Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG
Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
rachelle du bois
1. Wanneer en waarom het jy begin skryf?
Ek het my eerste boek in Augustus, 2013 geskryf, omdat
ek gevoel het die tyd is ryp daarvoor. Ek het van my
kinderjare af letterlik honderde boeke gelees en die
begeerte om self ʼn boek te skryf, was maar altyd daar.
Dit het egter behoorlik posgevat toe ek afgetree het met
genoeg tyd op hande.
2. Hoe skryf jy? Party skrywers is gelukkig genoeg om net
te gaan sit en dan vloei die woorde moeiteloos. Is jy ook so
bevoorreg?
Ek
hou daarvan om met ʼn raamwerk te begin waarin die karakters se
agtergrondinligting bedink en beskryf word. Hierdie inligting dien
net as ʼn verwysing dwarsdeur die boek, maar die storie loop van daar
af self verder. Die karakters ontwikkel en doen soms dinge wat die
skrywer verbaas, want hulle word lewendig en tree op soos hulle
groei en soos die storie vorder.
3. Hoeveel boeke het jy al geskryf? Watter is jou
gunstelinge? Waarom? Watter een was jou eerste? Voel jy jy ontwikkel
as skrywer met elke boek?
Ek het reeds 16 boeke geskryf, waarvan 13 in Afrikaans, en drie in
Engels is. Elke boek het maar sy eie plek, van die wankelende treë
van my eerste poging af tot die gemaklike en ratse vloei van die
nuutste boek.
My eerste boek was Beskuldig dan die Liefde. As ek my eerste werke
vergelyk met my latere boeke kan ek duidelik agterkom dat ek as
skrywer baie gegroei het. Ek het die vreeslike styfheid en
onnatuurlike styl agtergelaat. Ek skryf nou gemakliker, meer
ongebonde en laat die stories hul loop neem. Ek glo ek het my eie
stem gevind en voel baie goed daaroor.
4. Watter genre verkies jy? Hoekom?
Ek verkies die romantiese ontspanningsfiksie, spesifiek die
liefdesroman, omdat dit oor die lewe gaan; oor mense se wel en weë.
Anders as met romanse, kan ek in die liefdesroman meer as een
karakter se perspektief gebruik, hulle laat groei en ontwikkel.
Hulle leef, het lief, hulle lag, huil en verloor, maar staan altyd
weer op. Hulle is aan die einde van die boek anders as wat hulle aan
die begin van die storie was. Dit gaan dus nie net om die
ontwikkeling van ʼn verhouding tussen die heldin en haar held nie. En
buitendien is dit lekker om oor die liefde te skryf.
Skat van die Seerower is ’n historiese roman vir tieners (en vir dié
wat voel soos tieners, maar nie is nie). Ek sal dit weer waag.
Na my twaalfde liefdesroman - Die Lady en die Leeu – het ek gevoel
om iets anders te doen en het my hand gewaag aan twee
fantasieverhale, Die Vita Faktor en Die Lucerna Faktor. Praat van
pret! Ek sal die reeks beslis uitbou.
5. Hoeveel ware gebeure kom in jou stories voor? En
werklike mense?
Ek baseer my stories op die lewe, waarin soortgelyke gebeure
voorkom as dit waaroor ek skryf – dinge wat ek gesien en van gehoor
het. Ons almal het tog lief en verloor soms, almal word siek en gaan
dood, almal vind soms geluk en treur soms. My stories is denkbeeldig
met denkbeeldige karakters en omgewings. Daar is geen werklike
karakters of plekke in my stories nie – dis pure fiksie.
6. Hoe lyk jou skryfplek?
Ek het vir my ʼn skryfplek ingerig waar ek gemaklik kan sit
en skryf. My skryftafel bevat my hulpmiddels soos die HAT, die
Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, en Die Afrikaanse Skryfgids. Die
Oxford Dictionary en nog ander handleidings oor die skryf van boeke,
spesifiek romanse, staan sy aan sy met die ander.
7. Wanneer skryf jy? Skryf jy voltyds? Indien wel, wanneer
het jy voltyds begin skryf?
Ek skryf voltyds en elke dag van 2014 af. Ek sorg dat ek by
my teiken vir die dag hou. Ek begin elke oggend ongeveer nege uur en
ek is gelukkig genoeg om te kan skryf vir so lank as wat ek wil en
soveel as wat ek wil.
8. Omtrent hoe lank neem dit jou om ʼn boek te skryf?
Op een stadium het ek een boek elke dertig dae (soms vinniger) voltooi. Mens kan maar somme maak: 16 boeke van Augustus, 2013 af. Ek het my nuutste boek, Tuiste vir my Hart, op 11 Julie 2016 begin en binne twee weke voltooi.
9. Hoe voel dit om die finale produk in jou hand te hou,
of, as dit slegs e-boeke is, ondervind jy ʼn gevoel van genoegdoening
wanneer jy jou boeke in virtuele boekwinkels sien?
Elke nuwe boek is ʼn geskenk – aan my lesers en aan myself. Ek is so
dankbaar en tevrede omdat ek kon doen wat ek my voorgeneem het om te
doen. Om die boek daar te sien pryk, is vir my ʼn bewys dat ek kan.
Dis my droom wat waar geword het.
10. Hoe voel jy oor die toekoms van Afrikaanse boeke? Is
daar plek om te groei of dink jy dis nou stagnant?
Ek sien ʼn blink toekoms vir Afrikaanse boeke. Ek glo die lesersmark
groei steeds. Dit wil vir my voorkom asof meer mense nou Afrikaans
lees as ooit tevore. Meer mense skryf in Afrikaans en daar word baie
goeie werk gelewer. Daar is ʼn groot behoefte onder
Afrikaanssprekendes om hul werk daar te kry waar ander dit kan lees.
Die mark vir e-boeke is egter erg geraak deur die sluit van
Takealot, Leserskring, Leisure Books, Kwarts, myAfrikaans, en
Afrifiksie se e-boekplatvorms. Dit laat onafhanklike skrywers en
self-uitgewers van e-boeke met slegs Amazon.com waarop e-boeke
verkoop kan word.
11. Waaraan werk jy op die oomblik?
Ek werk tans aan Doepa vir my Hart, die derde boek in die
Fynbos-reeks.
12. Skryf jy slegs enkelstaande boeke of is daar boeke wat
deel is van ʼn reeks? Hoe vergelyk dit om ʼn enkelstaande boek te
skryf teenoor ʼn reeks wat uit verskeie boeke bestaan?
Ek het reeds drie reekse geskryf. My eerste reeks het bestaan uit
twee Engelse boeke, The Road to Eden en Oak Seed. Dit was deel van
die Oak Seed-reeks. Daarna het ek die Faktor-reeks geskryf wat op
hierdie stadium twee fantasieë insluit – Die Vita Faktor en Die
Lucerna Faktor. Ek het Kwiksilwer geskryf en aan die einde daarvan
besluit om dit die eerste boek in die Fynbos-reeks te maak, want die
boek het die grond voorberei vir ʼn reeks al het ek dit aan die begin
daarvan nie beplan nie. Daarna het Tuiste vir my Hart, Boek 2 in die
Fynbos-reeks, gevolg.
Anders as met ʼn alleenstaande boek, moet die skrywer in gedagte hou dat die storie in ʼn reeks na die volgende boek moet lei. Daar moet dus baie noukeurig rekord gehou word van die karakters en die agtergrond waarteen elke boek afspeel. Die volgende boek tel die drade van die een voor hom op en bou voort op die lewens van die karakters wat in die voorafgaande boeke voorgekom het. Daar moet ʼn deurlopende lyn wees wat die reeks aanmekaar verbind hou, al kan mens die boeke afsonderlik lees. Ek sorg maar dat die einde van die een boek die leser prikkel om die volgende een ook te lees.
13. As ʼn skrywer ... waarsonder kan jy glad nie klaarkom
nie?
Ruimte vir myself en stilte om te dink, my skootrekenaar,
tyd vir skryf en my naslaanboeke. En sonder ander boeke om te lees,
kan ek glad nie.
14. Wat wil jy graag skryf waaraan jy nog nie jou hand
gewaag het nie?
Daar het reeds ʼn saadjie vir ʼn misdaadstorie begin ontkiem.
Wie weet wat wag na die Fynbos-reeks?
15. Lees jy baie? Wat lees jy?
Ek lees gemiddeld een boek elke twee dae, meestal laatmiddag
en saans. Ek lees outobiografieë, biografieë, romanse, misdaadfiksie
en fantasie in Afrikaans en Engels en die nuus op MSN en Media24. Ek
is ook baie lief vir poësie. Ek is ʼn hongerige leser en sal enigiets
verslind wat vir my interessant lyk. Ek is egter baie kieskeurig en
kan maklik ʼn boek wat swak geskryf is, eenkant sit.
16. Wat se raad het jy vir beginnerskrywers?
Ek kan die belangrikheid van lees nie genoeg beklemtoon nie.
Geen mens kan hoop om ʼn leesbare boek te skryf as jy nie lees nie.
Jy mag miskien die storie in jou kop en die begeerte in jou hart hê,
maar as jy nie eers ander skrywers se werk gelees het in die genre
waarin jy wil skryf nie, sal jou boek nooit die winkelrakke sien
nie. Daar is baie goeie boeke oor hoe om te skryf. Maak ʼn punt
daarvan om te leer hoe en dan jou kennis toe te pas. Onthou dat jy
eers moet kruip voor jy kan loop. Lees is die heel eerste tree
vorentoe. Min skrywers behaal sukses met hul eerste pogings. Wees
dus bereid om aan te hou probeer.
Ek is verbaas om te sien hoeveel foute in baie bekende skrywers se boeke voorkom. Dit is vir enige skrywer en veral vir self-uitgewers uiters belangrik om, as dit vir jou moontlik is, jou manuskrip te laat redigeer en proeflees. As jou boek swak geskryf en vol foute is, gaan jy nie die mas opkom nie.
Moenie dink jy gaan ryk word uit jou skryfwerk nie, veral as jy jou boeke self gaan publiseer. Jou sukses as skrywer hang af van die kwaliteit van jou skryfwerk en suksesvolle bemarking, wat miskien die heel moeilikste ding is om te doen, veral as jou begroting ter sprake kom.
Die heel belangrikste is egter om dit te geniet. Om te skryf is ’n heerlike avontuur en wie weet waar jou stories jou heen lei.
© 2017. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.