Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskutgereedskapskis

 

IT-praatjies

 

'n Skrywer is afhanklik van sy rekenaar en geen skrywer wat sy sout werd is hou níé daarvan om oor die jongste IT-nuus te lees nie. Dit is ook belangrik om op hoogte te bly van verwikkelinge op die rekenaar- en internetfront. Ons hou jou hier ingelig oor IT-sake wat van belang is vir skrywers.


Petrol vir jou rekenaar, verniet!

Daar is omtrent vir elke kommersiële sagteware-program 'n gratis gelykwaardige program beskikbaar. En dikwels is hierdie gratis programme selfs beter as die duur gekoopte programme in hul mooi boksies.

deur Pieter Labuschagne

Jy het nou die rekenaar gekoop en gou besef jy hierdie is nie die einde van jou inkopies nie – want die outjie by die rekenaarwinkel het jou toe nie vertel dat jy eintlik sagteware ook gaan nodig kry nie! Toe jy teruggaan om die sagteware aan te skaf, toe ontdek jy vinnig dat dit jou meer gaan kos aan die sagteware as wat jy bestee het aan die rekenaar. Vroutjie is kwaad (om dit sagkens te stel), die kinders is al voos Solitaire gespeel en jy wil nou die rekenaar gebruik vir 'n deurstop sodat die kat nie meer deur die venster hoef in te kom nie. Nou wat nou?

Gelukkig het jy toegang tot die internet (anders sou jy mos nou nie hierdie artikel kon lees nie) en laat ek jou nou 'n ding vertel: Jou bas is gered! Daar is omtrent vir elke kommersiële sagteware-program 'n gelykwaardige program gratis beskikbaar. En dikwels is hierdie gratis programme selfs beter as die duur gekoopte programme in hul mooi boksies – wat in elk geval net 'n DVD of CD bevat.

Elke rekenaar het so paar noodsaaklike programme nodig om jou aan die gang te kry en wat nie noodwendig saam met die rekenaar verskaf word nie. Kom ons maak gou 'n lysie:

Eerstens, beslis 'n kantoor-program. Jy weet mos, iets met 'n woordverwerker en 'n spreadsheet. Die program moet ook 'n databasis- en 'n presentation-fasiliteit hê.

Dan het ons 'n grafiese program nodig vir al daardie foto's wat ons wil verander, verbeter en manipuleer – of sommer net as ons prentjies wil maak.

Verder sal dit lekker wees om die rekenaar teen al daardie woeste virusse en goed wat op die internet rondloop te beskerm. Dit sal ons graag wil doen sonder om elke jaar daai verdomde lisensiegeld te betaal.

Dan wil jy ook graag so nou en dan na 'n DVD-fliek op jou rekenaar kyk, nè? Hou vas, ek gaan jou wys waar jy die ideale programme kry om dit te doen. Laastens wys ek jou so 'n paar speletjies, baie beter as Solitaire! Dalk kan ons op dié manier die res van die huis gepaai kry.

 

1: Kantoor-program: Ja, ek weet julle soek eintlik Microsoft Office. Maar kyk gerus na OpenOffice 3. Hierdie program is baie bekend en doen basies alles wat MS Office vir jou kan doen. Jy kan ook verskeie lêerformate lees en stoor. Die program is 'n bietjie groot om van die internet af te laai en jy sal tien teen een jou maatjie se breëbandverbinding (ADSL) moet gebruik as jy dit nie het nie. OpenOffice is beslis die moeite werd, probeer dit.

As jy slegs belangstel in 'n woordverwerkingsprogram en jou rekenaar so ietwat lank in die tand is, kyk 'n bietjie na AbiWord. Jy sal aangenaam verras wees!

    OpenOffice 3 – http://www.openoffice.org (142 Mb)

    AbiWord – http://www.abisource.com (5 Mb)

 

2: Grafiese program: Jy het nou hierdie magdom foto's van jou nuwe digitale kamera afgelaai – maar wat nou? As jy so kyk na veral daardie een van seuna wat die nuwe brakkie in sy arms hou langs die komposhoop, sou jy darem graag daardie verdomde agtergrond na iets meer gepas wou verander. Nie net dit nie: wat van wit-en-swart-opsies? Of daardie blur-effek? Of die potloodskets wat buurvrou het van haar seuntjie, blykbaar self gemaak met haar rekenaar en Photoshop (lees: eintlik R 1800). Bevrees nie, hier is die antwoord, verniet. Gaan loer vanaand na Photoscape en laai dit af. Môre kan jy gaan brag, of nog beter, laat die ander in die huis gaan brag met wat jy gedoen het, sonder dat dit jou 'n sent gekos het!

'n Ander handige program is natuurlik Paint.NET. Ideaal om prentjies te maak, te verander en nog baie dinge. Ek gebruik gereeld Paint.NET om logo's vir kliënte te ontwerp. Dit werk uitstekend en is gratis. Probeer dit.

    PhotoScape – http:/www.photoscape.org (14 Mb)

    Paint.NET – http:/www.getpaint.net (1.5 Mb)

 

3: Rekeningkundige program: Nou kyk, ek self is nie 'n outjie wat weet hoe om met geld te werk nie. Ek het weke gevat om Pastel Accounting te verstaan voordat ek eers kon begin om data vas te lê. Gelukkig kom ek toe op TurboCash af. Ek verstaan dat professionele rekeningkundiges met my kan verskil oor hierdie een, maar ek dink dit sal oor dieselfde rede wees as wat hulle dubbel-inskrywings uitgevind het. TurboCash behoort aan die gebruikers en ondersteuning is daar genoeg. Gaan kyk na hul webwerf en probeer hierdie een, veral as jy nie 'n verskriklike ingewikkelde rekeningkundige stelsel kan waardeer nie. Die beste van alles, dit is ver-Suid-Afrikaans.

My persoonlike gunsteling egter is QuickBooks se SimpleStart. Hierdie program is logies uiteengesit en grafies baie sinvol. In een woord, gebruikersvriendelik. Die gratis weergawe kan slegs 20 kliënte hanteer maar vir my was dit die ideale begin van 'n goeie ondervinding met hierdie boekhou-ding. Dit is ook maklik om op te gradeer.

Verrassing vir laaste: As jy na 'n gratis en funksionele faktuur- en voorraadstelsel soek, kyk gerus na Volutive. Die ontwikkelaars van Volutive is ongelukkig besig om ondersteuning van hierdie verbasende program op te skort, maar jy sal nie met hom verkeerd gaan nie.

    TurboCash: – http://www.turbocash.net (38 Mb)

    QuickBooks SimpleStart: – http://quickbooks.intuit.com

    Volutive Invoicing and Inventory: - http://download.cnet.com/Volutive-Free-        Invoicing-Inventory/3000- 2067_4-10262791.html?tag=mncol;lst (8 Mb)

 

4: Mediaspelers: As jy na musiek op jou rekenaar wil luister of na 'n fliek wil kyk is daar meer as genoeg programme wat jy kan gebruik. Maar helaas, soos dit gewoonlik gaan is daar altyd 'n paar wat jou geval. Een so program is GOM Player. En glo my, nie sonder rede nie. GOM Player is gratis, advertensie-vry en het omtrent al wat 'n codec is alreeds ingesluit. Die program sal outomaties die lêer lees, uitwerk in watter formaat dit is en dit speel, sonder enige fieterjasies. Selfs gedeeltelike .AVI-lêers is geen problem vir GOM Player nie. Dit kan ook HD–formate hanteer.

As jy daarvan hou om backup-afdrukke te maak van jou CD's, is Winamp nog steeds die ou staatmaker. Winamp is maklik om te gebruik en het 'n skoon gebruikersvlak en –aangesig. Dit kan ook speellyste vir jou saamstel en 'n biblioteekfunksie van al jou musiek onderhou. Ek hoef seker nie te praat oor die outomatiese soekfunksie op die internet na die CD se lied-inligting nie. Dit is net daar . . .

    GOM Player: http://www.gomlab.com (4 Mb)

    Winamp: http://www.winamp.com (9.4 Mb)

 

5: Speletjies: Oukei, hier is die een waarvoor jy gewag het! Geen rekenaar is volledig sonder 'n ordentlike speletjie of twee nie.

Moenie dat enigeen jou vertel speletjies is tydmors nie – dit is baie belangrik vir ontspanning nadat jy ure lank met daardie projek op die rekenaar besig was. Om nie eers te praat van die breingim en hand-oogkoördinasie wat jy bemeester het nie. Vra maar jou kinders, hulle sal jou vertel.

My absolute gunsteling is sekerlik Trackmania Nations ESWC van Nadeo. Alle wedrenne vind in die stadion plaas, waar fantastiese en asemrowende bane gebou is om op te jaag. Jy kan selfs jou eie baan bou as jy wil. Jy kompeteer teen tot agt ander jaers en klim die trappies na roem met elke oorwinning. Grafies gesofistikeerd, maar hou ook die ouens met die ietwat ouer rekenaars in gedagte. Nog steeds vir my moeilik om te glo dit is verniet.

Vir ons wat steeds hunker na ons vervloë dae van rekenaarspeletjies en nog kan onthou dat ons een van die eerstes in die dorp was wat 'n King Kong-masjientjie besit het, is daar ook goeie nuus. Super Mario Bros pluk nog sekerlik aan jou hart as jy net die naam noem. Hierdie speletjie van Nintendo is nou beskikbaar as Mario Forever en is suiwer gratis genot en, wees gewaarsku, die tyd voor jou rekenaar gaan vlieg! Dieselfde aksies as die oorspronklike sal jou na jou kleintyd laat verlang.

My laaste speletjie wy ek aan skaak. DreamQuest het 'n fantastiese weergawe van hierdie gewilde bordspel en hulle sluit 'n afrigter en mentor ook in. Goeie grafika en 'n slim uitleg maak 100% Free Chess Board Game 'n slim keuse. Geniet dit.

    TrackMania Nations ESWC: http://download.cnet.com/Trackmania-Nations-        ESWC/3000-7518_4-10497456.html (266 Mb)

    Mario Forever: http://download.cnet.com/Mario-Forever/3000-7433_4-               10344976.html?tag=mncol (22 Mb)

    Free Chess Board Game: http://www.dqfree.com/free/FreeChess.html (8 Mb)

 

6: Antivirus: Eintlik is daar net een om oor te gesels: AVG se 80 miljoen gebruikers kan nie te ver verkeerd wees nie.

Outomatiese opdatering kan geskeduleer word en gebeur ongesiens. 'n Baie gewilde anti-virusprogram wat ook spyware kan uitwys en verwyder.

Nog 'n baie gewilde program wat spesifiek malware sal identifiseer en verwyder is Lavasoft se program, Ad-Aware.

Dit is 'n goeie idee om beide hierdie programme te gebruik vir daardie twee-tand-verdediging!

     AVG: http://free.avg.com/download-avg-anti-virus-free-edition

     Ad-Aware: http://www.lavasoft.com/products/ad_aware_free.php

- Bron: jouwêreld e-tydskrif  

 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.

     Vertel 'n vriend van ons  

 

 Tuisblad                    Skryfkursusse                    Blitskursusse

Sluit venster