Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed

 

Artikels

 

Skrywers is van nature nuuskierige wesens. Hulle hou van lees en wil graag ingelig bly oor alles wat met skryf te make het.

 

Dié afdeling is spesiaal vir diegene wat wil weet wat op die Afrikaanse skrywersfront gebeur. Ons probeer om die artikels so gereeld moontlik aan te vul en maak ook graag gebruik van gasskrywers en kenners op hul onderskeie gebiede.

 

 

 

 

 


 

Wanneer pleeg 'n skrywer plagiaat?

Plagiaat  (of letterdiewery) is die oorneem van idees en argumente uit 'n ander skrywer se werk en dit as jou eie te laat deurgaan, met ander woorde, jy gebruik ‘n ander skrywer se woorde, maar jy gee hom of haar nie erkenning daarvoor nie. 

Plagiaat is 'n baie ernstige oortreding, en behels:  

1. Oorneem vanuit 'n bron

As jy 'n aanhaling uit 'n bron neem, moet jy dit tussen aanhalingstekens plaas en die bron waaruit jy dit geneem het aanhaal. 'n Reeks kort aanhalings uit verskillende bronne, indien nie duidelik as sulks geïdentifiseer nie, geld as plagiaat net soveel as 'n enkele lang aanhaling uit 'n enkele bron waarvan die bron nie erken word nie.  

2.  Navolging van 'n bron

Indien jy 'n bron nougeset navolg (byvoorbeeld deur slegs die teks anders te bewoord, terwyl die samehang van die uiteensetting gevolg word) moet jy die bron erken.

Hierdie reël geld ook as jy slegs 'n enkele sin uit 'n bron anders bewoord.  

3. Afhanklikheid van 'n bron vir 'n idee

Die oorneem van iemand anders se idees as jou eie, is plagiaat. Alhoewel, as 'n idee in 'n sekere veld wyd inslag gevind het, kan dit gebeur dat die idee nie meer aan 'n enkele individu gekoppel word nie (die idee word gedeelde intellektuele eiendom – mense beskou dit as 'n feit). In hierdie geval is dit nie meer nodig om erkenning aan die individu te gee nie.  

In die meeste gevalle egter, het die idee waarop jy steun nie die status van algemene intellektuele eiendom nie en moet erkenning gegee word aan die oorsprong of die skepper van die idee. Indien jy onseker is of 'n verwysing na die oorsprong van die idee ingesluit moet word, speel veilig en sluit die verwysing in.  

4. Afhanklikheid van 'n bron vir 'n argument

Wat vir 'n idee geld, geld ook vir 'n argument. Jy mag nie iemand anders se argument vir of teen 'n sekere standpunt as jou eie gebruik nie.  

Die webtuiste van die Universiteitskollege van Londen stel ook die volgende twee belangrike punte:  

“Nieteenstaande die algemene siening, is plagiaat maklik opspoorbaar. Die persone wat julle werk merk is baie ervare en merk redelik maklik veranderinge in styl en ander verklikkers op wat met plagiaat gepaard gaan.” 

“Baie studente glo hul kan wegkom met plagiaat as hul internet-dokumente gebruik as nie-erkende bronne. Hoe ook al, dit is baie makliker vir ons om hierdie bronne op te spoor as wat dit vir die student is. Dit is omdat ons presies weet vir watter teks ons soek (ons het die student se geskrewe werk), terwyl die student, wanneer hy na die bron soek, dit nie weet nie. Dus, indien daar 'n vermoede ontstaan, kan 'n soektog baie gou gegenereer word wat die bron sal blootstel.”

- Bron: Universiteit van Stellenbosch

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.

     Vertel 'n vriend van ons  

 

 Tuisblad                    Skryfkursusse                    Blitskursusse

Sluit venster