SA Vryskutskrywer SA Vryskutskrywer
 

Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed

Geeneen wat 'n skryfbesigheid bedryf of vryskut werk kan verby 'n bruikbare wenk kyk nie en ons hier by SA Vryskutskrywer is geen uitsondering nie. Wenke, wenke en nogmaals wenke is altyd meer as welkom in 'n vryskutskrywer se gestresde én gejaagde lewe en as jy 'n beproefde wenk met 'n mede-gestresde kollega kan deel sal ons dit met ope arms aanvaar.

Het jy dalk 'n skryfwenk wat werk? Kontak ons met enige bruikbare skryfwenke. Ons sal dit graag publiseer.


 

5 Skryfwenke vir beginnerskrywers

 

Elsabé Welman, skryfster van agt topverkoper romans, verskaf hier praktiese raad aan voornemende skrywers.

  1. Jy kan nie sonder ‘n plan skryf nie

Ek beplan eers die breë trekke op ’n stuk papier. Pyltjies heen en weer, ’n propperse gekrap. Nie dat dit die eindproduk is nie, maar ek weet dan waarheen ek werk. Daarna doen ek die hoofkarakters se karakterkaarte, breedvoerig. Dis soos om jou eie twee mense en hulle lewens te skep. Die subkarakters volg dan, nie in soveel detail nie. Dis belangrik dat elke karakter uitstaan in terme van voorkoms, dialoog, persoonlikheid, ens. Daarna begin ek skryf. Dit is die lekkerste van die hele proses. Tik, tik, tik. Foute word later reggemaak, selfredigering vind nóg later plaas.

 

  1. Ja, jy kan wel geld maak uit jou skryfwerk

Nie almal is JK Rowlings en Deon Meyers nie, en dit moet skrywers weet. Maar selfs hulle was beginners. Dit neem ook tyd en ’n paar boeke op die rak om raakgesien en gelees te word. ’n Skrywersvriendin het my destyds gemotiveer en gesê ek moet so gou moontlik vyf boeke gelyktydig op Amazon kry,een dan gaan dinge verander. Dit was toe so en stadigaan verhoog die tantieme indien jy meer verkoop. Ek probeer my uitgawes met my eerste besending sagtebande dek. Daarna is die e-boekverkope en sagtebande wins. Dus: JA, jy kan geld maak, maar dit neem tyd, geduld en gereelde publikasies. Dan die groot MAAR: bemarking. Al publiseer jy deur ’n tradisionele uitgewer, moet jy steeds bemark. Niks val sommer in jou skoot nie. Bekende skrywers se boeke verkoop op grond van hul naam. Ons outjies moet baie bemark en jou advertensies moet aandag trek. Jou voorblaaie moet goed lyk.

 

  1. Selfpublikasie vs hoofstroomuitgewers

My ervaring met hoofstroomuitgewers was nie goed nie. Agt maande se wag voor die uitgewer laat weet het hulle aanvaar die manuskrip, maar klein veranderings is nodig, wat ek binne twee weke teruggestuur het. Na 14 maande vra hulle dat ek al die karakters moet vervang en die storielyn moet verander. Huh? Ja, dit was my antwoord. ’n Hele jaar en ek moet voor begin! Ek het die einste boek binne drie maande self gepubliseer, met al die korrekte stappe waaronder professionele redigering en ’n netjiesee omslag. En hy het goed verkoop! Verkoop nog steeds goed op Amazon (was ‘n #1 topverkoper en het gereeld bo aan die lys gekuier). Ek noem dit nie om te spog nie. Eintlik moet ek dankie sê vir hierdie en ander antwoorde soos, “Ons publiseer tans net bekende skrywers se werk.” Dit het my in die selfpubliseringswêreld ingedruk, want ek en ander het geglo in my skryfwerk. Ek het by mede-Indieskrywers geleer en ken elke stap in publisering. In dié stadium betaal ek slegs vir enkele dienste, onder andere die omslag, ’n professionele redigeerder en ’n drukker. Met elke boek toets ek die mark vir beter kwotasies, maar ek weet al wie doen kwaliteitwerk. Ek het beta-lesers wat help. Ek formateer die geredigeerde werk self na e-boek en gedrukte formaat. Ek publiseer self op Amazon en elders. Ek bemark self. Ek beheer die hele proses. En die beste van alles, ek hoef nie maande of ’n jaar of twee te wag voordat die boek verskyn nie.

 

 

 

  1. Deeglike navorsing is noodsaaklik

Geen skrywer wil hê dat ’n leser moet dink jy sit die pot mis met werklikheid nie. Om geloofwaardig te wees met feite, moet mens seker maak jou feite is korrek. Ek doen navorsing totdat ek tevrede is, totdat ek dit kan verstaan, totdat ek dink al die feite is gedek sodat ek nie nonsens praat nie. Tannie Google help my baie, maar ek praat ook met mense in die veld om seker te maak ek interpreteer dit korrek. Met Klippe kan Kraak, het ek 'n vriend wat betrokke was met paroolvoorwaardes in korrektiewe dienste geraadpleeg. Die rede: paroolvoorwaardes van vroeër jare in RSA, volgens tannie Google, word dalk nie hedendaags so toegepas nie. Ek het ’n karakter gehad wat ribbes gebreek het. My een beta-leser het gevra of ek al ooit ’n rib gekraak/gebreek het, want my karakter het heeltemal te gou herstel 🤦‍♀️. Terselfdertyd waak ek ook om nie té veel info te gee oor ’n subonderwerp nie, want dit kan die aandag aflei en die leser verveel.

 

  1. Gebruik kritiek tot jou voordeel

Mens moet ’n dik vel ontwikkel en kyk wat die kritiek behels. As 99% lesers ’n vier- of vyfster-gradering vir jou boek gee, kan jy nie in depressie verval oor een eenster-gradering nie. Natuurlik gaan nie almal van jou genre of skryfstyl hou nie. Natuurlik wen nie almal pryse of jou kortverhaal word altyd by ’n tydskrif aanvaar nie. Afkeuring van jou werk is deel van die pakket. Dit beteken nie jy is níé ’n skrywer nie. Daardie afgekeurde kortverhale word jou eie kortverhaalbundel. Daardie “nie-publiseerbaar”-briefie van ’n tradisionele uitgewer het ’n #1 geword op Amazon se Beste Afrikaanse verkope (selfgepubliseer). Draai kritiek om in ’n leergeleentheid en ’n “ek kan”-houding.

 

  • Lees 'n volledige onderhoud met Elsabe op ons webblad. Klik hier.

  • Klik hier om Elsabé se webblad te besoek en hier om na haar boeke op Amazon te kyk. Koop van haar gedrukte boeke hier.

  • Laat Elsabé jou help om jou manuskrip persklaar te kry om op Amazon te publiseer. Klik hier vir die diens.

 

Is jy gereed om kreatief te skryf? Klik op onderstaande skakels vir meer inligting.

Die ABC van Kortverhale

Vonkfiksie ontlont

Skryf Kreatief!

Só skryf jy ‘n Novelle

Skryf 'n Roman

Skryf 'n Liefdesroman

Skryf 'n Kinderboek


Vertel 'n vriend hiervan:              Kontak ons


 

 

 

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig. 

                                            Vertel 'n vriend van ons  

Sluit venster              Skryfkursusse                    Blitskursusse