Welkom by SA Vryskutskrywer - Ontmoet jou mentors
Elsabe de Beer
Ek is ‘n doodgewone oud-onderwyseres met doodgewone drome wat my lewe lank nog absoluut mal was oor lees, skryf, gedigte en Afrikaans. Getroud met 'n wonderlike man, ouma van drie en leef om te skryf. Ek skilder ook graag so tussen die skrywery deur.
Kreatiewe mense is mos maar so, ek sal eerder die opwasbak vol skottelgoed los en gaan sit en skryf as ek ‘n idee in my kop kry.
Van my kortverhale is opgeneem in gesamentlike bundels, en ek het al drie kortverhaalbundels gepubliseer: Petro se klavier en ander verhale, My klippie in die Karoo, en my nuutste bundel, Om jou eie baas te wees en ander stories.
My boeke gaan gewoonlik oor doodgewone mense en dinge wat ek waargeneem het. Dit is nie net een storie nie; ek hoor as iemand iets vertel en skryf dan daar óm ‘n storie. Baie van my stories is ware verhale uit my lewe, soos die storie “Herinneringe van ‘n Juffrou” - dit is regtig hoe ek skoolhou onthou.
“Toks uit 'n Boks” is ‘n storie wat ‘n ou oom by die kerk vir my vertel het van wat met hom gebeur het.
Ek het die pad van self-publikasie by Groep 7 gevolg. Jy moet jou eie buiteblad, bladuitleg, ISBN-nommer, en proeflees, doen. Dit was vir my ‘n heerlike leerporses en ek sal dit vir enigiemand aanbeveel. Groep 7 neem nie kopiereg op jou stories as jy op hierdie manier publiseer nie, so ek kan nog steeds my stories enige plek gebruik.
Die dag toe ek my eerste proefboek van hulle ontvang het, was ek vreeslik in my skik. Dit was uiters professioneel gedruk en ek sal dit met graagte aan ‘n biblioteek gee om op hulle rakke te plaas.
My grootste trots is dat ek al talle kursusse by
Leoni Benghiat gedoen het en haar nog altyd as baie streng, maar vriendelik
ervaar het. So het ek ook proefleeskursus by haar gedoen. Dit is ‘n belewenis
vir enigeen wat lief is vir Afrikaans!
“Writer’s block” dink ek gebeur met almal. Ek gaan sit net en skryf sommer wat in my kop kom, soms sommer met pen en papier, dalk kom daar ‘n storie. Skryf is skryf, skryf, skryf, herskryf, herskryf!
My raad aan jong, onervare skrywers: Druk deur, skryf elke dag iets, mik vir jou eie bundel al neem dit hoe lank, doen dit net! Dit is ‘n heerlike gevoel om jou eie boek in jou hande te kan vashou, glo my!
Ek sou graag saam met Annelie Botes wou kuier. Sy skryf vir my baie goed, en haar uitdrukkings is pragtig! So sou ék wou skryf!
En Dana Snyman is ook een van my gunsteling skrywers, maar saam met hom sal ek versigtig wees vir 'n kuier. Ek dink hy luister baie fyn en gebruik jou later in ‘n storie! Maar dit is wat ek tog ook doen!
Elsabe is aanbieder by van ons Aanlynslypskole.
Boeke deur Elsabe:
|
|
|
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.