Kontak Ilse                              

                               

        Ilse Ferreira

Kursussamesteller en -opleier:

Niefiksieboek                  Mediese joernalistiek                    Verewig jou familiegeskiedenis  

In vervloeë dae ...

Die tinteling. Die Impala-mieliemeel-huppelstappie. Ek werk vir ‘n koerant!

My eerste werk as verslaggewer was vir my ‘n saak van erns, al was dit allesbehalwe “gręnd” – sommer ‘n plaaslike koerant.

Ek onthou nog hoe ek my kamera gesit en klem het toe ek saam met ‘n skare op die lughawe gewag het om Rod Stewart te sien land. Die gevoel toe ek daardie foto in my hand hou…

Die dag toe ek en ‘n jong student ‘n brandweerwa tot op die aanloopbaan by Jan Smuts gevolg het in die brandende geloof dat ons ‘n “scoop” gaan kry – net om na ure se gebel vas te stel die stoute bestuurder het sy sirene gebruik om deur ‘n robot te glip en dat die wa maar net roetine herstelwerk ontvang het- en op pad terug na sy pos was.

Ek onthou ook nog van my eerste flaters toe ek ‘n dame wou vra om haar van te spel  - en toe sę “kan jy jou vel vir my span?”

Ook onthou ek my misnoeë oor die veranderings wat die redakteur aan ELKE storie loop maak het. Vir die eerste keer in my lewe VERANDER iemand aan my skryfwerk. Dit was seker die moeilikste van die hele leerkurwe.

Sterk in my geheue sit nog die voorval toe ons oud-president PW my naam in die parlement genoem het om te verwys na ‘n voorbladartikel onder my naam – wat deur my redakteur so verkrag is dat ek dit letterlik self nie kon herken nie. Ek het weke lank ‘n stoomwolk om my kop gehad.

Maar leer leer jy. En jare se skryf laat jou besef dat nie alles ‘n geveg werd is nie. Nou se dae aanvaar ek gelate as iemand my werk verander – want skryf is ‘n subjektiewe ding en nou aan die ego verbonde. Stuur nou ‘n artikel aan ‘n professor. Hy kan eenvoudig nie jou werk lees en dit laat gaan nie. Sy ego vereis dat hy jou werk verander – ten spyte daarvan dat hy in sy beroep opgelei is om vir sy eweknieë te skryf, en jý vir die menigtes …

Vandag, letterlik tienduisende stories later, kan ek ook sę: ek skryf omdat ek nie anders kan nie.

Die bedryf is soos ‘n bootjie op die oop see: ek het al meer as ‘n handvol publikasies sien ondergaan – partykeer terwyl ek op die bootjie gesit het; prooi was van die proses.

Tog is ek steeds vroeg en laat besig om te skryf – omdat ek nie anders kan nie.

My ervaring in dié veld sluit in:

In die skakelbedryf het ek onskatbaar waardevolle ervaring opgedoen veral met betrekking tot strategiese beplanning – en skryfwerk. Een onderwerp wat gehanteer word vir 5 verskillende markte: en meeste van my kliënte in die veld was tegnies van aard: Panasonic, Philips Consumer Products, Unidata, PWV Risk Managers, Cummins Diesels, Nissan Diesel, Stantech Engineering, Eskom, Bloutrein, Mondi Magazine Awards, Medicaid Administrators, Monsanto Landbouchemikalieë, Fedlife en bekendstellings soos Minitel.

Ander ervaring sluit in die skryf van draaiboeke, media veldtogte, Business-to-Business skryfwerk, vertalings wat deel van die proses is, asook skryf van kursusmateriaal vir Afrox.

Die twee grootste hoogtepunte tot dusver was toe ek ‘n finalis was in die “Sunday Star Young leaders of tomorrow” ekonomiese skryfkompetisie in 1992, en tans, die bekendstelling van my eerste vollengte boek, Italian Footprints in SA (Jacana 2009).

 Sluit venster