SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskutgereedskapkis

 

Taalghoeroe

  Het jy enige taalvrae of -tameletjies wat jy wil opper? Klik hier om 'n e-pos te stuur aan ons eie taalghoeroe, Louis van Rooyen.

  Klik hier vir die Vraag & Antwoord-blad.

  Klik hier vir nog taalwenke.

 


Taalwenk 5  

Baie skrywers is onseker wanneer dit kom by die gebruik van -stander of -staander as tweede lid van ’n samestelling. Is dit nou buitestaander of buitestander, lampstander of lampstaander?

Tom McLachlan, Voorsitter van die Taalkommissie, het op 14 Desember 2008 tydens RSG se uiters nuttige en gewaardeerde program, Die Tale wat ons Praat, verduidelik die Kommissie het besluit dat -stander voortaan gebruik sal word om na mense te verwys, terwyl -staander vir nie-menslike voorwerpe geld, dus omstander maar hoedestaander.

Mnr. McLachlan meen die besluit sal help om die verwarring om dié woorde uit te skakel.

My taalintuïsie wil egter dat, aangesien die werkwoord in beide gevalle staan is, dit beter sou gedien het as die Kommissie net die enkele vorm -staander erken het. Met net een vorm – en boonop ’n logiese, afgeleide een – kan daar immers geen verwarring wees nie!

 

Taalwenk 4

Met sy poliglottiese woordeskat lyk Engels op die oog af baie anders as Afrikaans, maar albei die tale behoort aan die Germaanse taalfamilie. Danksy dié verwantskap kan mens baie pret hê met sinne soos My hand is in warm water, wat in albei tale lees. Omdat Engels so ’n oorweldigende teenwoordigheid in die wêreld van woorde is, word mens maklik daardeur beïnvloed. Die meeste van ons koes getrou vir ‘anglisismes’, maar daar is subtieler vorme van verleiding, veral op die sintaktiese vlak.

Een hiervan is die volgorde van bepalers, wat in Afrikaans tyd + wyse + plek is (Ek land môre per vliegtuig op Heathrow), maar in Engels process + place + time (I’ll be arriving by plane on Heathrow tomorrow). Veral wanneer mens vertaal, moet mens hiervoor oplet.

Ek lees in Beeld: “Findlay bly deesdae in Ierland, waar hy byna sy tweede roman voltooi het.”

Daardie plasing van byna grief my. Beteken byna ’n tweede roman eintlik ’n eerste roman? Wat natuurlik aan die gang is, is dat “sy tweede roman voltooi het” as ’n parentese beskou word, wat dan in sy geheel deur byna bepaal word. Vir my taalgevoel klink “Findlay bly deesdae in Ierland, waar hy sy tweede roman byna voltooi het” veel beter.

Afrikaans is ’n analitiese taal en span sintaksis veel eerder as morfologie in om die funksie van woorde aan te dui. Weer ’n voorbeeld uit Beeld, dié keer ’n kop: “Hunt ontleed knap psige van 'n nasie”.

Wat is nou knap, die psige of die ontleding? Met ander woorde, is knap 'n byvoeglike naamwoord of 'n bywoord? Die plasing in die sin bepaal knap se woordsoort. Indien die kop gelui het: "Hunt ontleed die psige van 'n nasie knap", was knap 'n bywoord - die ontleding is dus knap. Ek vermoed dis die eintlike bedoeling. Die sintaksis bepaal die betekenis van die sin!

Mens moet dus aandag skenk aan die plasing van die bepaler.

 

Taalwenk 3

Afrikaans is geseën met min morfologie. Dit beteken verskynsels soos uitgange speel skaars ’n rol in ons stroombelynde taal.

Een oorblyfsel uit die vervloë morfologiese tye is egter die -s wat agter aan byvoeglike naamwoorde gevoeg word na iets, enigiets, veel, weinig, min, niks.

Dié -s het niks met die meervoud uit te waai nie; dis ’n taalfossiel wat terugslaan op die genetief (besitsnaamval) van definisie, iets wat menige Latynleerling met meester se lat laat kennis maak het.

Aangesien die byvoeglike naamwoord die voorafgaande woord omskryf of definieer, voeg ons ’n ‘genetiewe’ -s by: iets groots kom uit die bos tevoorskyn, sy vind enigiets soets onweerstaanbaar, veel goeds het uit die idee gespruit, sommige mense het weinig intelligents te sê, daar is toe min moois in die kissie, ek dink hy is niks wonderliks nie.

 

Taalwenk 2

Paronieme is stamverwante woorde, wat beteken hulle betekenis kan verwarrend na aan mekaar wees. So hoor mens byvoorbeeld gereeld hoe skadeloos met die betekenis van onskadelik gebruik word. Skadeloos is ’n term wat hoofsaaklik in die versekeringswese gebruik word: Jy word skadeloos gestel nadat die hael jou motor bygekom het, m.a.w. die versekeringsmaatskappy het jou jou skade vergoed. Die hael kon egter te klein gewees het om jou motor te beskadig, dan was die hael onskadelik. Mens kan ook ’n onskadelike gewoontetjie hê, soos om koddige taalverskynsels te versamel. Ietwat riskanter is om byvoorbeeld ’n bom of ’n gewapende rower onskadelik te maak!

Nog ’n woordpaar wat mens maklik verwar, is styl en steil. Die onderskeid is dat styl ’n selfstandige naamwoord (betekenis: raam, trant/wyse, plantdeel) is, terwyl steil (skuins, reguit/sluik) ’n byvoeglike naamwoord of bywoord is. Steilte is die selfstandige naamwoord afgelei van steil.

 

Taalwenk 1

Veral wanneer mens vertaal, moet mens maar wakker loop om nie deur die brontaal beïnvloed te word nie. In die geval van Afrikaans, is dit juis hoe Anglisismes dikwels insluip.

So is ons geneig om ‘at a snail’s pace’ klakkeloos te vertaal met teen ’n slakkepas. Die aanvaarde uitdrukking is met ’n slakkegang.

<<< Vraag en Antwoord  

                                                   Nog taalwenke >>>   

 

Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse