Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG
Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
June Botha
Die lang lys gepubliseerde boeke wat al deur June Botha geskryf is, is sprekende getuienis van haar versugting om elke leser deel te maak van haar storie, hetsy 'n kind of 'n volwassene. Lees hier hoe sy haar skryfdrome vlerke gee.
Kom ons val weg met ‘n basiese vraag... hoeveel boeke het jy al geskryf? En in watter genres was elkeen? Lodene (Afr/Eng) - ‘n Ware Verhaal (Nov 2020); Sebastian die Leeuwelpie – Kinderboek (April 2021); Sebastian the Lion Cub – Children’s story book (April 2021); Vlug van die Nag – Moordroman (Aug 2021); Huil van die Naguil – Moordroman (Feb 2022); Kain en Abel (Afr/Eng) Christelike Legkaart & Oudioboek (2002); Die Kruisiging (Afr/Eng) Chistelike Legkaart & Oudioboek (2002); Noag se Ark (Afr/Eng) Christelike Legkaart & Oudioboek (2002); Adam en Eva (Afr/Eng) Christelike Legkaart & Oudioboek (2002); Lonika – Poësie en Prosa (digbundel 1994); en Aluné – Poësie en Prosa (digbundel 1994)
Raak ’n mens ooit daaraan gewoond dat ’n boek van jou gepubliseer word? Die “thrill” daarvan om jou naam in druk te sien en te weet ander mense lees dit? Nee, elke keer as ‘n nuwe boek gepubliseer word voel dit vir my na ‘n wonderbaarlike droom. Dit is werklik onbeskryflik om die eerste gedrukte weergawe in jou hand te hou – essensieël en ongelooflik prysenswaardig.
Waar kom jou idees vandaan? Deur gebeurtenisse en waarnemens. My kop broei alreeds met die volgende moordstorie deur sekere ongewensde omstandighede waarin ‘n weduwee haar bevind. Die gevoel van sensasie, opwinding en die grillerige onregverdigheid rondom die weduwee is alreeds besig om die storie saam te flans.
Ek skryf vanuit myself. As die gevoel nes geskrop en diepte gevind het, is die storie onbewustelik reeds gevorm. Die res kom dan soos wat ek skryf.
Moet jy baie navorsing vir jou boeke doen? Hier dink ek byvoorbeeld aan Sebastian. As jy nie genoeg weet van leeus nie, kan jy ‘n ernstige bloutjie loop met hoe jy die leeuwelpies beskryf en wat hulle eet, ens. So ook ander diere waarmee die leeutjies te doen kry. Hoe doen jy navorsing? Navorsing is een van die belangrikste aspekte van my skryfwerk. Dit is vir my van uiterste belang om nie die leser – en veral kinderlesers – te mislei nie. Ek hou van feite. Selfs in Huil van die Naguil waarin diere ‘n groot deel van die moordstorie vertolk, het ek uiters seker gemaak van hul gedragspatrone, omgewing en leefwyses.
In Sebastian die Leeuwelpie (Boek 1) was dit belangrik om die leeuwelpies se gedrag in die boek korrek weer te gee, maar so ook Timmy die skilpad – sy voorkoms, ingewande wanneer hy terugtrek in sy dop, die motiewe wat op die dop voorkom, en so ook sy eetgewoontes.
Sebastian die Leeuwelpie (Boek 2) word die raaf weer in fyn besonderhede beskryf, maar so ook die plante en bome wat in die wildpark voorkom.
Skryfwerk is nie jou voltydse beroep nie. Nog nie. Wat is jou broodwinnerberoep?
My daaglikse beroep is Groep Personeelbestuurder by ‘n bekende maatskappy. Ek geniet elke oomblik van my beroep. Ek het die afgelope vier jaar holistiese genesing studeer. Hierdie jaar het ek ingeskryf vir neurosielkunde. Moenie verbaas wees as Sebastian die Leeuwelpie ‘n sielkundige of selfs ‘n holistiese geneesheer word nie. Sebastian die Leeuwelpie is opvoedkundige boeke, maar om terug te kom na jou vraag: Ek sal voltyds skryf en praktiseer sodra ek noodgedwonge my personeelberoep vaarwel moet roep.
Wanneer skryf jy en waar skryf jy? Ek studeer weeksdae na werk tussen drie tot vier ure per dag. Naweke en vakansietyd is skryftyd – behalwe as die storie my jaag om snags op te staan.
Hoe gaan jy te werk as jy ’n boek begin? Ek begin deur my skryfoppervlakte eerstens netjies te orden en my notas op een plek, gewoonlik my notaboek, neer te skryf sodat alles op een maklik bereikbare plek is. Wanneer ek dan ‘n woorddokument op my skootrekenaar oopmaak is die storie reg om geskryf te word. Ek sit gewoonlik vir ‘n minuut of twee doodstil om die storie in my kop te herroep. Daarna vermeng ek my gevoel met die omgewing waarin die storie plaasvind, die gemoedstoestand van die karakter(s) en die omstandighede waarin hulle hul bevind. Karaktername vorm soos wat die storie vloei. As die storie ‘n swik nodig het dan gooi ek ‘n hewige en onverwagte draai in die storie. Sodra dit gebeur, verbreek ek my leerdissipline en kry doelbewus koers saam met die storie. Skryf is skryf. Die regte atmosfeer, emosie en totale betrokkenheid in die karakters laat die woorde vanself vloei. Ek erken openlik. Ek lag saam met die karakters, maar ek huil net so heerlik saam. Ek leef in my stories.
Kom ons praat eers bietjie meer oor Sebastian. Hoe het hy ontstaan? Waarom het hy ontstaan? Waar kom jy aan jou temas vir Sebastian? Die maatskappy waarvoor ek werk het my gevra om ‘n rubriek vir ons nuusblad te skryf. Ek wou iets skryf met betrekking tot ons bedryf, maar iets leersaam. Op daardie stadium het ek ‘n gevallestudie gedoen met ‘n pasiënt. Op pad terug huis toe het ek opnuut aan die versoek gedink. Ek wou die wildtuin by ons hooffunksie inbring, naamlik brandbestryding. Ek het aan die diere gedink en instinktief geweet dat dit ‘n leeuwelpie moet wees. Die naam Sebastian was onmiddellik in my kop. Ek het begin skryf toe ek tuiskom. Ons kommunikasiedirekteur was gaande oor die storie en een hoofstuk het gelei na twee en meer totdat ‘n boek gereed was vir publikasie. Sebastian is ‘n oulike en avontuurlustige leeuwelpie – enige leser sal aan hom verknog raak. Ek het!
Vertel bietjie meer van Lodene. Hoe het dit gekom dat jy die boek geskryf het? Wat het jy en jou dogter daarmee bereik? Was dit nie moeilik om iets so persoonlik te skryf en met die wêreld te deel nie? Die boek, Lodene, was baie moeilik om te skryf. Ek moes vir rukke ophou – die emosies was te veel. Lodene is ‘n ware verhaal. Hierdie verhaal is feitelik weergegee, want ek wou dit skryf soos wat dit werklik gebeur het, maar in ‘n verhaalvorm. Kom ons begin by die begin.
My geheim was bykans vyf-en dertig jaar uiters goed bewaar. My ouers het geweet, maar ons het nooit daaroor gepraat nie. Lodene, my dogter, is ‘n diep geestelike en ‘n Christuskind. Op ‘n dag skakel Lodene my en vra ‘n doodgewone en onskuldige vraag. “Mamma, was daar moord of aborsie in Mamma of Pappa se lewe of in ons voorgeslagte?”
Dit is seker verstane dat ek ietwat verbouereerd en terselfdertyd verdwaas was. My vraag was wie haar vertel het. Haar reaksie daarop was: “Wat vertel?” “Jy is die aborsiebaba,” het ek huiwerig geantwoord. Ek kon die skok in Lodene ervaar. Elke keer as ek terugdink aan daardie oomblik kan ek openlik erken dat ek onbewustelik geweet het dat daar ‘n dag sou kom dat ek met die vraag gekonfronteer sou word. Ek het Lodene se lewe by God afgepleit net soos wat ek op daardie oomblik ook tot die besef gekom het dat God ons vermaan om Hom in gees en waarheid te dien. Die verhaal was so lank en diep versteek dat ek nie eintlik geweet het waar om te begin nie. Ek het gevra dat sy my ‘n paar minute moet gee. Ek het haar na etlike oomblikke teruggebel en ons het die onderwerp liggies bespreek. Ek het haar egter versoek om geduldig te wees totdat ek reg was om haar meer rondom die gebeurtenisse te vertel.
Lodene het met die bietjie inligting Warriors for Life begin en by Abortion Survivers in die VSA aangesluit. Met die paar feite tot haar beskikking het haar storie vinnig opgang gemaak; in so ‘n mate dat ek gevra is om die verhaal te skryf. Daarop het ek het die boek Lodene begin skryf. Ek het baie diep gedelf. Selfs die ou aktetas onder in my kas uitgehaal en deur dokumente en paspoorte gewerk, vyf-en-dertig jaar gelede se ou foto’s betrag, die gevoel van verwerping, gemeng met liefde, ontnugterings en haat herleef. Ek het ‘n besondere ses maande van herlewing beleef gepaardgaande met genesing. Toe word die boek Lodene gedruk en gepubliseer. Boeke is VSA op aanvraag toe gestuur en die boek is internasionaal op Amazon geplaas. Ons het bestellings van so ver as Alaska ontvang. Ek en Lodene het terselfdertyd verskeie radio-onderhoude gevoer. Ek was selfs genooi as gasspreker by kerkgeleenthede en op vrouebyeenkomstes.
Ek het geweet ek sou in oordeel staan by die mensdom self, maar ek het vir ‘n tweede maal, net soos in die verhaal, ‘n Goddelike versoek gehoorsaam. Die boek is diep en eerlik. Dit is vir my genoeg. Lodene is ‘n toonbeeld van genade.
Waar kry jy idees vir speurverhale en hoe beplan jy die storielyn? Beplan jy ‘n storielyn vooraf, of skryf jy soos wat die verhaal jou neem? Mense en hul omstandighede inspireer my. My verhale skryf hulself. Ek het ‘n basiese storielyn – soort van ‘n raamwerk. Ek ken gewoonlik die kern van die storie en wat ek daardeur wil bereik. Ek sein boodskappe uit in die vorm van emosies.
Is die karakters in byvoorbeeld Vlug van die Nag heeltemal fiktief of is van hulle op werklike mense wat jy ken geskoei? En die gebeurtenisse? Ek gebruik soms sterk eienskappe van mense se karakters wat vir my uitstaan. André Jört in Vlug van die Nag is ‘n goeie voorbeeld daarvan, maar meestal verkies ek om my eie karakters te skep.
Waar en hoe put jy inspirasie om te kan skryf? Afgesien van mense en hul omstandighede is die natuur oor die algemeen ‘n groot inspirasie. Misreën, wolke, blomme en plante, die reuk van grond en die oggendgroet van voëls dis sprokiesverhale op. Ek skryf die lekkerste wanneer ek my studeerkamervensters kan oopskuif en die reuk van die natuur binnenooi. Lemoenboorde, mangobome en sommer net bossiereuk wat ongenooid binneglip en hulle kom tuismaak in my wêreld van skryf. Ek is bevoorreg en dankbaar daarvoor.
Bereik jy ooit ‘n dooie punt in ‘n manuskrip, of ‘n plek waar die karakters hulle nou vasgedraai het en nie weet hoe om daar uit te kom nie – en wat maak jy dan? Wanneer ek dié punt bereik het, laat ek die manuskrip vir ‘n dag of twee oorstaan totdat ek sekerheid gekry het oor die swik van die storie. Dit is in sulke tye wat ek myself oorgee aan die natuur, lang stappe tussen die boorde neem en terselfdertyd die karakters in die storie hersien. Ek verkies om getrou te bly aan die hoofkarakters en pas die storie dan by hulle aan.
Daar is baie mense wat graag wil skryf. Wat sou jy sê is die eienskappe waaroor ’n voornemende skrywer moet beskik? Ek sou eerstens ‘n kort kursus voorstel. Raak vertroud met sekere en vaste beginsels, leestekens en goeie letterkunde. Kies die genre wat by jou skryfstyl pas en wees vrymoedig om dit met jou mentor of geesgenoot te bespreek. Tweedens, bou ‘n betroubare verhouding met jou uitgewers en drukkers. As jy ‘n impulsiewe skrywer soos ek is, werk op jou gevoel, jou instinkte en hou by jou getroue self – anders beplan jou storielyn noukeurig, waarheen jy op pad is en watter leser jy wil bereik. Nog ‘n belangrike punt is om jou manuskrip honderd en tien persent perfek voor te berei vir jou uitgewers. Dit sê darem iets van die skrywer. Vertrou jou leser en vra vir terugvoering. Aanvaar kritiek en komplimente eweneens met die regte gees.
Wat is daar vir jou in die vooruitsig? Nuwe boeke, projekte, ens. Snuffelgids – Vrouejoernaal (Vir publikasie 2022); Sebastian die Leeuwelpie Boek 2 (Die Tien Gebooie en Vrugte van die Gees. (Vir publikasie 2022); Sebastian die Leeuwelpie Boek 3 (Vir publikasie 2022); Sebastian die Leeuwelpie Boek 4 (Vir publikasie 2022); en Moordroman. Die Slag van die Golf (Vir publikasie 2023).
Wat is die moeilikste aspek van die skryfproses vir jou? Al die notas. Ek het oral notas rondom die storie. Dit sluit navorsing in. As ek ‘n gedagte het probeer ek dit getrou neerskryf anders is die gedagte onherroeplik daarmee heen.
Lees jy baie? Wat lees jy op die oomblik? Ek lees baie, maar nie storieboeke nie, veral nie fiksie nie. Ek lees graag mediese of geskiedkundige boeke.
Enige raad vir aspirantskrywers? Wat is die belangrikste skryfwenk wat jý ooit gekry het? En van wie? My beste raad wat ek nog ontvang het was van Leoni Benghiat. Ek pas die raad gereeld toe en moet erken dit gee kleur aan die verhaal. Ek sal graag ook die raad aan aspirantskrywers wil gee: Vra vrae. Wat het gebeur? Hoe het dit gebeur? Wat het dit veroorsaak? Wat was die reaksies daarop?
Wat is jou webadres en sosiale media-blaaie? My webbladsy is: www.junebotha.com en sosiale mediablaaie is: Facebook, LinkedIn en Instagram. Boeke is beskikbaar by handelsboekwinkels, Naledi Uitgewers, Amazon, Takealot en internasionale platforms.
© 2022. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.