SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
mnnnnnnnnnn
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskuthulpbronne

 

Jy en Jan Taks

 


 

Verstaan jou belasting

2012-02-29

Benjamin Franklin het in die agtiende eeu al gesê: "ons kan van niks in hierdie wêreld seker wees nie, behalwe die dood en belasting." Nou ja, aan die eerste een kan ons weinig doen, maar kom ons takel ten minste die belasting! Nie almal van ons verstaan hoe belasting werk nie, maar ons hoef nie net te sê: “Ag oukei, ek betaal nou maar en kry klaar nie.” As jy jou eie belasting doen, bemagtig jouself. Gaan doen deeglike navorsing oor die spesifieke finansiële jaar se belastingreëls en probeer op hoogte bly van wat in die belastingwêreld aangaan.

Hoe verminder ’n mens jou belasting op ’n wettige manier? Lees en leer. Die meeste rekeningkundige, belasting- en ouditpraktyke, asook die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), gee belastinggidse uit om mense te help met die voltooiing van belastingopgawes. Werk daardeur en bou so jou belastingkennis op.

Kry hulp by ’n kenner. Sorg dat jy ’n belastingadviseur ken by wie jy kan aanklop vir raad indien jy in ’n krisis beland. Hulle het ’n diepgaande kennis van belasting.

Maak seker van jou feite. Eis die basiese aftrekkings wat op jou van toepassing is. Onwettige aftrekkings kan tot boetes van tot 200% van die belasting lei.

Ontleed jou salaris. Vra jou werkgewer of jou salaris nie dalk meer belastingvriendelik gestruktureer kan word nie. As jou selfoon byvoorbeeld meestal vir sakedoeleindes gebruik word, kan jou salaris so gestruktureer word dat jy die nodige toelaes kry en dit kan terugeis.

Ongereelde transaksies. Indien jy eenmalige of transaksies buite die norm aangaan, maak seker jy weet wat die implikasies daarvan is voor jy dit afteken.

As jy getroud is, beoordeel jou en jou eggenote se belastingsake in die geheel. Daar is aftrekkings wat beter benut kan word as dit reg gestruktureer is.

Wees georganiseerd. Doen jou liassering op so ’n manier dat jy nie versuim om wettige aftrekkings te doen nie. Begin jou dokumente vroegtydig bymekaar kry. Teen einde Junie behoort jy alles te hê wat jy nodig het.

Wat is die basiese belastingaftrekkings? Jy kan gewoonlik die volgende aftrek as dit op jou van toepassing is, maar sommige is onderhewig aan beperkings: pensioenfondsbydraes, bydraes tot ’n uittredingsannuïteitfonds, skenkings en donasies aan bepaalde welsynsorganisasies, mediesefondsbydraes en mediese uitgawes, en tuiskantooruitgawes.

Ander toelaes waarteen geëis kan word, is ’n reistoelaag, gebruik van ’n maatskappymotor en ’n bestaanstoelaag as jy reis vir werk.

Indien jy nie seker is wat geëis mag word nie, vra ’n kenner. Jou belastingadviseur of belastinggids sal die presiese vereistes, persentasies en uitsluitings vir jou uiteensit. Sekere van die bedrae wat jy kan terugkry, is soms net ’n persentasie van die groot bedrag.

Hoe werk e-liassering? E-liassering is ’n baie gerieflike elektroniese indieningstelsel waarmee jy jou belastingvorm kan indien, jou aanslag vinnig kan ontvang en enige besware kan indien. Al wat jy nodig het, is toegang tot die internet. Geen spesiale programme is nodig nie. Dit neem omtrent 48 uur om jou profiel te aktiveer ná registrasie. Nadat die registrasie voltooi is, kan jy met jou naam en wagwoord op jou profiel ingaan en jou opgawe aanvra, invul en indien. Jy kan jou opgawe ook eers stoor en later indien, as jy nie al die nodige dokumente by jou het nie.

Die beste is natuurlik dat jy na ure jou belastingsake kan behartig. Geen toustanery by Toonbank A nie! Wanneer jy registreer, is dit baie belangrik om jou besonderhede volledig en korrek in te vul. Die SAID kommunikeer daarvolgens met belastingbetalers, en as iets soos jou bankbesonderhede foutief is, kan dit ’n vertraging met jou uitbetalings veroorsaak.

Jy moet ook seker maak dat jy die korrekte jaar se opgawe aanvra. Probeer ook om nie jou opgawe op die nippertjie te doen nie. Die laaste paar dae voor die sperdatum sal die webblad besig wees en dalk heelwat stadiger reageer. Die stelsel kan jou uitskop as gevolg hiervan, en jou opgawe kan laat wees as jy nie krag het om tot twaalfuur in die nag te sukkel nie. Omdat e-liassering so gerieflik is, verminder dit ook die kans dat jy die verkeerde bedrae invoer as gevolg van ’n berekeningsfout, dus kan jy gerus wees dat jou inligting sowat 80% korrek is.

Wat moet jou inkomste wees om vir belastingaftrekkings te kwalifiseer? Belasting word eers afgetrek wanneer jou jaarlikse belasbare inkomste die belastingdrempel oorskry. Vir die 2012 belastingjaar, wat op 29 Februarie 2012 eindig, is die belastingdrempel soos volg: Natuurlike persone jonger as 65 jaar – R59 750 Natuurlike persone tussen 65 en 75 jaar – R93 150 Natuurlike persone ouer as 75 jaar – R104 261 As jy meer as dit per jaar verdien, sal jy maar moet uithaal en betaal!

Wat het jy nodig om jou belastingvorm te voltooi? Die inligting wat jy beskikbaar moet hê of wat jy aan jou belastingpraktisyn moet gee, is die gewoonlik die volgende: jou bankbesonderhede, alle brondokumente wat betrekking het op die eise wat jy op jou vorm invul, asook jou IRP5-sertifikaat van jou werkgewer. Hou ook jou motor se odometerlesings in ’n logboek, want die SAID aanvaar nie eise teen kilometerlesings sonder jou logboek nie. (En moenie dink jy gaan môre onthou hoe ver en waarheen jy vandag gery het nie, skryf dit elke dag in!)

Dis belangrik om alle dokumente vir ’n minimum van 5 jaar op ’n veilige plek te bêre. Die SAID mag die dokumente van tot 5 jaar gelede by jou aanvra indien daar ’n fout op jou vorm was of as hulle ’n oudit teen jou oopmaak.

- Bron: www.voelgoed.co.za

 

Om uit te vind hoe die nuwe belastingglyskale jou sak kan raak, kan jy dit hier deur middel van 'n aanlyn belastingrekenaar uitwerk (met komplimente van Softline Pastell).

SARS ritboek - Dis selde dat Jan Taks gaaf genoeg is om 'n ietsie gratis aan belastingbetalers te gee. Hierdie ritboek is werklik die moeite werd om af te laai en te gebruik. Dit maak jou lewe 'n bietjie makliker wanneer belastingseisoen aanbreek. Gaan laai dit gerus hier af. Of jy kan sommer 'n dokument hier aflaai om jou reiskostes op aan te teken.

 

Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse