar HIER op Facebook.
© 2025. SA Vryskutskrywer
|
| ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 









