Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG
Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
Rhona Kotzé
'n Ware verhaal wat 14 jaar geneem het om op papier neer te pen, word binnekort verfilm. Lees in dié dapper skrywer se eie woorde wie sy is en waar Pedale van Papier vandaan kom.
Ek is Rhona Kotzé, skrywer van Pedale van Papier. Ek het voorheen as Rhona Scheepers bekendgestaan, maar sedert my egskeiding en tweede huwelik vyf jaar gelede, skryf ek nou onder my huidige van – Kotzé.
Ek het in Vereeniging grootgeword waarna ek in Potch onderwys gaan studeer het. Ek het twee dogters en vier kleindogters. Ons bly tans in Krugersdorp waar my man, Jean, in die politiek is en ek weer skoolhou nadat ek eintlik vroeg afgetree het om voltyds te kan skryf, maar nou skryf ek weer deeltyds.
Pedale van Papier se titel het ontstaan uit die verlange van die hoofkarakter om klavier te speel. Sy het ʼn talent ontvang en kon reeds van kleins af op gehoor liedjies speel op hulle klein traporreltjie. Later het sy skelm musieklesse geneem en die note op ʼn tamatiekisplankie opgeteken. Dit was natuurlik denkbeeldig weens die afwesigheid van ʼn regte klavier en daar was ook nie pedale nie. Dit het vir my as titel gewerk.
Pedale van Papier handel oor ʼn meisie wie se lewe verwoes word vanaf die ouderdom 13 deur ʼn vertroude pastoor en godsman. Sy het ʼn baie moeilike kinderlewe gehad en hy het toe op haar pad gekom. Sy was op soek na ʼn vaderfiguur en hy het dit alles vir haar gegee in ruil vir sy seksuele eise. Sy vind uit dat sy ʼn aangenome kind is. Haar afwesige pa was ʼn alkoholis en hulle was brandarm. Haar ma het meestal naweke saam gedrink. Sy was ʼn enigste kind wat haar lewe om die godsman gebou het. Vir agt jaar kon sy nie uit hierdie web ontvlug nie.
Later het sy haar biologiese ma opgespoor, maar dit het slegs pyn
tot gevolg gehad. Sy was immers die slegte ding wat in haar ma se
lewe gebeur het. Tog het sy kopgehou en net gewerk. Om lief te hê
was amper onmoontlik. Sy het egter nooit ophou hoop dat die
nagmerries wat sy snags kry sou ophou en die soeke na innerlike
vrede sou stop nie.
Hierdie boek is op my eie lewe gebaseer.
Pedale van Papier is vir die eerste keer in 2015 gepubliseer en die boek was ‘n topverkoper. Dit was ook rooirose se boek van die maand. Ek het twee onderhoude op televisie gehad en ook op die radio. Verskeie onderhoude en besprekings was in die pers, so dit het gelyk asof die boek werklik byval gevind het. Die boek beleef tans ‘n tweede opgawe, wat nogal baie goed is vir ‘n Afrikaanse boek.
Iemand het Pedale van Papier aan Regardt van den Bergh, akteur en filmmaker, gestuur en hy het my toe gebel om te vra of hulle die boek kan verfilm en of hulle ʼn “hold” op die boek kan kry. Dit beteken maar net dat net hulle dit mag verfilm.
Dis nogal vreemd, maar jare gelede, toe Pedale nog in wording was, het ek die gevoel gekry dat dit ʼn fliek sou word. En hier gebeur dit sowaar!
En dis asof ek ‘n gevoel gehad het dat Regardt dit sou doen. Ons het intussen in die Kaap ontmoet en ek glo hy en sy vrou is die beste filmmakers om dit te doen.
Regardt skryf ook self die draaiboek. Hy is juis nou besig met die derde weergawe. Omdat ‘n fliek net 90 minute lank kan wees, moes hy heelwat aan die inhoud van boek sny – sonder om die kern van die storie te verloor. Hy sê dít is vir hom die moeilikste.
Ek verkies om nie insig in die maak van die fliek te hê nie omdat ek eenvoudig nie die kennis het nie en omdat ek Regardt absoluut vertrou. Ek sal wel die finale draaiboek kan lees as ek wil wat eintlik nie nodig gaan wees nie. My menswees word met respek deur hulle behandel.
Ek sal beslis op uitnodiging na die openingsaand gaan, maar ek verskyn glad nie in die fliek nie. Ons is nog nie seker wanneer die vrystellingsdatum is nie, want hierdie is ‘n gróót werk. Dit het my in elk geval 14 jaar geneem om te skryf.
Skryf kom eintlik maklik as ek eers aan die gang kom. Gebeure kom maklik na vore omdat ek ook ʼn goeie verbeelding het. Ek skryf saans en meestal naweke omdat ek nou weer skoolhou.
Die beste is om voltyds te skryf, maar dit is nie altyd moontlik nie so dan soek jy maar ʼn uitweg wat jou pas. Ek begin gewoonlik by die titel van my boek en begin dan van daar af aan die res bou.
Ek erken ek het moeilik geskryf aan Pedale. Omdat dit op my eie lewensverhaal gebaseer is, was dit moeilik en baie emosioneel om te skryf. Geen wonder dit het my 14 jaar geneem nie! Chanette Paul het in my storie geglo en my geleer hoe om te skryf. Sy het letterlik my hand vasgehou en my baie gehelp. As dit nie vir háár was nie, was daar beslis nie ‘n boek nie.
Pedale is nie my enigste boek nie. Na dié vuurdoop het ek Hartskeur, my tweede boek, geskryf. Dit handel oor ʼn vrou wie se kind dood is en wat getroud is met ʼn narsis. Sy het ook ʼn dogter wat in matriek is en uitstekend presteer. Sy het egter nooit aandag aan haar gegee nie omdat die boetie altyd siek was. Op universiteit raak die dogter betrokke by dwelms en ʼn dwelmbaas manipuleer haar. Sy bel ʼn nommer wat sy op die sypaadjie optel terwyl sy rondstrompel sonder blyplek en sonder iets. Haar redding kom in Leeu-Gamka by ʼn perdefluisteraar.
Intussen glo haar ma alles gaan goed. Syself is verstrengel in haar werk waar sy ʼn pruik dra omdat sy trilogomania het. Sy wonder of die houtkapper wat tot op haar stoep kom nie dalk haar seuntjie is nie. By die perde word haar dogter gesond en leer sy van ouma Malie se Jirre.
My derde boek is Dans Miena Dans. Miena staan heeldag en karre oppas. Haar Frikkie is ʼn goeie man en hy probeer geld inbring met sy karre regmaak. Hy wil so graag vir Miena en sy Rykie-kind die beste gee, maar nou wil Rykie nie meer eet nie want sy is bang dat sy so vet gaan word soos haar ma.
Hartskeur is in 2016 uitgegee en Dans Miena Dans in 2019.
Ek is tans besig met my vierde boek wat amper klaar is. Dan wil ek nog proefleeswerk probeer doen en dalk ook later skryfkursusse aanbied.
Vir my is die moeilikste aspek van skryf tyd. Om vir ure te gaan sit en te skryf. Ek sukkel nie om die storie te laat vloei nie en beplanning vind slegs in my kop plaas. Tydens die skryf verander die storie egter en vloei soms in ʼn rigting wat ek nie verwag het nie. Dis die lekkerte van skryf. Dit gebeur ook dat ek ʼn stuk geskryf het en wanneer ek dit deurlees is dit soms vir my moeilik om te glo dat ek soveel energie daarin gesit het en dat die teks so lekker werk.
Ek verkies om fiksie te skryf wat eintlik rondom werklike daaglikse gebeure handel. En dit moet verkieslik ook moeilike gebeure wees.
Met Pedale was dit nie nodig om navorsing te doen nie, want dit was my eie lewe en alles was in my kop. Hartskeur het baie navorsing geverg. Ek het byvoorbeeld vir twee weke by ʼn perdefluisteraar en sy vrou gaan bly om te sien presies hoe hy te werk gaan.
Ek beskou myself as ʼn skrywer want ʼn skrywer is enigiemand wat skryf. Om boeke te publiseer is ʼn permanente leerproses. My raad aan nuwelingskrywers is om nie moedeloos te raak wanneer uitgewers die eerste keer jou boek afkeur nie. Pedale is twee keer afgekeur voordat dit aanvaar is en selfs dít het baie skaafwerk beteken. Skryf is harde werk, maar die vervulling maak op vir alles.
Ek was eintlik op skool al ‘n skrywer, want ek het baie daarvan gehou om opstelle te skryf. Weens gebeure in my eie lewe wat depressie tot gevolg gehad het, het ek skryf as ʼn voertuig begin gebruik om my depressie weg te skryf. En dit het uiteindelik ʼn boek geword. Ek wóú my storie vertel. Die skryf van Pedale was baie, baie moeilik, maar daarna het ek nuwe stories geskryf asook kortverhale vir tydskrifte. Van daar het dit ʼn leefwyse geword soos asemhaal. Ek kan nou nie sonder my skryfwerk leef nie.
My karakters ontstaan deurdat ek mense dophou. Ek sal iemand sien en my eie storie rondom daardie persoon bou. Verbeelding volg dan.
Die beste raad wat ek aan alle voornemende of beginnerskrywers kan gee is:
-
Lees! Baie!
-
Moenie jouself vergelyk met ander skrywers nie.
-
Hou aan en moenie opgee nie.
-
Aanvaar kritiek.
-
Begin klein. Jy sal groot eindig.
-
Onthou, skryf is ʼn edel beroep. Respekteer jou lesers en ook ander skrywers. Glo in jouself en moenie huiwer om in te skryf vir skryfkursusse nie. Ek sou nie kon skoolhou as ek nie onderwys geswot het nie. Doen skryfkursusse. Dit gaan jou bemoedig en ook sterker maak.
-
Klik hier om die artikel, Pastoor toe wolf in skaapklere - skrywer as kind misbruik, op Maroela Media te lees.
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.