Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG
Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.
Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunstelingskrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.
Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.
Juliette Whelpton
Juliette Whelpton is ‘n gekwalifiseerde sielkundige, voormalige luitenant-kolonel in die SA Polisiediens en spesialiseer in navorsingskonsultasie, perd-assisterende en kunsberading. Sy is die stigter van Healing Hooves, ‘n organisasie wat programme aan individue en groepe bied, asook uitreikprogramme aan gemeenskappe in nood. En sy is ook die skryfster van 'n reeks boeke oor helde met hoewe waarin die perde sélf hul lewensverhale vertel.
Kom ons begin by die begin: Wanneer en hoekom het jy begin skryf? Ek skryf vandat ek kan onthou. Dit is nog altyd vir my 'n manier om orde in my denke te kry veral in tye van transformasie. Wanneer jy kreatief skryf is jy vry, sonder die gebondenheid van tyd-, kulturele- en gebiedsgrense. In die skeppende proses word metafore en simbole spontaan gebruik en kry jy dikwels insig na die tyd. Dit is eers na hierdie proses wat die taal- en spelreëls inkom en behoorlike struktuur geskep word.
Wat was jou heel eerste publikasiesukses? En wanneer? Fleur, die storie van die Arabierperd van generaal Christiaan de Wet. Dit is die eerste boek in die Helde met Hoewe-reeks en is in 2014 gepubliseer.
Nou vir bietjie meer diepte … hoe en wanneer het jy op die idee van die Helde met Hoewe-stories gekom en veral om die stories deur die perde sélf te laat vertel? En hoe kry jy dit so perfek reg? Op skool was geskiedenis as vak nie bo-aan my lysie van populariteit nie. Dit was 'n papegaaivak met onmoontlik-om-te-onthou hoeveelheid datums, name en plekke. Dit is eers jare later, toe ek op 'n kruispad in my eie lewe was, wat ek besef het hoe interessant en lewendig geskiedenis in der waarheid is. Dit is soveel meer as datums en name! Dit is stories, ware stories van 'n verlede waarvan ons almal deel is. Natuurlik verskil die stories afhangende van die perskeptief van die verteller. Dit is hoe die idee ontstaan het om die geskiedenis op 'n objektiewe manier te probeer vertel deur die bekke van perde wat werklik tydens daardie tyd gelewe het. Perde het nog altyd deur my are gevloei en was net soos skryf deel van my wese.
Daar moes geweldig baie navorsing vir elke boek gewees het. Hoe doen jy die navorsing? Wat se bronne gebruik jy? En omtrent hoe lank neem die navorsing vir elke boek? Die skryf van die Helde met Hoewe-reeks was 'n reis wat my lewe verander het. Dit het alles begin toe ek aan die einde van my loopbaan in die Polisiediens was. Na jare se werk in Misdaadintelligensie se rekenaarondersoekeenheid, waar jy daagliks met die donkerkant van die mensdom werk, het dit sy tol op my eie menswees begin eis. In hierdie tyd was ek by 'n boekbekendstelling oor die lewe van generaal Christiaan de Wet wie 'n prominente rol gespeel het tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902. Daar het onder meer 'n swart en wit video gespeel, oorpronklike beeldmateriaal uit daardie tyd. Dit was veral die perd van die Generaal wat my aandag getrek het. Sy naam was Fleur. Ek het besluit om Fleur se storie te vertel. So het ek agter die eeue oue spore van die perd begin loop, na slagvelde, na biblioteke en argiewe, onderhoude met geskiedkundiges en agter mense se stories reg oor die land. Fleur se storie was ook vir my 'n heelwordproses en het twee jaar geduur voordat dit klaar geskryf was.
As mens jou Helde met Hoewe-reeks lees, kom jy agter dat jy nie net perde uitstekend verstaan en ken nie, maar ook ‘n groot liefde vir hulle het. Waar het hierdie verhouding met perde begin? Ek het my eerste perd, Rubi, gekry toe ek drie jaar oud was. Die palomino het in ons klein huisie in Krugersdorp se motorhuis geslaap en bedags heerlik gewei tussen die groen gras op die sportveld van die skool oorkant ons huisie. My pa het graag vir ons stories vertel en ek en my broer het behoorlik aan sy lippe gehang. Dit was avontuurverhale wat al te lekker gesout en peper was en perde was gewoonlik 'n hooftema. Vir my was dit die mooiste skepsels in die wereld.
Is jy ‘n goeie perderuiter? Het jy tans nog op ‘n gereelde basis met perde te doen? Ek het reeds toe al begin ry en lesse geneem en alhoewel ek nooit kompeterend gery het nie het ek al die dissiplines geleer. Tot vandag toe gaan dit nie vir my oor perdry as sulks maar eerder om by hulle te wees. Daardie bekende woorde van Winston Churchill: “There is something of the outside of a horse that is good for the inside of a man”, kan nie meer van toepassing wees nie.
As ‘n mens kyk na wat jy al alles gedoen het, wil dit voorkom asof jy ‘n ewige reisiger is. Bietjie van ‘n gypsey. Vertel ‘n bietjie meer oor jou lewe, reise en al die plekke waar jy al was. En hoekom dit lyk asof jy tans op Phillipolis begin wortelskiet? Ek kan verseker identifiseer met die lewe van 'n gypsie. Om te lank op een plek te wees raak vinnig vervelig en maak my morbied. Daar is iets aan die langpadvat wat bevrydend is, altyd iets nuuts om te ontdek. Met my werk by die rekenaarmisdaadondersoekeenheid het die reise na die buiteland begin. Anders as ander misdade bied die internet geleenthede vir booswigte om oor grense saam te werk en word internationale misdaadsindikate met groot sukses gevorm. Ons het nou saam gewerk met ander lande se wetstoepassingsagentskappe, en ek was onder meer in Lyon in Frankryk en in Montreal in Kanada.
Met die navorsing vir die Helde met Hoewe-boekreeks was ek kruis en dwars deur die land as soloreisiger. Die platteland hou vir my 'n bekoring in en as dit natuurlik met perde gepaard gaan trek dit my soos 'n magneet. Ek het vir twee jaar op Kaapsehoop gewoon. Die perdekarakter, Dapper, was onder meer in die dorpie in Mpumalanga. Kaapsehoop kan in een woord beskryf word: sprokiesagtig - hoog in die berge tussen die plantasie, misterieus tussen digte mis waardeur die legendariese wilde perde van die gebied soms gewaar word.
Na Kaapsehoop het ek Philippolis ontdek. Verskeie van die karakters in die boeke Fleur en Maharajah se spore het diep in die Suid-Vrysaatse dorp getrap. Hier, in die eerste nedersetting van die Vrystaat voel dit asof tyd stil gestaan het. 'n Karoodorp met ruimtes waar jy werklik kan asemhaal. 'n Plek waar jy kan skep na hartelus, asof jy binne in 'n skoon canvas klim. So het ek onder meer die Karoo Artist's Cafe begin. Die ou verwaarlooste werkswinkel is omskep in 'n restaurant wat ook dien as 'n teater en gallery en waar daar elke maand 'n Stoepkletsmark saam met die plaaslike gemeenskap gehou word. Wat wortelskiet aanbetref? Dit sal die toekoms leer. Vir nou is “Starry Nights Karoo Cottages” my “lock up and go”. Philippolis is sentraal geleë in die land en die perfekte basis om vanaf te verken.
En vertel sommer bietjie van daardie fantastiese reis deur Suid-Amerika. Wat se kennis en insig het jy vandaar saamgebring? En hoe het jy en jou mede-reisiger die reis beplan en aangepak? Het julle dit alles self gedoen of was daar ‘n toeragentskap betrokke? As dogtertjie het ek en my maats tussen bome langs bergstrome in Muldersdrift ons verbeel dat ons op 'n ekspidisie in die Amasone is. Ek het in my lewe al telkemale ervaar hoe belangrik dit is om te droom en hoe baie keer jou drome manifisteer. My mede-reisiger is 'n wereldreisiger wat al in meer as 95 lande was. Hy is ook 'n alleenreisiger, maar moes seker gesien het dat ek net soos hy leef vir reis en toe die kans gevat om vir die eerste keer iemand saam te neem. Groot kans! Maar helaas 'n wenner! John is 'n praktiese dromer en met sy ondervinding, toewyding en deursettingsvermoe was dit moontlik om al die beplanning self te doen sonder enige hulp van 'n toeragentskap. Met maande se navorsing, youtube videos en bestudering van landkaarte het die reis reeds lank voor die aanvangsdatum begin.
Die eerste land wat ons besoek het was Peru. Die Amasone was tien keer beter as my Muldersdrift-droomlandekspedisies. Ons het piranhas gevang, gesmul aan Ceviche (Peru se tradisionele dis van rou vis), 'n Shaman-seremonie bygewoon, gekou aan rou coca-blare, die heilige Inkastad, Machu Picchu, besoek en seker die mooiste herhinnering – die vashou van 'n luidier.
Na Peru was Chile, Uruguay, Paraguay, Argentinië en Brasilië aan die beurt. Mense vra gereeld: Wat was vir julle die beste? Dit is onmoontlik om te antwoord, want die plekke is baie divers. Wat wel uitstaan is die ondervindings. Dit is die klein dingetjies wat dit onvergeetlik maak en wat 'n baie sterk band tussen mede-reisigers vorm, veral as dit net julle is wat in twee maande se tyd in 'n kontinent is waar julle die enigste twee is wat mekaar se taal en gewoontes verstaan.
Lesse geleer: Eerstens, maak maar seker dat jy 'n goeie vertalingsapplikasie op jou foon het en 'n deeglike internetkonneksie sal baie help. Die kos wat ons bestel het was gewoonlik 'n groot verrassing! Tweedens, pak min. Jy het werklik minder nodig as wat jy dink. Jy wil nie swaar dra en met groot tasse rondloop as jy elke tweede aand op 'n ander plek slaap of as jy baie gaan stap en nie stoorplek het nie. Jy leer dat 'n mens, soos in die lewe, met min oor die weg kan kom en eintlik gelukkiger is daarmee as met te veel.
Nou weer terug na jou skryfwerk – wanneer jy ‘n nuwe boek begin, doen jy eers beplanning of het jy in elk geval ‘n goeie idee van hoe en wat jy wil skryf? Nadat jy natuurlik die navorsing gedoen het, want geen mens kan so ‘n geskiedkundige boek skryf sonder die nodige en indiepte navorsing nie, hoe begin jy? Met ander woorde, hoe gaan jy te werk om 'n storie-idee te ontwikkel tot 'n volledige boek? Ek het gewoonlik 'n goeie idee van wat ek wil skryf. Met die Helde met Hoewe-reeks wat 'n geskiedkundige verhaal is, is die storielyn reeds daar. Die kuns is om die geskiedkundige feite, die gedrag van perde en die lesersteikengroep bymekaar te bring. Ek hou ook daarvan om rond te spring in tyd en wissel graag tussen hede, verlede en toekoms.
Hoe skryf jy? Het jy enige rituele of musiek waarna jy luister? Of enigiets wat jou dalk kan help om makliker te skryf? Het jy ‘n spesiale skryfhoek of ‘n studeerkamer? Ek het nie 'n spesiale skryfhoekie nie. Ek voel tuis om te skryf in koffiewinkels, boekwinkels (veral Richmond Books and Prints in die Noord-Kaapse Karoodorp, Richmond) en buite in die natuur.
Wat inspireer jou om te skryf? Die natuur en skilder. Soms is jou gedagtes so oorlaai met idees, verpligtinge en kommer. Wanneer ek egter gaan stap of skilder is dit asof alles netjies in plek val, so asof mens in 'n tipe “flow” is. Dit is dan wanneer kreatiewe ideas weer vlam vat en idees vir 'n storie vorm kry.
Hoe het jy jou skryfproses oor die jare ontwikkel? Ek het begin skryf as 'n vryskutjoernalis van reisartikels. Iets waarop ek graag meer wil fokus in die toekoms.
Watter skrywers of boeke het die grootste invloed op jou gehad? Dolf van Niekerk, Elsabe Steenberg (Boom Bomer Boomste), PG du Plessis (Fees van die ongenooides), Ernest Hemingway (Old Man at the Bridge), Lochner de Kock ('n Mens kan 'n masjien nie vertrou nie en ander verhale), Milan Kundera, en Dana Snyman.
Hoe gaan jy om met skrywersblok – as jy ooit daaraan ly? Gaan stap. Klim in die kar en neem die langpad. Reis is die beste. Skilder of skets. Kyk 'n rolprent. Begin net. Al is dit net een sin...
Hoe vind jy die balans tussen werk, lewe en skryf? Werk, lewe en skryf is onlosmaaklik deel van mekaar. Dit is inmekaar gevleg. Hoe meer jy lewe en ervaar, hoe meer mense jy waarneem of mee gesels, hoe meer stories word gehoor en hoe meer idees word “gebore”. Ek het my lewe so vereenvoudig, sonder die verpligtinge wat die samelewing aan ons voorskryf soos karre, groot huise, duur klere en skuld, sodat ek die weelde van tyd kan he om in die oomblik te kan wees, dit werklik te kan “beleef” en te kan skryf.
En laastens, jou jongste boek, Stories van SA Boerperde, is die vyfde in jou Helde met Hoewe-reeks. Is dit die laaste een of beplan jy nóg? (Ek hoop daar’s nog!) Moeilik om te se. Met die skryf van die reeks het my lewe ontwikkel na 'n ander vlak. Dit is asof ek afskeid begin neem van dinge soos die perdeboeke, asof daardie soeke agter die perdespore my nou tot op 'n punt gebring het.
Vir nou gaan ek vir 'n paar maande “ondergronds”, geen sosiale media, baie lees, navorsing oor die volgende reis na Asië en net ... wees. Dan sal ons sien.
Soos NP van Wyk Louw beskryf in my gunstelinggedig “Winter”:
Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.