Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed

 

Artikels

 

Skrywers is van nature nuuskierige wesens. Hulle hou van lees en wil graag ingelig bly oor alles wat met skryf te make het.

 

Dié afdeling is spesiaal vir diegene wat wil weet wat op die Afrikaanse skrywersfront gebeur. Ons probeer om die artikels so gereeld moontlik aan te vul en maak ook graag gebruik van gasskrywers en kenners op hul onderskeie gebiede.

 

 

 

 

 


 

Die feit is...

deur Johan Swarts

2010-03-04

Ek het onlangs op 'n gerespekteerde joernalis se blog afgekom, waarop sy 'n analis se toptien "tendense" vir 2010 gelys het. Nadat ek die betrokke inskrywing gelees het, was ek egter ietwat teleurgesteld – die “tendense” wat die analis vir 2010 voorspel het, was na my mening nie slegs in vele gevalle ou nuus nie, maar plek-plek nie eers oorspronklik nie.

Spesifiek Seth Godin se konsep van permission marketing aan stamme ("tribes"), oop gesprekke met verbruikers en die derduisende nisse wat die internet die afgelope dekade geaksentueer het, het aan bod gekom.

Só het ek dit toe ook via kommentaar op die gerespekteerde joernalis se inskrywing te kenne gegee: ek sou graag wou sien dat daar ten minste 'n bronverwysing na, byvoorbeeld, Godin is wat erkenning aan die betrokke idees gee, eerder as dat daar bloot daarna verwys word en die persepsie ontstaan dat die idees die analis s'n is.

Die joernalis het spoedig 'n e-pos aan my teruggestuur waarin sy die analis versoek het om my "beskuldiging" van plagiaat op te klaar. Die individu het gereageer en laat weet dat hy nie tyd wil afstaan aan 'n antwoord nie. Een van sy redes was dat, hoewel ék bewus is van Godin se idees, baie ander mense nie is nie en dat daar boonop iets soos 'n "kollektiewe bewussyn" is. (Hoe 'n kollektiewe bewussyn onder baie mense wat nié van ‘n idee bewus is nie kan bestaan, is vir my onduidelik.)

My reaksie was dat min mense wat bewus is van 'n idee nie iemand vrystel van die verantwoordelikheid om 'n bronverwysing na die betrokke idee te hê wanneer dit gepubliseer word nie.

Skaars 'n dag later het ek die volgende repliek van die joernalis, wat deurgaans in die e-posgesprek betrokke was, ontvang (name verwyder):

"Dear Johan and [Analyst]

I have discussed the matter of Johan’s assertions with [Person X], the founder of [Person X's website] and [Person X's magazine] who is a well established journalist in his own right.

I have also done research to assess the validity of Johan’s claims or criticisms against the article in question [...] My and [Person X's] viewpoint is Johan’s accusation of plagiarism is groundless and without merit."

Lees dit weer.

"Research".

Minder as ‘n dag later.

O, wee.

Daar is nie werklik 'n manier waarop enigiemand navorsing oor die betrokke onderwerp kan doen en nié ontdek dat konsepte soos permission marketing, stamme en nismarke niks nuut is nie. Godin se hele Tribes (2008), sowel as verskeie van sy ander publikasies en talle van sy bloginskrywings, maak dikwels melding hiervan. Trouens, die idee dat die samelewing na afloop van die modernisme gefragmenteerd is in verskillende "stamme" is 'n narratief wat sigself al vir dekades bekend is.

Hoe dit ookal sy: die joernalis se "navorsing" het, volgens haar e-pos, bestaan uit die opinie (!) van een enkele persoon, sowel as (so vermoed ek, hoewel dit onregverdig sal wees om dit aan te voer sonder bewyse) 'n paar Google-soektogte. Aldus: sy het haar stellings op hoorsê berus.

Neem 'n oomblik en verteer dit.

Iemand het iets gesê en, bloot omdat die joernalis die betrokke persoon vertrou het, het sy geglo dis die waarheid. And here’s the clincher: sou die bogenoemde verhaaltjie nie slegs 'n e-pos behels het nie, maar 'n volbloed nuusberig in 'n dagblad, sou derduisende mense die "feite" wat vir hulle opgedis is as geverifieerd aanvaar, omdat hulle onder die indruk is dat koerante hulle data nagaan vir foute. ‘n Kenner of twee uit ‘n paar duisend mense mag dalk die foute optel en ‘n brief daaroor skryf om te kla (daar mag selfs ‘n erratum verskyn), maar vir die res van die koerant se lesers sal die foute gekonstateer wees as feite.

Omdat iemand geluister het na iemand anders wat ‘n opinie gehad het.

'n Groot bohaai is al die afgelope paar jaar opgeskop oor koerante wat besig is om uit te sterf. Dit is inderdaad al ou nuus dat mediamaatskappye se inkomstemodelle verouderd is en nie werklik met die internet se bykans gratis vloei van inligting kan kompeteer nie. Almal weet joernaliste kry swaar. Almal weet Rupert Murdoch sanik en dreig om die internet toe te maak. Almal weet die New York Times het onlangs 'n paywall vir hulle webtuiste afgekondig.

Wat almal skynbaar nie besef nie, is dat die einste koerante wat sommige so dringend wil beskerm, in sommige gevalle nie eers noodwendig beskerming verdien nie. Al wat nodig is vir 'n storie om die waarheid te verdraai, is 'n joernalis (dikwels met goeie bedoelinge) wat onkundig oor 'n spesifieke veld is, maar opdrag gekry het om ‘n storie daaroor te skryf.

Dis immers een ding om 'n binneband in die pad buite 'n plakkerskamp te sien brand en af te lei die inwoners betoog teen slegte dienslewering. Dis 'n heel ander storie om oor spesialisvelde, waarvan jy duidelik niks weet nie, verslag te lewer.

As gerespekteerde joernaliste begin om navorsing met opinie te verwar, is dit dalk tyd om die lof wat so dikwels deur voorstaanders van die sogenaamde "tradisionele media" aan joernalistiek toegedig word, te heroorweeg.

* Johan Swarts is 'n skrywer, vervaardiger en sosiale mediakenner. Hy is 'n behendige fabriseerder van digitale media, lief vir filosofie en verknog aan musiek. Sy blog is te vinde by http://gormendizer.co.za 

- Bron: Nuus24.com

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.

     Vertel 'n vriend van ons  

 

 Tuisblad                    Skryfkursusse                    Blitskursusse

Sluit venster