SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Ontmoet jou mentors

 

Leoni Benghiat

Joernalistiek is my passie. Dit is my hele lewe. Dit het my lewe geword toe ek in 1984 by die destydse Vaderland-dagblad ingestap en vir drie weke lank net Reuters-vertalings gedoen het om die koerantstyl aan te leer. Toe ek my eerste "byline" op 29 Junie 1984 kry (op my ma se verjaarsdag, van alle dae!), was daar geen perke aan my vreugde nie. Ek het gevoel ek het uiteindelik “gearriveer”. Ek het nie toe besef dat dit net die begin was nie – want ek het nie geweet wat vir my voorgelê het nie. Die daaropvolgende jare en vordering na tydskrifjoernalistiek was deel van die opwindende reis in die oneindige heelal van die skryfwêreld. En wat 'n reis was dit nie tot dusver nie!

'n Onverwagte slaggat in die pad het my in 1994 gedwing om die betroubare salaristjekkie vir die onseker finansiële lewe van 'n tuiskantoor te verruil. Skielik was die gerusstellende vangnet van 'n maatskappy weg en ek op my eie op 'n uiters onseker en onbekende paadjie. Ek sal jok as ek sê dit was nie 'n vreesaanjaende tydperk nie, want geld, werk én ondersteuning was maar min. Dit was juis omdat die beginjare so uitdagend was dat ek naderhand besluit het om my mede-vryskutters te probeer help met al die hulpmiddels wat mý nie beskore was toe ek soos 'n drenkeling in die vryskutwaters rondgeplas het nie. En siedaar ... SA Vryskutskrywer is op 10 Oktober 2009 gebore!

Baie mense glo dat as ‘n mens vanuit ‘n tuiskantoor werk, jy werkloos is omdat jy nie ‘n "regte werk" het nie – want jy sit nie in ‘n bedompige kantoor vir ‘n baas en swoeg nie. Eintlik is hul persepsie nie heeltemal verkeerd nie. As vryskutjoernalis en -skrywer hét ek nie ‘n werk nie, want my werk is my lewe, en my lewe is my werk. Vir my is daar geen onderskeid nie. Die een begin waar die ander ophou. Dit is ‘n leefwyse. Vir meer as 30 jaar leef ek my droom, want ek is bevoorreg genoeg om presies te doen wat ek van kleintyd af altyd wou – met woorde werk.

Skryfwerk word dikwels verromantiseer, maar moenie ‘n fout maak nie: om te skryf is harde werk. Dit is heel moontlik een van die moeilikste beroepe op aarde. Dit is ‘n eensame beroep omdat jy afgesonder is van jou kollegas. Dit is ‘n risikoberoep omdat jy nie die finansiële beskerming van ‘n groot maatskappy het as werk min raak of dinge skeefloop nie. Dit is ‘n uitdagende beroep, want geen twee dae of werke is ooit dieselfde nie. En dit is ‘n beroep wat nie veel slaap toelaat nie. Vir die meeste vryskutskrywers kan ‘n normale werksdag maklik uit 18 ure – soms selfs meer – bestaan.

Maar die uitdagings en bevrediging wat daarmee gepaard gaan, kan nie met geld of sekuriteit gekoop word nie. Dit is iets wat net ‘n ander skrywer, joernalis of redigeerder kan verstaan. Daardie dryfkrag wat jou elke dag laat opstaan en voor jou rekenaar laat sit om te skryf en te skryf en te skryf. Om stories uit te dink. Om artikelidees te kry. Om jou werk te verkoop. Om iemand se boek te redigeer. En... en... en…

‘n Ervare vryskutskrywer (in enige genre) hoef nooit sonder werk te sit nie. As een deur toemaak, klop jy summier aan ‘n ander. Jy maak ‘n plan. Jy verbreed jou horisonne. Jy skryf iets wat jy nog nooit tevore oorweeg het nie. Jy dóén dit net, want dit is hoe jy is—innoverend en altyd gereed vir ‘n uitdaging. En jy ken nie die woord opgee nie.

Tog, al het jy elke maand genoeg of selfs te veel werk, bly ambisie nooit agterweë nie. Daar is altyd nóg ‘n mark om te oorwin, nóg ‘n uitdagende storie om te skryf, nóg ‘n idee wat ontgin moet word, nóg ‘n belangrike onderhoud om te voer, nóg ‘n projek om aan te pak. Dít is waarom skryfwerk ‘n mens se lewe oorneem en jy kan dit nie verhoed nie.

En dis waarom jy nou op SA Vryskutskrywer se webtuiste is. Want ek wil my passie met almal wat Afrikaans skryf en wíl skryf, deel. Ek wil help om te verseker dat ons taal nie in die vergetelheid verdwyn nie. Ek wil weet dat Afrikaanse tydskrifte, koerante en boeke sal bly voortbestaan. Ek wil ‘n bydrae lewer tot die ontwikkeling van Afrikaans, maar ek wil ook help om ander op te voed, want ons het laks geraak. Taalfoute in blogs, aanlyn berigte en artikels, koerante en tydskrifte wat tien jaar gelede onvergeeflik was, vermeerder daagliks. Ons is besig om ons taaltrots te verloor.

Ek glo dat iets daadwerkliks hieraan gedoen moet word en het my eie ondervinding, kenners se insette en ander navorsing in kursusse en hulpmiddels vervat met één doel voor oë – om Afrikaanse skryfwerk ‘n hupstoot te gee. Dít kan slegs bereik word deur opvoeding en broodnodige ondersteuning vir alle skrywers – bekend, onbekend, beginners, gevestig; ‘n ieder en ‘n elk.

My persoonlike prestasielys sluit 100 markte in waarvoor ek al as vryskutskrywer geskryf het en steeds skryf, asook die redigering van meer as 70 boekmanuskripte wat gepubliseer is. Ek mik beslis na meer, en ek glo dat niks onmoontlik is nie. Buitendien, niemand het gedink ek sou ‘n professionele woordtowenaar word toe ek nog op skool was nie. Aanlegtoetse het immers aangedui dat ek in ‘n wiskundige rigting moes studeer – en dít terwyl ek jaarliks net-net deur my wiskundetoetse geskuur het … Wys jou net: volg jou drome! En jou ware aanleg. Jy is dit aan jouself verskuldig.

Gepubliseerde werke:

   

 

Toekenning: Orde van die Beiteltjie, Augustus 2023:

 

In Augustus 2023 het die Cordis Trust aan vier vroue die Orde van die Beiteltjie vir hul bydrae tot kultuur toegeken.

Volgens dr. Fanie Marais, voorsitter van dié trust, ’n organisasie sonder winsbejag wat Afrikaanse woordkuns bevorder, ontvang hulle dit vir hul volgehoue geesdrif, betrokkenheid, deelname en eiesoortige sigbare uitslae met verskeie aspekte van die Afrikaanse woordkuns in die gemeenskap.

Hulle is Leoni Benghiat, Rina Cascione, Margaret Cordier en Aniki Joseph.

Benghiat bedryf SA Vryskutskrywer, ’n platform waarop sy haar geesdrif met almal wil deel wat in Afrikaans skryf of daarin wil skryf.

Lees volledige berig hier.

 

Persoonlike webblad (in aanbouing)


Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse