SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.

Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.

Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.


pg du plessis

[†1934 - 2017]

PG is alles behalwe “postuum”

Ek tref vir PG du Plessis in sy studeerkamer aan, te midde van algehele chaos met hope boeke, dokumente, manuskripte, papiere en ongewisselde tjeks wat die wêreld vol lê.

“Weet jy dat ek nou al meer as R7 000 se tjeks ontdek het wat nooit inbetaal is nie?” sê-vra hy ingedagte en wonder hardop of hy sy vrou daarvan moet vertel. “Ek is hopeloos met finansies,” erken hy sonder skroom. “Marie (sy vrou) is die een wat altyd alles hanteer. Geld was nog nooit vir my belangrik nie.”

Dis 'n paar dae voor Pieter Georg du Plessis se 75ste verjaarsdag – die ouderdom waarop die meeste van sy tydgenote al óf afgetree is, óf ernstig daaraan begin dink.

Nie so met PG nie. Inteendeel. Daar blyk nou geen keer te wees aan dié bekroonde en veelsydige skrywer, dramaturg, draaiboek-skrywer, TV-aanbieder en gereelde gesig by kunstefeeste nie. Met twee TV-reekse wat onlangs gelyktydig op die kassie uitgesaai is, ‘n nuwe verhoogstuk, sy veelbesproke en -boeiende roman, Fees van die Ongenooides, ‘n nuwe TV-reeks wat tans geskiet word én sy roadshows saam met Alexis Strachen, is dit moeilik om te dink die Afrikaanse publiek kan ooit van hom vergeet. Tog het dit vir 'n rukkie wel gebeur.

“Jong, ou mense wil ook maar gehê word en as almal jou postuum behandel, dan jy sterf jy ook bietjie op jou voete, stadig en swaar,” sê hy, duidelik seergemaak oor die ongeërgde behandeling wat hy vir 'n hele paar jaar gekry het. “Nou is almal verbaas oor die ou beendere nog roer, met meerdere en mindere sukses weliswaar, maar op my ouderdom is enige roering welkom.”

Dat die man met die glinsterende blou oë nog baie roering in hom oor het, is nie altemit nie. Hy lees baie. Daarvan getuig die duisende boeke in die studeerkamerkompleks wat hy self gebou het. En sy algemene kennis strek wyd. “Ek lees ook graag tydskrifte, maar die goed is deesdae te duur vir my en die blink vang my oë, so ek lees hulle net by die dokter of tandarts,” sê hy.

Hy noem ‘n paar tydskrifonderwerpe wat hom baie interesseer, maar kan nie uitgepraat raak oor die raadgewende sy daarvan nie. “As jy al daai selfverbeteringsartikels ter harte neem, is jy binne ‘n week ‘n engel met ‘n goeie sekslewe!” sê hy laggend.

Afrikaans is egter dié onderwerp wat hom baie na aan die hart lê. “Ek het baie gewonder hoe die volksleiers dan nou soos mis voor die môreson verdamp het, tot ek besef het as jou magsbasis onder jou uitgekalwe het kan jy maar geluide maak soos jy wil – dit val op dowe ore en jy boet jou sogenaamde leierstatus in.

"Ek het egter nooit kon dink dat ek en my mense, wit en bruin, so verskonend sal moet leef nie. Wat my egter die duiwel in maak is die heersende mode dat jy Afrikaans moet radbraak om modern in tel, cool en with it te wees. Dis taalselfmoord, dis ‘n gebrek aan trots en dit walg my. Mense wat Afrikaans nie kan praat nie hoort nie in die Afrikaanse media nie,” sê hy driftig.

Politiek is ‘n ander saak. “Alles is so toegegooi deur politieke korrektheid dat niemand meer durf sê wat almal om ons sien nie, maar ‘n mens se perspektief trek bietjie skeef tussen jou Rottweilers wanneer jy na die wêreld moet kyk deur lemmetjiesdraad,” sê hy. “As stakende onderwysers karre aan die brand steek en ruite stukkend gooi, dan is die rolmodelle bepaald nie lekker nie.” 

Volgens PG is skryf ‘n baie moeilike werk. “Vir ‘n skrywer is daar net een dissipline in die wêreld en dis ‘n speruur – nie ‘n sperdatum of spertyd nie. En skrywersblok is ‘n mite, hoewel enige kreatiewe werk jou ‘n soort subjektiewe moegheid gee wat jou brein sy bes doen om te vermy. Elke skrywer probeer dus om sy skryfwerk te vermy. My eie ontwyking is só erg dat ek die afgelope winter al twee keer gebad het! Enigiets om net nie voor die rekenaar te sit nie,” spot hy op sy kenmerkend humoristiese wyse. 

“Maar die eintlike hel van skryf  is die eensaamheid,” sê hy ernstig, “want niemand kan jou daarmee help nie.”

© 2009. Teks & foto's Leoni Benghiat


Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse