


Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunstelingskrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
Paul c. venter
Met ’n skryfloopbaan wat oor genres, platforms en dekades strek, is
Paul C. Venter ’n stem wat moeilik in ’n enkele boksie vasgevang kan word. As skrywer en storieverteller het hy ’n besondere vermoë om komplekse menslike ervarings toeganklik en eerlik te verwoord—of dit nou in die vorm van televisie, prosa of ander narratiewe vorme is. In hierdie onderhoud gesels ons met hom oor sy skryfpad, sy benadering tot storie en karakter, en die insigte wat hy oor die jare opgebou het in ’n bedryf wat voortdurend verander.-
Watter deel van die kreatiewe proses is vir jou die mees onvoorspelbare of selfs verrassendste?
My
kreatiewe proses is instinktief. Ek werk nooit die
“boog”van ‘n karakter uit nie. Ekdoen moeite met name,
baseer dan karakters op werklike mense en plaas hulle in
my heelal waar ek hulle instinktiewe reaksies kan volg
eerder as forseer. So verras hulle my gedurig en, hoop
ek, die kyker of leser ook. Gebeur dit nie, is dit ‘n
karakter wat “nie uit die papier opstaan nie” en ek haal
so ‘n karakter liewer uit die storie. Jy moet nogal
vreesloos wees om so te skryf, want jy volg nie ‘n GPS
nie!
-
Was daar ooit 'n karakter of storielyn wat jy begin het en totaal anders geëindig het as wat jy verwag het? Wat het jou anders laat besluit?
Ek kon nog nooit die einde skryf wat ek myself, ‘n uitgewer of vervaardiger belowe het nie. My karakters, wanneer hulle begin lewe, doen hul eie ding en ek klap hulle net soms terug op ‘n paadjie deur die bos sodat die slange hulle nie vang nie. Ek hoor deesdae dit word glo organies skryf genoem.
-
Hoe werk jy met taal in jou TV-reekse in vergelyking met jou kortverhale en boeke? Probeer jy om 'n spesifieke Afrikaanse “klank” te vang?
In ‘n draaiboek gebruik ek normale praattaal wat natuurlik nie noodwendig taalkundig korrek is nie. In kortverhale en boeke probeer ek dit ook doen, maar ek moet aanvaar daar wag ‘n editor voor wat grammatika op dialoog gaan toepas. It’s in the nature of the beast. My skryfstyl wissel om by die gevoel van die storie te pas; ‘n avontuurverhaal moet vir my gestroop wees van byvoeglike naamwoorde en vinniger lees as wat die geval met iets meer introspektief isIn my jongste manuskrip, A RIVER IN EGYPT, probeer ek wat Herman Charles Bosman gedoen het – Engels wat Afrikaans voel. Dis die storie van die oorlog tussen die laaste twee winkels op ‘n sterwende Karoodorp, en hoe die strawwe kompetisie te ver gegaan het. Dit sluit aan by my TV-reekse, VLUG NA EGIPTE, en TERUG NA EGIPTE, waar ek dieselfde agtergrond en ook van dieselfde karakters gebruik. Dit behoort teen Januarie 2026 beskikbaar te wees.
-
Kan jy 'n storie-idee onthou wat vir jou te intimiderend was om ooit te skryf? Hoekom?
Ek het lank geskop teen die druk van familie om my memoirs te skryf. Dit het ek uiteindelik in A WRITER’S BEST FRIENDS gedoen. Ek het goeie verkope in Australië ek verwag − daar is mense daar wat weet van my − maar nie in Ierland nie − daai bly vir my weird.
-
Watter karakter wat jy geskep het, het die meeste van jou eie ervarings of persoonlikheid weerspieël, selfs al probeer jy om dit te verberg?
Daar is iets van my in elke karakter. Ek “maak nie mense op nie”, ek gebruik regte mense as wegspringplek. Van hulle “groei” met die skryf, maar hulle kom nooit uit niks nie.
-
Wanneer jy vir 'n TV-reeks skryf, hoe balanseer jy die behoefte om vermaak te bied met die dieper menslike temas wat jy wil ondersoek?
Ek dink nie kommersieel nie. As ‘n storie my aangryp, sal dit sekere kykers of lesers ook aangryp – of dit nou ‘n avontuur of introspektiewe storie is. Een van my probleme met huidige TV-drama is die verdomde regulasies – ‘n praattoneel mag nie langer as drie minute wees nie, want dan gaan die kykers glo verveeld raak. Ja, sekerlik die teedrink-tonele van Springbokradio. Daar is ‘n emosionele konfrontasie tussen twee karakters in KONINGS wat nader aan vyf minute duur; jy kon nie daaraan sny nie, en kykers het lank daaroor gepraat.

-
Is daar 'n morele of etiese kwessie wat jy steeds sukkel om in jou stories te hanteer?
Spesifieke godsdiens kan gevaarlik wees. En, ironies, vir my vervelig ook. Nie geloof nie, dit is altyd iewers in my stories omdat dit deel van menswees is.
-
Hoe het die Afrikaanse TV-landskap verander sedert jy begin skryf het, en hoe beïnvloed dit jou werk?
STRAAT was die laaste reeks wat ek geskryf het. Daarna het die TV-bedryf my afgeboek, soort van. Voorleggings van my is net nie meer aanvaar nie. Ek neem aan ek het te oud en uit pas geraak. Ek fokus nou op boeke en af en toe ‘n filmteks. Als Engels.
-
Watter mite of stereotipe oor Afrikaanse karakters wil jy deur jou stories uitdaag?
Ek dink nie so nie. As ek iemand ontmoet en die persoon skree om ‘n karakter in ‘n storie te word, besluit ek nie eers of hy dalk ‘n stereotipe is nie. Hy’s mens. Ek moet hom so skryf dat sy menslikheid bo cliché uitstyg. Ampie en Bart Nel was sogenaamde stereotipes.
-
As jy aan jong Afrikaanse skrywers dink, watter “verbode onderwerp” of gewaagde idee sou jy hulle wil aanspoor om te ondersoek?
Ek wens jong skrywers wil net self wees, wil weier om deur Amerikaanse of Europese skrywers beïnvloed te word. Daar is ‘n vlaag van Afrikaanse misdaadstories basies op oorsese best sellers geskoei. Dit verkoop seker, want dit hou net nie op nie.
-
Is daar 'n oomblik in jou skryfloopbaan wat jou heeltemal van koers laat verander het — 'n les of ervaring wat jy nooit sal vergeet nie?
Ons het reeds hieroor gepraat. Ek moes noodwendig van rigting verander omdat ek nie meer TV-werk kon kry nie. Die les wat ek daaruit geleer het? Moenie oud en polities onkorrek word nie!
-
Hoe hanteer jy skrywersblok en watter oefeninge het werklik vir jou gewerk om dit te oorkom?
Ek het geleer dat om deur kreatiewe droogtes te skryf jy net moet aanhou, jy kan later teruggaan en regmaak wanneer die put weer volgeloop het. Onervare skrywers probeer soms elke sin perfek kry voor hulle verder skryf. Dis hoe skryfblokke ontstaan. Skryf asof jy ‘n lengte wil swem: duik in en hou aan tot jy die ander wal bereik, dan kan jy rustig sit en peins oor hoe goed of vrot jou swemstyl was.
-
As jy na jou eie werk terugkyk, watter storie of karakter maak jou steeds ongemaklik of trots, en hoekom?
Sloet Steenkamp van ARENDE, veral in die eerste reeks van die trilogie. Ek het ‘n aardse Boer probeer skep, toe word ‘n Engelssprekende akteur vir die rol gekies. Ian Roberts was briljant, maar die Engelse klankie van sy Oos-Kaapse herkoms het my gepla. Teen die tweede reeks het ek vrede daarmee gemaak en hom bloot net geniet.

-
As jy ‘n TV-reeks oor jou eie lewe moes skryf, watter gebeurtenis sou jy die moeilikste vind om oop te lê en watter sou jy die interessantste vind?
Ek is in al my TV-reekse, ek en my mense en mense wat ek langs die pad ontmoet het. KONINGS is basies, in vermomde vorm, die Venters se storie. My pa is Dolf Groenewald, sy pad het amper soos Dolf s’n geloop. Die moeilikste tonele om te skryf was dié wat die naaste aan die waarheid was. Dan maak ‘n skrywer homself nogal seer.
-
Watter storie-elemente of genres het jy nog nooit probeer nie, maar voel dalk dat jy dit binnekort wil aanpak?
Ek dink ek het, sonder om dit te beplan, uiteindelik met al die storie-elemente en genres gewerk − dit soms sommer in dieselfde reeks of boek “opgemix” en eers later besef ek het dit gedoen. Dit werk seker maar so by my omdat ek nooit skryf geswot het nie en dus nie die grense voor die tyd geken het nie. My grootste swakheid is dig. Ek kry lag vir myself wanneer ek ernstig probeer gedigte skryf.
-
As jy ‘n karakter kon skep wat net vir jou kon praat en raad gee, wat sou jy hom/haar vra?
Hierdie vraag – oor ‘n karakter wat vir my praat en raad gee − het ek al baie in my stories beantwoord. En met die skep van sulke karakters het ek soms lesse oor my eie lewe geleer, eie swakhede gekonfronteer.
-
Het jy ‘n spesifieke manier van skryf? Soos in ‘n ritueel of sekere tyd van die dag?
Ek probeer elke dag skryf, al is dit net een toneel, ‘n paar bladsye. Ek gaan stap eers ver om daaroor na te dink, so ek begin gewoonlik eers so elfuur in die oggend skryf. Dan hou ek aan tot ek ‘n sekere bladsynommer bereik het. Soms vat dit my heeldag. Na die einde se kant toe skryf ek in die nag ook, want dan ruik die ou perd water. Die derde en laaste Sloet Steenkamp-boek, SLOET IN DIE STORM, het ek feitlik in sy geheel kort voor publikasie oorgeskryf. Sloet as stokou man was vir my hel om te skryf, maar ook ‘n sort bevryding – ek is nou klaar met hom.
-
Wat se raad sou jy aan opkomende skrywers kon gee?
Nuwe skrywers moet skryf. Elke dag. Maak jou foute, dis hoe jy leer – niemand het nog ooit iets uit sukses geleer nie.
-
Watter skryfwerk lê in jou onmiddellike toekoms?
My onmiddellike toekoms? Ek moet die sketse vir A RIVER IN EGYPT doen. Ek wil graag ‘n potloodskets by elke hoofstuk voeg. Dit lyk altyd vir my cute in boeke. My dogter, Christi, hanteer die uitleg van my boeke, sy is my editor, ondersteuner, aanspoorder, publisher, als in een − ek kan nie sonder haar nie. Volgende jaar wag daar ‘n filmteks, en ek begin ook die prikkels van ‘n nuwe boek voel, maar hy het nog nie regtig vorm nie. Die nag kom natuurlik nader ... ek is woes op pad 80 toe, so weet nie of ek dit gaan maak nie …
Ø Klik hier om Paul se webblad te besoek, volg hom hier op Facebook, hier op Amazon, en kry van sy boeke hier en Kindle-boeke hier.
Profielfoto: Huisgenoot (ER. Lombard)
© 2025. SA Vryskutskrywer
|
| ![]() |
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis
skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 









