


Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunstelingskrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
Louis Holtzhausen
Met Die Skaaktowenaar van Grootbos betree
Louis Holtzhausen die wêreld van kinder- en jeugliteratuur met ’n storie wat speelsheid, verbeelding en lewenswysheid op ’n besonder toeganklike manier kombineer. Deur pratende diere, humoristiese dialoog en ’n avontuurlike storielyn verweef hy die wêreld van skaak met temas soos konsentrasie, deursettingsvermoë, omgee en groei — sonder dat dit ooit soos ’n les voel. In hierdie skrywersonderhoud gesels ons met hom oor die herinneringe en ervarings wat die saad vir die verhaal geplant het, sy kreatiewe proses, die balans tussen vermaak en betekenis, en waarom hy glo dat ’n goeie storie kinders (en volwassenes) kan laat dink, lag én droom.-
Wat het jou geïnspireer om skaak in 'n fantasiestorie met diere te kombineer? Was dit 'n spesifieke oomblik toe jy gedink het: "Hierdie gaan kinders werklik fassineer"?
Onthou jy die dae
van die Storiemanreeks so 35-40 jaar gelede? Heerlike
kinderstories op 'tape' wat kinders kon luister en terselfdertyd in
'n boek volg? 'n Wenresep om kinders se verbeelding aan te gryp en
sommer goeie oefening om te leer lees ook, as jy my vra.

Wanneer ons as gesin die langpad gevat het vir vakansie of watter rede ook al, kon ons nie wag vir die 'tapes' om te begin rol nie. En die kinders koek om die boek saam en baklei as die ou wat boek vashou te lank vat om om te blaai! Veral stories soos Boffie en die onnie-eter ... 'n storie oor 'n bleeksiel slim kind wat 'n masjien ontwerp het waarin jy 'n onderwyser kon indruk en poef! weg is hy! Die masjien kon die onderwyser ook weer terugbring, maar ek dink die kinders kon hulle verkneukel oor die wonderlike vermoë om sê maar 'n spesifieke onderwyser te kan uitsorteer!
In daardie tyd het die kinders ook by die skool begin om groot skaak te speel en ek dink dis ook tóé dat die saadjie gesaai is van stories oor diere wat kan skaak speel — alhoewel ek eers baie jare, na my aftrede, eindelik iets daaraan gedoen gekry het.
-
Hoe het die karakters van Elkie en Ebie ontstaan — het hulle sekere persoonlikheidseienskappe van regte kinders of selfs van jou eie kinderjare geërf?
Die idee is mos maar dat die diere in die storie soos mense optree — dis hulle job, dis wat hulle moet doen — so ja, ek maar net gemaak asof hulle mensekinders is en hulle dinge laat doen soos ek oor die jare maar waargeneem het hoe kinders, en veral skaakkinders, optree!
-
Waarom het jy op eekhorings besluit vir die hoofkarakters?
Dit kon eintlik maar enige diere gewees het, maar eekhorinkies was darem 'n baie oulike opsie. Die eekies is cool en pas perfek in hul rolle!
-
Jou boek leer kinders skaak sonder dat hulle dit agterkom. Hoe balanseer jy die opvoedkundige element met die avontuurlike en komiese verhaal?
Die opvoedkundige element lê nie in die spesifieke dinge van skaak wat die kinderlesers lees nie, maar in die optel en bewuswording van gedragspatrone - weliswaar rondom die tema van 'skaak' — waar goeie gedrag in 'n positiewe lig gestel word, en andersom ook. So die avontuurlike en komiese moet mildelik bydra tot die positiwiteit! Ek moet sê ek dink die storie leen hom ideaal daartoe om soos die Storiemanreeks oudio-visueel bemark te word, maar die begroting is ongelukkig buite bereik. Ek sou ook baie graag wou sien dat die storie as 'n voorgeskrewe boek oorweeg word op laat-laerskoolvlak, maar weet nie eintlik hoe om te werk te gaan nie sonder om in onoorkombare rompslomp vas te loop nie.
-
Watter skaakwenke of -strategieë dink jy is die belangrikste vir jong lesers, en hoe het jy dit op 'n prettige manier in die storie verweef?
Die storie vertel baie van dinge rondom skaak, maar nie detail van die spel soos om spesifieke skuiwe te beskryf nie, want daarvoor is baie verduidelikings en illustrasies nodig wat buite die bestek van 'n storieboek oor skaak val. Daar is wel 'n skaakwebwerf in Afrikaans wat die storie onderskryf en daardie aspekte ten volle dek en ook in die boek na verwys word — www.skaakmat.co.za. Die belangrikste wenke vir beginners? Kyk wat aangaan op die bord, nie soos helikopterskaakspelers wat hulle hande bokant die bord hou en oorhaastig is om te skuif nie. Leer die beginsels van openingespel en moenie net die bestaande openinge met die fênsie name soos papegaaie leer nie. Dis hoekom papegaaie vrot skaakspelers is en juis maar swak vaar in die storie! Daar is baie ander ook ... moenie onnodig, en te gou, tou opgooi nie, oppas vir onversigtige spel wanneer jy ver voorloop, ens.
-
Hoe het jy die skaakstrategieë en -wenke op 'n speelse manier in die storie verweef sodat kinders dit maklik absorbeer sonder dat dit soos "onderrig" voel?
Ek het die trant maar lighartig gehou en kwistig gebruik gemaak van herinneringe uit eie en my kinders se speeldae. Die 'nie soos onderrig voel nie' is 'n belangrike punt. Wanneer die kinderleser die lewenslessie raak lees is dit omdat dit in die konteks van die toneel wat hulle lees en voor hulle afspeel, sin maak ... die kind kan mos sien dis waar ... en dink nie eers daaraan dat daar dalk 'n prekie agter die ding sit nie.
-
Die verkleurmannetjie het 'n misterieuse verlede en die verhaal bevat gevaarlike renosterstropers. Hoe besluit jy watter spanningsvolle elemente geskik is vir kinders en watter te gevaarlik is?
Ek moes maar op eie gevoel staatmaak en waar die situasie selfs onvermydelik is, soos om te verduidelik dat 'skaakmat' beteken 'die koning is dood' om dit op dit op sensitiewe wyse te hanteer.
-
Wat was jou kreatiewe proses om die veld en die diere-karakters so lewendig te maak dat hulle selfs vir volwasse lesers interessant bly?
Kan nie juis sê nie ... maar my persoonlike geneigdheid om op die uitkyk te wees vir die komiese in alledaagse lewensituasies, het baie gehelp ... ek moes myself maar net vrye teuels gegee het!
-
Hoe ontwikkel jy 'n fantasieryke wêreld waarin diere kan praat en skaak speel? Werk jy tipies van 'n storielyn af, of begin jy met karakters en laat die avontuur hulle lei?
Die aanvanklike
breë storielyn was om op een of ander manier 'n dier of diere 'n
belangstelling in skaak te laat kry, en hulle dan per ongeluk 'n
geheime leermeester laat ontdek wat regtig goed is. Ontwikkel dan
alles, ingesluit karakters en toepaslike konfliksituasies van daar
of verder. Was nogal vir my pret! So die eerste kontak met die
eekhorinkies was toe hulle toevallig afkom op veldwagters wat in die
veld skaak speel. En siende dat hulle nou daar is, moet die
veldwagters nie sommer eintlik renosterstropers ook wees nie, want
dit kan mos ekstsra spannend wees?! En die leermeester wat hulle
daarna ontmoet is 'n afgetrede verkleurmannetjie ... maar maak hom
sommer 'n skaakgrootmeester met 'n twyfelagtige verlede ...
beskuldig van kroekery ... moontlik onregverdig. Die eekhorinkies
kan dan sommer ook probeer om uit te vind of hy regtig skuldig is.
En die eekhorinkies kan druk uitoefen om skaak in die skool in te
bring, ens. En dan die groot skoleskaaktoernooi ... drama wanneer
diere nou 'scores oor die skaakbord moet settle' van onderonsies wat
lank terug al in die veld begin het - en dit onder die wakende oog
van Mevrou Kameelperd, die streng en
'geen-nonsies'-toernooidirekteur. En pandemonium wanneer die leeus
tydens hul spelle 'skaak' brul wat tot groot konsternasie onder die
ander spelers lei
—
veral die bokke. Ek kon ryklik put uit my eie en my kinders se
ervarings!
-
Watter onderliggende lewenslesse hoop jy kinders (en selfs volwassenes) sal opneem terwyl hulle Elkie en Ebie se avontuur volg?
Die storie is eerstens om lekkerlees te wees. Die kinderleser moet, wanneer hy die boek neersit, voel die ys is gebreek en 'lyk my skaak is nie net vir bleeksiele nie', dit kan ook pret wees! En volwassenes ? 'dit was oulik maar kan straks ook net my kind wat leerprobleme het, help. Of my kind wat reeds presteer, help om nog beter te doen. En miskien wil ek op my oudag sélf begin skaak speel.'
-
Is daar 'n boodskap oor samewerking, strategie of deursettingsvermoë wat jy spesifiek in die skaakwedstryd ingebou het?
Ek dink dis 'n algemene en sterk gevolg daarvan om skaak te leer speel; dis eintlik nie eers nodig om dit spesifiek in te probeer bou nie!
-
As jy 'n kind vir wie skaak nuut is, 'n enkele toneel sou laat lees, watter een sou dit wees, en wat hoop jy hulle daaruit sal leer of voel?
Dis nou 'n interessante vraag waaroor ek eers mooi moes dink! Maar ek reken miskien, juis vir iemand vir wie skaak nuut is, moet ek sê die toneel waar Ebie met haar boetie gesprek voer oor die hoop dat skaak haar briljant kan maak. Ek herhaal dit hier sommer vir maklike verwysing:

Hoofstuk 4, vanaf 4de paragraaf: Ebie onthou hoe die mense langs die bord gesit het en lank gedink het. Sy vra: "Boetie, ek wonder net - is dit nie ongesond vir die mense om so baie te dink nie?" "Hulle konsentreer net, Sussie." "Foeitog, is dit 'n siekte of iets?" vra Ebie besorg. "Nee, man! 'Konsentreer' is om hard te dink. Dis goed vir jou en dit kan jou slimmer maak." Ebie dink bietjie na en sê: "En as ek vir daardie goedjies kyk, kan dit mý ook slimmer - of miskien selfs briljant - maak?"
Elkie sit effens regopper en vra verbaas: "Wáár kom jy aan dáárdie woord?" "Uhm … verlede kwartaal het meneer Akkerkouertjie in ons klas gesê dat 'n eekie nie briljant hoef te wees om goed te doen in wiskunde nie. Maar dit kan ook nie kwaad doen nie, kan net help, het hy bygesê! So, dis waar ek dit gehoor het! En ek wil briljant wees!" kondig sy aan. "Kan mos nie kwaad doen as ek briljant is nie - kan net help, of hoe?"
Elkie weet self nie heeltemal mooi wat 'briljant' beteken nie, maar vir hom klink die woord darem net 'n bietjie te hoog vir 'n eekhorinkie. Hy mompel onderlangs: "Vergeet vir eers van briljant word, Sussie − dis miskien nog 'n bietjies te ver vir jou." Maar om nie haar gevoelens seer te maak nie sê hy dan meer hoorbaar: "Jááá, natuurlik kan jy eendag briljant word, Sussie!"
-
Jou boek bevat baie onderliggende lewenslesse. Watter een het vir jou die belangrikste gevoel om aan kinders oor te dra, en hoe het jy dit subtiel in die verhaal geïntegreer?
'n Betekenisvolle lewensles is dat te midde van hul lighartige en skertsende gesprekke, daar 'n diepte en opregte omgee in Elkie en Ebie se boetie-sussie verhouding is. En ook eerlike besorgdheid oor hul leermeester se omstandighede. Soos Elkie se stres oor sy sussie wat deur die jakkals gejaag word en toe sy deur die stropers gevang is. En hul vreugdevolle hereniging in daardie situasies getuig van ware omgee vir mekaar.
-
Jou storie is dikwels komies. Hoe vind jy balans tussen humor en die opvoedkundige of spanningsvolle elemente?
Ek probeer maar om altyd die komiese kant van 'n saak in die oog te hou, want daarin is veel verkwikking ... solank dit net nie afbreuk doen aan dit wat ernstig en belangrik is nie. Lighartig, nie ligsinnig nie - daar is 'n fyn verskil tussen die twee.
-
Was daar 'n gedagte of storielyn wat oorspronklik baie ernstig bedoel was, maar later komies geword het?
Soos vroeër genoem
was die aanvanklike idee heelwat meer gerig op skaaklesse self,
totdat ek besluit het die tegniese kennis moet maar op 'n ander
platform geskied (soos op
www.skaakmat.co.za) en die storie gaan 'n storie wees ...
nie 'n les nie!
-
Kinders én volwasse lesers lees jou boek. Wat dink jy oor die dubbele gehoor — het jy die storie spesifiek so geskryf, of het dit natuurlik ontwikkel?
Ek het aanvanklik net jong kinders in gedagte gehad, maar ook gevind dat heelwat volwassenes lewendige belangstelling getoon het. Ek besef dis 'n potensiële konflik, maar dink tog daar is genoeg oorvleuelende belangstelling.
-
Sal jy voortgaan om diere en spel-elemente te gebruik in toekomstige boeke, en is daar iets radikaal nuuts wat jy wil probeer?

Ek het nie iets radikaals in gedagte nie, maar dis nie onmoontlik nie en verdere moontlikhede teen dieselfde agtergrond is ook nie uitgesluit nie!
© 2025. SA Vryskutskrywer
|
| ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 








