SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskuthulpbronne

Vra 'n kenner

As vryskut is jy verantwoordelik vir ALLE aspekte van jou besigheid en soms is daar vrae waarop jy net nie 'n antwoord kan kry nie.

Dis met dié tipe vryskuttameletjies in gedagte dat ons verskeie kenners op hul gebiede genader het om indringende vrae te beantwoord en kwessies op te los.

As jy enige vrae of kwessies wat met die bedryf van jou vryskutbesigheid te make het, stuur gerus 'n boodskap om antwoorde te kry. Maak asseblief net seker dat jy jou vraag baie duidelik omskryf.


 

Artikel: Hoe doen mens navorsing vir jou nie-fiksieboek?

Navorsing is die belangrikste aspek van ‘n boek en kan die eindproduk maak of breek. As jy nie genoeg navorsing gedoen het nie, gaan jy nie genoeg feite hê om dit interessant te maak nie.

Hoe jy dus te werk gaan om jou navorsing bymekaar te kry, is uiters belangrik. Dit is makliker om jou bronnelys by te werk terwyl jy skryf as om die manuskrip, nadat dit voltooi is, te vat en elke bron te probeer naspeur. ‘n Mens sukkel om te onthou waar jy die inligting vandaan gekry het – veral maande nadat jy dit geskryf het!

Volg ons wenke om jou navorsing te organiseer:

1.  Gebruik jou notas Notas sluit alles in wat verband hou met jou boek – nie net dit wat jy in ‘n biblioteek of argief gaan neerskryf het nie, maar ook die idees wat jou binneskiet in die middel van die nag, en terwyl jy dalk met iemand oor die foon gesels. Die skryf van ‘n boek is soos om ‘n legkaart te bou – elke stukkie inligting moet naderhand perfek inmekaarpas om die prentjie te voltooi. Dis waarom jou notas so belangrik is. En dis een van die dinge wat dit so lekker maak – en al het jy nie die eindprentjie voor jy begin nie – die prentjie neem vorm aan na aanleiding van jou eie insette.

2.  Soek vars feite Feite is die boustene van nie-fiksieboeke. En nuwe feite is die beweegrede vir die skryf van ‘n boek: ons het reeds gesê jy moenie net ‘n bestaande boek probeer oorskryf nie. Kom ons kyk nou na verskillende maniere waarop jy feite kan bekom:

• Persoonlike ondervinding In die eerste plek kan jy jou eie ondervinding gebruik. Miskien weet jy heelwat omtrent die onderwerp waaroor jy skryf, en, as jy wel iets weet, kan jy dit solank op ‘n vel papier neerskryf. Sodra jy pen op paper sit, begin die kreatiewe proses sy wending neem. Alles wat in jou kop rondmaal, begin ‘n patroon vorm en jou boek se begin vind reeds plaas wanneer jy daardie eerste notas maak.

• Knipsels van artikels en berigte Tweedens kan jy die koerant- of tydskrifknipsels wat oor jou onderwerp of verwante onderwerpe handel en wat jy bymekaar gemaak het, begin raadpleeg. Kry vir jou ‘n lêer spesifiek vir jou knipsels. Liasseer hulle hierin en jy het hulle altyd bymekaar. In baie gevalle is sulke inligting dalk nie van direkte belang wat feite aanbetref nie, maar wel as agtergrondinligting. Hoe meer jy van jou onderwerp weet, hoe groter is jou oorhoofse begrip en, gevolglik vanwaarde al sou jy dalk nie die feite direk aanhaal nie.

• Boeke Dis jou derde bron van feite. Besoek jou plaaslike biblioteek indien jy nie self genoeg naslaanboeke het nie. Soms is dit ‘n klein dingetjie wat ‘n mens wil weet – soos byvoorbeeld wat die Boere gedurende September 1900 in hul veldslae teen die Engelse gedoen het en of hulle enige veldslae gewen of slegs verloor het? Sulke feite is maklik om na te slaan en indien dit in ‘n boek gepubliseer is, is dit betroubaar genoeg om te gebruik. Onthou net om die boek se naam, skrywer, uitgewer, datum en bladsynommer ook neer te skryf vir enige verdere navrae.

• Publisiteitsverenigings Publisiteitsverenigings kan van waarde wees wanneer jy navorsing doen. Hulle het gewoonlik omvattende inligting oor plaaslike plekke – asook kontakbesonderhede van plekke wat jy dalk wil kontak. Kyk in enige provinsie se telefoongids onder die inskrywings Verenigings, Associations, SA, Nasionale/National, enige dorp/stad se naam, Instituut/Institute, Kantoor/Office, of enige provinsiale naam, en die kanse is goed dat jy een of ander publisiteitsvereniging daar sal vind. Vir bykans elke onderwerp sal jy êrens ‘n instansie vind wat uitsluitlik daarop konsentreer. Dit verg net soms ‘n lang gesoek, maar jy vind dit uiteindelik.

3.  Ander plekke waar jy om inligting kan aanklop is regeringsdepartemente, groot afdelingswinkels, besigheidsorganisasies en enige ander openbare instelling. ‘n Volledige lys van provinsiale en nasionale staatsdepartemente (byvoorbeeld korrektiewe dienste, onderwys, waterwese, staatspresident, gesondheid, ensovoorts) word deesdae in elke telefoongids gedruk. Dit is dus moontlik om bykans enige telefoonnommer of e-posadres onder die son in die hande te kry.

Indien jy nog vasbrand en niemand kan kry om jou te help nie, raadpleeg die nuusredaksie van ‘n dag- of nasionale blad. Hulle het gewoonlik baie goeie kontakte of hulle sal jou na iemand anders kan verwys. En meeste van hulle gee nie om om te help nie.

• Onderhoude Formele en informele onderhoude is van die grootste bronne waar jy feite kan kry. Dit maak nie saak waaroor jy skryf nie; jy sal altyd ‘n onderhoud of twee met iemand moet voer. Dié persone kan gewone mense wees wat net toevallig deel uitmaak van jou boek se inligting, of hulle kan kenners op sekere gebiede wees. Om ‘n onderhoud te voer beteken ook nie in alle gevalle dat jy fisies na iemand toe moet gaan om die onderhoud te voer nie. Om iemand oor die telefoon te raadpleeg – miskien ‘n kenner van jou onderwerp – word ook onder onderhoude geklassifiseer. Dis egter ‘n meer informele onderhoud as een waar jy ‘n afspraak maak en die persoon gaan ontmoet. Kry dadelik vir jou ‘n indeksboek en begin ‘n navorsingsindeks saamstel. Jou onderwerp sal bepaal hoe dit sal vorm aanneem, en jy sal sommer dadelik weet waar om te begin. Onthou om elke nuwe persoon se besonderhede daarin te skryf.

• Internet Almal het deesdae toegang tot die internet, en dit kan ‘n onuitputlike bron van feite en inligting wees. Vir die skryf van ‘n boek is die internet amper onontbeerlik. Daar is verskeie webwerwe, soos dié van biblioteke, waarop jy feite kan kry sonder om die pad en die verkeer aan te durf. Meeste van die koerante het hul eie webwerwe met argiewe waar jy kan gaan snuffel. Dié argiewe strek van nou tot so ses of agt jaar gelede. Die internet het wel ook sy nadele, soos baie van ons kan getuig: wanneer die netwerk nie aanlyn is nie en jy NOU daardie inligting wil hê...

Behalwe vir die koerante is daar ook webwerwe vir die meeste tydskrifte. Dikwels kan jy ook hier in hul vorige uitgawes gaan rondsnuffel. Om nie eens van verenigings en spesifieke organisasies te praat nie. Kortom is die internet een reuse inligtingshoop!

Afhangende van jou boek se inhoud sal bronne ‘n groter of kleiner rol speel. In die geval van ‘n stokperdjieboek, byvoorbeeld, sal gepubliseerde bronne minder belangrik wees as vir ‘n geskiedenisboek. In so ‘n geval is ‘n bronnelys aan die einde van die teks genoeg. Maar as jy grootliks uit bronne werk, moet jy seker maak jy gee dit korrek weer in jou werk.

Die uitgewer sal jou lei met betrekking tot hul bepaalde verwagting in dié verband. Vra vooraf hoe dit hanteer behoort te word – jy wil nie na die afhandeling van vier hoofstukke weer verplig wees om die ander reg te maak ten opsigte van die notering van bronne nie.

Maar maak seker dat jy ELKE stukkie teks wat jy voorberei kan teruglei na die bron. Selfs al gee jy nie voetnotas of verwysings in die teks nie. Dis ‘n groot werk, maar sal jou baie moeite en selfs verdriet bespaar indien daar navraag gedoen word oor iets wat jy geskryf het. In akademiese tekste word daar grootliks van voetnotas gebruik gemaak, maar dit is onvanpas in koffietafelboeke en ander nie-fiksieboeke. Die beste plan is dus om eers uit te vind hoe jou uitgewer dit gedoen wil hê. Indien daar van jou verwag word om verwysings by die teks te voeg, doen dit soos die uitgewer aandui.

Gaan kyk gerus in ons KUBERWINKEL na die verskillende navorsingsdatabasisse wat beskikbaar is. Dit sal jou navorsing gewis 'n yslike hupstoot gee.

 

Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse