SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed

Geeneen wat 'n skryfbesigheid bedryf of vryskut werk kan verby 'n bruikbare wenk kyk nie en ons hier by SA Vryskutskrywer is geen uitsondering nie. Wenke, wenke en nogmaals wenke is altyd meer as welkom in 'n vryskutskrywer se gestresde én gejaagde lewe en as jy 'n beproefde wenk met 'n mede-gestresde kollega kan deel sal ons dit met ope arms aanvaar.

Het jy dalk 'n skryfwenk wat werk? Kontak ons met enige bruikbare skryfwenke. Ons sal dit graag publiseer.


 

7 Wenke vir 'n topverkoperkinderboek

Daar is sewe belangrike redes waarom daardie kinderboekmanuskrip wat jy met groot entoesiasme geskryf het nou in jou laai lê en vismotkos word. Hierdie sewe sleutels tot sukses as 'n kinderboekskrywer is eenvoudig en eintlik heeltemal voor die hand liggend, maar baie skrywers vergeet daarvan in hul ywer om ‘n kinderboek te skryf. Plak hierdie paar wenke dus by jou lessenaar op sodat jy dit nooit uit die oog verloor nie.

WENK 1: Skep 'n held met wie jou leser kan identifiseer. Ondersoek jou teikenmark baie deeglik. Wie gaan jou boek lees? Net omdat jy dink jou hoofkarakter is snaaks, oulik en briljant, beteken dit nie dat jou leser daardie opinie deel nie.

WENK 2: Hou dit eenvoudig. Skryf vir jou teikenlesers, nie vir jou gunsteling-Afrikaanse hoërskoolonnie nie. Daar is genoeg “hogere” letterkunde beskikbaar. Identifiseer jou mark en skryf op hulle vlak. Jy sal enige voornemende leser afskrik as jy buite hul vlak van begrip skryf.

WENK 3: Gee jou leser 'n probleem waarmee hy of sy empatie kan hê. Skryf jy vir tienermeisies? Dan moet jy iets inbring van die pyn van tienerromanse, of die gebrek daaraan. Skryf jy vir laerskoolseuns? Skoolboelies is ‘n groot kwessie deesdae en menige jong seun sal daarmee kan identifiseer.

WENK 4: Verskaf ‘n anti-held wat sin maak. Die antagonis in jou storie moet nie alles wees wat jou hoofkarakter (held) níé is nie. Mense is nooit net goed of sleg nie; jou karakters ook nie. Hulle moet almal oor geloofwaardige goeie en slegte eienskappe beskik, anders gaan jou lesers nooit glo wat hulle wil oordra nie. Skep dus karakters met diepte.

WENK 5: Rol ‘n paar klippe in jou hoofkarakters se pad. Beide jou held en antagonis móét ‘n paar struikelblokke in die lewe oorkom. Die lewe is nooit net seepglad nie; selfs nie vir kinders nie. Laat die karakters dus bietjie sukkel met oënskynlik onoorkombare probleme. Sodoende kry hulle meer diepte en jou lesers leer iets van volharding.

WENK 6: Werk ‘n les iewers in. Dis belangrik dat minstens jou held ‘n les oor hom- of haarself moet leer. Is hy dapperder as wat hy gedink het hy is? Is die feit dat sy ‘n boekwurm is toe nie eerder ‘n bate nie? Jou karakters moet 'n soort van selfverwesenliking ervaar. Dit moet egter baie subtiel wees en glad nie prekerig nie. Verskaf ook net ‘n paar leidrade aan jou leser van hoe die karakter gegroei en verander het. Moet hulle nie met ellelange verduidelikings verveel nie.

WENK 7: Begin en eindig jou storie met 'n knal. Vang jou leser se aandag heel aan die begin vas met ‘n belangrike kwessie en dis feitlik gewaarborg dat hulle nie sal kan wag om die einde te lees nie. En sal hoop vir ‘n opvolgboek ook. Jou storie moet dus met ‘n knal begin, dan met ‘n fyn én opwindende draad loop tot aan die einde wanneer jy met iets werklik plofbaar vorendag moet kom. Jou werk met ‘n kinderboek is om te verseker dat jou leser hom- of haarself vir die tyd wat die leeswerk duur, heeltemal in die wêreld wat JY geskep het, verloor.

Wil jy 'n kinderboek skryf of wil jy deel wees van ons aanlynslypskool? Klik hier vir ons kinderboekskryfkursus en hier vir ons aanlynslypskool.


Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse